AA reageer op probleme met rybewyse in Pretoria

Argieffoto (Foto: Arrive Alive)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het Donderdag gesê hy neem met kommer kennis van die voortslepende probleme met die uitreik van rybewyse by verskeie lisensiëringstasies in Gauteng, veral in Pretoria.

“Ons is bewus daarvan dat persone nie in staat is om hul rybewyse by sentra in Pretoria te hernu nie, aangesien dié sentra beperkte kapasiteit het om hulle te help, of in die geval van Waltloo-sentrum, algeheel opgehou het om rybewyse uit te reik weens die diefstal van hul rekenaars,” het die AA in ʼn verklaring gesê. “Ons is dankbaar dat die Stad Tshwane voorsiening maak om persone by ander sentra te help, maar ons is besorg dat dit nie die agterstand verlig wat tans opbou nie.”

Alhoewel Waltloo-sentrum nie meer beskikbaar is nie, is die sentra by Akasia, Bronkhorstspruit en Centurion nog beskikbaar vir motoriste wat hul rybewyse wil hernu. Inwoners van Pretoria kan ook hul rybewyse hernu by enige ander lisensieowerheid in die provinsie.

Die AA het gesê hy is in kennis gestel dat privaat optometris-oogsertifikate (ook bekend as die Pers Sertifikaat), by alle stasies in Pretoria aanvaar word. “Dit verminder die wagperiode vir aansoekers, sodat hulle nie oogtoetse by die sentrum hoef te doen nie. Neem kennis dat hierdie sertifikate nie ouer as drie maande mag wees nie, om geldig te wees wanneer dit geprosesseer word.”

Die AA het gesê hy verneem talle persone sal nie hul rybewyse hernu nie, omdat hulle nie na ander toetssentra kan reis nie, of nie genoeg tyd het om ure lank in ʼn ry te staan om die proses af te handel nie.

Die AA sê hy glo die huidige krisis kan beskou word as ʼn geleentheid van die owerhede om alternatiewe metodes te soek hoe motoriste hul rybewyse kan hernu. Die organisasie sê dit sal die druk verlig op die plaaslike regering om dié mandaat te vervul, en sal dit vir motoriste makliker maak om wettig te bly op die paaie.

“Ons raad aan motoriste is om die vervaldatum van hul rybewyse na te gaan en seker te maak dat hulle betyds beplan om hul rybewyse te hernu. Bestuurskaarte kan by enige lisensiëringsentrum in Gauteng hernu word, nie net in Tshwane nie. Praat met familie en vriende oor hul ervaring – waarheen hulle gegaan het, en wanneer,” stel die AA voor.

Die AA raai motoriste ook aan om vroeër by die lisensiëringsentra op te daag, en al die nodige dokumente saam met hulle te neem. Dit sluit die volgende in:

– Voltooide oogtoetsvorm van jou optometris (aanbeveel, nie vereis nie)
– Voltooide DL1-vorm
– Identiteitsdokument
– Gesertifiseerde afskrif van jou identiteitsdokument (word net by sekere sentra vereis)
– Vier ID-grootte foto’s
– Onlangse bewys van verblyf (munisipale of telefoonrekening)
– Kontant vir die uitreik van die kaart

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Michael ·

Verleng die tyd na 10 jaar pleks van 5 en gee die mandaat vir polisie stasies in jou area met gesubsideerde oogtoets by plaaslike oogkundiges wat by elke winkelsentrum is.

Asjas ·

Bronkhorstspruit is nagmerrie en nou verstaan ek hoekom. Ek gee dit daaglik so uur of wat in die ry dan moet ek maar weer terug kantoor toe.

Slimkop ·

Die oplossing is eenvoudig.
Verleng die geldigheid van bestuurslisensies.
Dit koop tyd om die krisis af te weer en die stelsel te herstel en doeltreffend te kry.
Ai, dis só eenvoudig, eintlik!

Dikkes ·

Vandag ‘n week terug het ek voor Watloo se hek gaan sit net na vyf die oggend, net om teen 8 uur te hoor, hulle kan my nie help nie, ry toe Akasia toe, net om te hoor “sorry they cut the line already” Woensdag oggend gaan staan ek 5 uur in die ry, meer as 7 ure gestaan – dit net om jou lisensie te gaan hiernu!! Wens mens kon dit ook sommer online doen, as jy al jou dokumente kan scan, kan jy dit mos net stuur as attachment, Deesdae kan mens enige iets ONLINE doen!!

Buurman ·

Het lankal al gedink om lisensie met 10 jaar te verleng wat die probleem gedeeltelik sal oplos daarna heraansoek sommer by Checkers……………

Pietman ·

Behalwe vir die oogtoets dien die hernuwing van die rybewys geen doel nie. Dis net nog ‘n belasting.

