AA betreur Malcolm Kinsey se afsterwe

Malcolm Kinsey (Grafika: AA-Kinsey-verslag, kinseyreport.co.za)

Die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het Maandag gesê hy betreur die afsterwe van Malcolm Kinsey wat sedert 2019 verantwoordelik was vir die AA-Kinsey-verslag.

Kinsey is Woensdag in KwaZulu-Natal oorlede.

Kinsey (76) het sedert die laat 1980’s die Kinsey-verslag saamgestel oor die pryse van voertuigonderdele in Suid-Afrika. Die AA het in 2019 sy vennootskap met hom begin om die AA-Kinsey-verslag saam te stel.

“Malcolm was ʼn bekende in die motorbedryf,” het Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, in ʼn verklaring gesê. “Sy jaarlikse verslag was ʼn gesaghebbende en gerespekteerde publikasie. Hy was passievol oor die verslag en het dit baie noukeurig saamgestel. Hy het seker gemaak alle besonderhede word geverifieer en nagegaan. Hy was altyd bereid om sy bevindings te bespreek en was altyd nederig wanneer hy geloof is. Hy was uiters besorg om nuttige inligting te verskaf aan gebruikers.”

Groenewald sê sy afsterwe laat ʼn groot leemte in die motorbedryf en hy sal gemis word deur veral diegene wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk. “Ons is platgeslaan oor die nuus.”

Die AA betuig sy meegevoel met Kinsey se familie, vriende en kollegas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.