99% van leerders in Wes-Kaap geplaas; skole nou stampvol

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê 99,43% van die leerders wat aansoek gedoen het vir plasing in gr. 1 en gr. 8 vir die 2024-skooljaar is reeds geplaas. Dit is altesame 120 778 aansoeke wat afgehandel is.

David Maynier, LUR vir onderwys in die provinsie, het egter opnuut benadruk dat skole in die Wes-Kaap nou stampvol is.

Die departement is nog besig met die verwerking van byna 700 (0,56%) aansoeke vir dié twee grade.

“Ons ontvang ook gereeld talle laat aansoeke, met 176 wat net die afgelope drie weke ontvang is,” sê Maynier.

Hy sê die departement het ook begrip dat dit ʼn stresvolle en angstige tydperk vir ouers is.

“Ons vra dat ouers saam met ons werk terwyl ons alles in ons vermoë doen om hul kinders so gou moontlik te akkommodeer. Ons ondersoek elke moontlike opsie om ʼn plek vir die leerders aan die begin van die nuwe skooljaar te vind.”

Maynier sê ondanks die hap van R716,4 miljoen uit die departement se begroting werk hulle hard om die aantal beskikbaar plekke by skole in die Wes-Kaap uit te brei.

“Ons sal steeds nege nuwe skole bou om die leerders te akkommodeer wat vir die 2024-skooljaar aansoek doen, sowel as 496 bykomende klaskamers in gebiede met ʼn groot aanvraag vir plasing.

“Ons hersiene plan beoog om 608 bykomende klaskamers aan skole regoor die provinsie te verskaf, wat steeds meer as dubbel die gemiddelde getal is wat ​​voor 2022/’23 jaarliks gebou is – ondanks die besnoeiing aan die infrastruktuurbegroting.”

Amptenare en skole werk ook hard en onder uiterste druk om seker te maak dat elke kind ʼn plek in ʼn skool kry.

“Ons het baie moeite gedoen om ouers aan te moedig om betyds aansoek te doen tydens die toelatingsaansoekvenster, tussen 13 Maart 2023 en 14 April 2023. Ons het ook seker gemaak dat mobiele registrasiestasies regoor die provinsie beskikbaar is, sodat ouers wat nie aanlyn kan aansoek doen nie, bygestaan word. Ons distrikskantore het selfs instap-aansoeke aanvaar nadat die aanlyn aansoeke gesluit het.

“Tog weet ons dat duisende leerders volgende jaar gaan opdaag wat nog nie in ʼn skool geplaas is nie.

“Ons weet nie waar hulle geplaas wil word nie, of wat hul grade, tale, ouderdomme of vakkeuses sal wees nie. Dit maak die beplanning van ons hulpbrontoewysing baie moeilik, en die leerders se ouers sal geruime tyd moet wag voordat hul kind geplaas word,” sê Maynier.

“Ons sal werk om elke leerder – vir wie ʼn aansoek ontvang word – te plaas, maar ons wil dit duidelik maak dat Wes-Kaapse skole stampvol is.

“Ons doen daarom ʼn beroep op ouers – wat nuwe of laat aansoeke indien – om geduldig te wees; hul kind sal moontlik nie voor die einde van die eerste kwartaal geplaas kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Susan ·

Die Weskaap en die DA moes baie meer aandag gegee het om kiesers op te lei en in te lig tydens die 2022 sensus. Almal het weggekruip, was rebels, wou nie aan die sensus deelneem nie en het die beamptes gevloek en weggejaag. Bitter min mense is getel en daarom word daar vir bitter min mense begroot. Nou is dit maar so dat die Weskaap minder geld het vir skole, paaie regmaak en infrastruktuur onderhou. Hopelik neem die Weskaap deel aan die volgende sensus sodat die regering meer akkuraat kan begroot vir onder andere mediese dienste, polisiebeamptes, skuilings vir armes, vroue en kinders, ens. Dienste wat JOU gaan help.

skurweberg ·

Ek glo die toelating en getalle, maar as ons landswyd kyk ontstaan daar een vraag by my. Hoeveel skole is gebou Om hierdie getalle te huisves. Bestaande skole gaan weer die spit moet afbyt. Oorvol skole het vir niemand enige waarde

Manie ·

@Susan, die sensus in Kaapstad was in baie gebiede oneffektief en nie noodwendig weens die inwoners wat nie saamgewerk het nie. In ons woonbuurt het ek net by 1 geleentheid ‘n groepie van 4 sensus opnemers gesien wat gestaan en gesels het. Die feit dat baie mense bedags werk en hulle nie laat in die middag by mense aangeklop het nie, het meegebring dat mense nie kon deelneem nie. Hulle moet dalk soos op ‘n stemdag, openbare plekke oopstel vir mense om laat middag, saans en oor ‘n naweek dit te kan doen.

Seef ·

Arme Susan. Regering akkuraat begroot? Besef jy jy leef in Suid Afrika.

kaplyn ·

@Manie, nou hoekom het hulle, wat geen sensus beampte gesien het, nie die aanlyn sensus vorms voltooi nie. Ons het en dit was pynloos, maklik en vinnig. Nee wat die Wes-Kaap het geen verskoning nie.

Nommer 7 ·

Almal vlug Weskaap toe omrede hul ontevrede is. As hul in Weskaap is, wil hulle die Weskaap verander om te wees soos waar hul vandaan kom!

Jaco ·

Ek is jammer maar so ‘n standpunt is niks minder as ‘n politiese skuif om goed te lyk. Feite in my lewe my dogter is deur laerskool sy het geen plasing gekry vir hoërskool en ja ons het regte proses gevolg in die regte tyd, al 5 hoërskole in ‘n 20km raduis van ons is vol al mag jy net vir 3 aansoek doen

Sy is nou in ‘n skool geplaas 69km van ons 1rigting so skool toe vat terug kom om te werk en weer gaan haal is 276 km ‘n dag, geen koshuis nie, wie het die tyd en geld vir dit.

So maklik om te sê 99.5% kinders is geplaas maar om ‘n kind in enige plek te plaas net om dit te kan sê 99% is verkeerd.

En ja ek is al 6 maande besig met WKOD en het verskeie e posse gestuur met minimale terugvoering behalwe om net na iemand anders te verwys net om weer verwys te word.

Jaco ·

Absolute leuens va DA en WKOD, ek het eerste hande ondervinding, die proses tot die letter gevolg van die begin af my dogter nog nie geplaas in ‘n skool naby ons nie en daarmee bedoel ek nie 270km ‘n dag ry nie, in konstante kontak met WKOD, hulle gee nie ‘n veer om nie en dis net politiekery om goed te lyk

KwaaiRooikop ·

Nommer 7, jy kon dit nie beter stel nie! Dis hartseer om te sien hoe die klein weskus dorpies wat eens stil, skoon en vol vriendelike mense was, nou al hoe meer begin lyk en klink soos maar net nog ‘n stad in afrika…

Republikein in die Wes Kaap ·

KwaaiRooikop, onafhanklikheid is krities belangrik. Die momentum bou op. Ons durf nie toelaat dat die WK sink nie. Gebeur dit het ons niks.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jaco, julle is die slagoffers van menseregteoortredings. Wat die departement doen druis waarskynlik in teen die grondwet. Gaan klop by Afriforum en Kaapseforum aan vir hulp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.