Aanbeveling vir geen meer leeus in aanhouding in SA

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

Die verslag van ʼn hoëvlakpaneel wat aangestel is om die beleid, regulatoriese maatreëls, gebruike en beleidsposisies wat verband hou met die jag, handel, aanhouding, bestuur en hantering van olifante, luiperds, leeus en renosters, is Sondag bekend gestel.

Die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, het die verslag in Pretoria bekend gemaak.

Creecy sê die paneel het bevind dat die bedryf vir leeus in gevangenskap gevare inhou vir die volhoubaarheid van die bewaring van leeus in die natuur. Dit lei tot ʼn negatiewe uitwerking op ekotoerisme wat sorg vir ʼn veel groter bydrae tot die finansiering van bewaringsprojekte.

Die minister sê dit het ook ʼn negatiewe uitwerking op die egte, wilde jagbedryf en die gevaar wat die handel in leeudele inhou om stropery en onwettige handel te bevorder.

“Die paneel beveel aan dat Suid-Afrika nie leeus in gevangenskap teel, aanhou of dié leeus of wat daaruit spruit kommersieel gebruik nie,” sê Creecy.

“Ek het die departement gevra om stappe te doen om die verseker die nodig konsultasie en inwerkingstelling vind plaas.”

Nog een van die paneel se aanbevelings is dat leeus wat reeds in aanhouding is, van kant gemaak word.

Creecy sê dit is belangrik om te benadruk dat die aanbevelings nie teen die jagbedryf gekant is nie.

“Die voorkoming van die jag van geblikte leeus is in die belang van die egte wildjagbedryf en gaan die jag-ekonomie, ons internasionale aansien en die werksgeleenthede wat dit skep, ʼn hupstoot gee.”

Die verslag stippel 18 doelwitte en 60 aanbevelings uit. Creecy sê konsensus is oor al die aanbevelings bereik, behalwe dié wat handel oor leeus in aanhouding en die teel van renosters.

“Wat betref leeus in gevangenskap en renosterteling in aanhouding – en waar daar ʼn meerderheid- en minderheidsaanbeveling was – gaan ek ná oorweging die meerderheidsmening oor die kwessie in werking stel.”

Creecy sê noudat die aanbevelings goedgekeur is vir inwerkingstelling, gaan dit lei tot ʼn rigtingverandering.

“Deurslaggewend hiervoor is die transformasie van die bedryf, die hernuwing van die biodiversiteits-ekonomie deur ʼn fokus op Groot Vyf-gebaseerde ekotoerisme en die egte jag van wilde diere,” sê Creecy.

Sy sê daar gaan ook gewerk word om voordele vir gemeenskappe te verbeter en maniere gaan gevind word om landelike sosio-ekonomiese ontwikkeling wat op die natuurlewe-ekonomie berus, te bevorder.

Die minister sê die verslag gee ook groter duidelikheid oor beleid.

“Die inwerkingstelling van die aanbevelings gaan die gebruike in die wildlewebedryf hervorm, bewaring van die omgewing en van dié spesies verhoog, landelike ekonomieë steun en tradisionele gebruike, leierskap en genesers bemagtig.

“Laastens gaan die implementering van die aanbevelings lei tot beskerming en die bevordering van Suid-Afrika se internasionale aansien, ʼn herposisionering van die land as ʼn selfs meer mededingende voorkeurbestemming vir ekotoerisme en verantwoordelike jag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Hoekom die leeus wat klaar in aanhouding is, vankant maak? Sorg vir hulle en versorg hulle. Hulle het nie gevra om aangehou te word nie. Mens maak nie diere sommer net dood nie!!!

Oros Soros

Nou wie het die verslag opgestel en wie is die soenaamde kundiges op die paneel?

Oomniklaassevriend

En die leeus in die dieretuine gaan met plastiek leeus vervang word.

Thom

Ek kan nie glo dat die ANC verantwoordelik is vir so’n weldeurdagte studie nie !!

Louise

Kan daar nie n petisie opgetrek word teen die feit dat die Leeus wat klaar in aanhouding is van kant gemaak word. Het hierdie vrou haar somme gemaak. besef sy hoeveel leeus is in aanhouding? Nee man dis belaglik en wat word bedoel met in aanhouding? want volgens my is enige dier agter n heining in aanhouding. dis n groot bekommernis dat hierdie mense sommer net so besluit om al die Leeus in aanhouding van kant te maak. Is daar instansies wat hulle kan vat en wat van die kostes, die mense wat leeus aanhou het hulle beslis nie gratis… Lees meer »