AA wil weet wat die toekoms van e-tol is

(Argieffoto: ANA)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) hou vol die e-tolstelsel in sy huidige formaat sal ʼn mislukking bly omdat motoriste ʼn beginselvaste besluit geneem het teen die betaling van e-tol. Die organisasie is teleurgesteld oor vervoerminister Fikile Mbalula se uitlatings dat e-tol nie geskrap gaan word nie en dat ʼn oplossing gevind sal word.

The Citizen het Vrydag berig Mbalula het gesê “nasionale paaie moet in stand gehou word … die e-tolstelsel kan nie geskrap word nie”. Volgens die koerant het die minister bygevoeg: “Die finansieringsmodel wat ons as ʼn land ingestel het vir ons paaie word geraak deur ons houding jeens e-tol, maar ons werk daaraan en ʼn oplossing vir e-tol sal gevind word.”

Die AA sê die voorstel dat padfinansiering en -instandhouding ʼn situasie is wat slegs op e-tol gebaseer is, is misleidend omdat daar ander opsies beskikbaar is. “Die skrap van e-tol moet, in ons mening, nie lei tot ʼn gebrek aan instandhouding en ontwikkeling van die Gautengse hoofweg nie, dit beteken net dat alternatiewe finansiering gevind moet word,” het die AA bygevoeg.

Volgens die organisasie maak navorsing dit duidelik dat ʼn oorweldigende meerderheid van Gautengse motoriste nooit onder enige omstandighede e-tol sal betaal nie. Die AA stel voor dat die stelsel geskrap word en dat diegene wat in die verlede daarvoor betaal het, terugbetaal moet word.

“Ons het ook versoek dat ʼn deel van die bestaande algemene brandstofheffing afgekamp word om die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek (GFIP) te finansier as ʼn meer volhoubare finansieringsmeganisme.”

Die AA sê die GFIP moet in die groter konteks van vervoeruitdagings in die provinsie beskou word en demokratisering van vervoer tot voordeel van almal – nie net privaat voertuie, soos tans die geval is nie. Die organisasie sê motoriste in die provinsie het nou ʼn finansiële las om ʼn hoofroete in stand te hou, maar daar word nie aan ander vervoerbehoeftes voldoen nie. Ander faktore moet byvoorbeeld ook in ag geneem word wanneer e-tolfinansiering oorweeg word.

Die organisasie het onder andere verwys na die kostes vir die Gautrein, wat slegs aan die vervoerbehoeftes van ʼn minderheid van inwoners in die provinsie voldoen. Die Gautrein word boonop teenstrydig met die regering se beginsel van gebruiker-betaal bedryf. “Die Gautengse departement van vervoer het in 2020 ʼn bedrag van R1,9 miljard aan Bombela oorbetaal – die privaat maatskappy wat Gautrein bedryf as deel van ʼn sogenaamde beskermingswaarborg. Dié beskermingswaarborg word deur die provinsiale regering aan Bombela oorbetaal as passasiersvlakke op die Gautrein laer is as vasgestelde vlakke. Die Gautengse departement van vervoer se begroting vir 2020 was R7,7 miljard, so die geld wat aan Bombela oorbetaal is, was ʼn volle 25% van die provinsie se vervoerbegroting. Dié geld kon tog sekerlik beter aangewend gewees het vir projekte soos die GFIP wat daagliks deur meer mense gebruik word as die Gautrein?”

Die AA sê hy is ook besorg dat geen formele besluit oor die pad vorentoe wat e-tol betref, aan die publiek gekommunikeer is nie. “Sanral het in 2019, maande voor die verkiesing, aangekondig dat hy die proses sal opskort om agterstallige skuld in te haal. Nou, kort voor die November-verkiesing, is daar weer gerugte daarvan. Die kabinet het ʼn verpligting om die publiek in kennis te stel van die toekoms van die stelsel en dit moet so vinnig as moontlik gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

Die vraag moet seker wees watter voordeel die anc en die minister daaruit kry.

Hardekwas

Die toekoms van e-tol is baie eenvoudig. Ons gaan steeds nie betaal nie.