Dries ·

Stem saam , met tyd kom ervaring. Dan moet ons seker elke 5 jaar ons tersiere kwalifikasies ook oor gaan doen . Hoe langer jy werk , hoe meer ervaring , hoe meer bevordering. HULLE kry maar net nie die wiel anders ontwerp nie.

Veritas ·

Pietman, wat my bekommer is dat die beamptes wat die oogtoetse doen, nie behoorlik opgelei is nie. Voorheen was oogartse, in samewerking met die liensie-owerhede, toegelaat om die toetse te doen en ‘n lisensiebeampte was daar gestasioneer om die admin te doen. Dié stelsel het uitstekend gewerk en daar was geen toustanery nie aangesien die aansoeker ‘n afspraak moes maak. Die oogartse het weer voordeel getrek deur die brille sommer op die perseel te maak. Die sisteem het seepglad verloop en die wagtyd vir die lisensie was maksimum 3 weke . Daar was egter nie geleentheid vir korrupsie nie en dus het die lisensie-owerhede dit gestaak.

Wilma ·

Is die 4 foto’s nog ‘n vereiste? Ons is ‘n paar wat onlangs ons bestuurderslisensies hernu het en geen foto’s is gevra nie. Slegs waar ‘n tydelike lisensie uitgereik is, is een foto vereis.

Swannie ·

Nee, foto`s nie meer `n vereiste. Dit word by die sentrum geneem waarna dit direk in rekenaar gelaai word.

wilma ·

As jy jou motor lisenie wil hernu is dit net so n groot probleem by die poskantore wat nie papier het om dit druk nie. Ry van Pretoria Noord na Ondersepoort dan het hulle nie papier.

Ander Annie ·

Wilma dit het met my ook gebeur. Nou vat ek maar papier saam. Ek vat maar fotos saam, want hulle kan jou behoorlik op en at stuur as jy now alles het nie.

Marinda ·

Ook ‘n groot probleem met die uitreik van nuwe lisensie kaarte by Mabopane Toets Sentrum….my dogter moes al drie keer nuwe vinger afdrukke gaan indien wat elke keer verlore gaan….geen kontak nommers werk nie. Het iemand raad?

dolphin ·

stem saam met Wilma maar dit moet in die oggende vroeg ry staan het vir foto gekoop toe daar binne kom hoef nie foto ekstra gee nie daar is wat foto afgeneem dis mors geld van die buite foto geneem is.wat is verskil.

tokkie ·

Hoekom nie soos die ids en paspoorte. Dit gaan baie vinnig.

Chevy ·

Stem saam, dit sal beter wees om lisensies te verleng na 10 jaar en dan n punte sisteem in te voer.
Na elke oortreding byvoorbeeld snelheidsoortreding word n punt aangeteken op jou rybewys en na n punte telling van se 8 punte word jou rybewys ingetrek en moet jy weer van vooraf begin (teorie en praktyk).
Dit sal mense meer bewus maak dat jy baie suinig moet wees met jou rybewys en jou meer aan die verkeersreels hou. Moet geld vir alle weggebruikers waar taxi en bus bestuurders om die 3 jaar hul lisensies moet hernu met aparte ry opleiding.

GATVOL ·

Mense staan saam asb..VERLENG DIE HERNUWINGSTYD gedurende hierdie krisis. Ek is laas week gestop en die beampte wou NIKS verstaan nie, ek het al die dokumente in my motor…My jare se moeilikheid gegee, na ek in trane was het my laat gaan. Sttan saam en maak n petisie. Wie kan elke dag sie brandstof uitry en afvat van jou werk om net teruggestuur te word?

GATVOL ·

Ek moet Motorkar Lisensie, Bestuurlisense, Sassa herneui, Steve Biko, Paspoort en Visa doen binne die volgende paar weke… HOE :( :(

Asmain ·

Sterkte met die paspoort…ons wag nou al van April af vir nuwe paspoorte…

Andre ·

Dit is alles vir die geld. Sover ek weet, destyds 1998 met die begin van die stelsel het Schabir Shaik se Face Technologies die kontrak (R264m) gekry. Face Technologies was oorspronklik begin deur Denel (Infoplan IT / Denel Informatics, nou SITA) op die gronde van Infoplan. Schabir was toe verkoopsman by Face Technologies. Helfde van die destydse lisensie koste het na Face Technologies gegaan. Toe volg die Wapenskandaal met dieselfde mense en vriende. En kyk waar is S.A. vandag. Geskiedenis bly altyd interessant. Of kan iemand my geheue weerspreek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.