97 vas oor verkiesingsmisdade

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Altesaam 97 mense is in hegtenis geneem vir verkiesingsverwante misdade en 131 sake is geregistreer, het die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (Natjoints), Woensdag gesê.

“Die nasionale polisiekommisaris, genl. Riah Phiyega, oorsien vandag persoonlik die veiligheidsmagte se bedrywighede,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van Natjoints, in ʼn verklaring gesê. “Die Natjoints waardeer die feestelike en vreedsame gees waarmee die Suid-Afrikaanse gemeenskap vandag aan die verkiesing deelneem, ondanks lang rye in sekere gebiede.”

Die Natjoints bestaan uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Nasionale Vervolgingsgesag, die departement van gesondheid, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Eskom, die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), die intelligensie koördinasiekomitee en die metropolisie.

Makgale sê Natjoints is tevrede met die ontplooiing van beamptes by die onderskeie stempunte dwarsoor die land.

Mosotho Moepya, hoof verkiesingsbeampte, het vroeër aan verslaggewers by die OVK-uitslagsentrum in Pretoria gesê die verkiesing verloop “glad, vreedsaam en vinnig”. Spanning moes vroeër in sekere gebiede in Gauteng en die Wes-Kaap ontlont word.

Daar is streng veiligheidsmaatreëls by stempunte in informele nedersettings in Springs en Bekkersdal waar daar vroeër voorvalle van brandstigting voorgekom het; ook by ʼn informele nedersetting in Kaapstad en Manenberg op die Kaapse Vlakte. Militêre voertuie is na Bosbokrand in Mpumalanga ontplooi ná ANC-gevegte die afgelope paar weke. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.