Aanbeveling vir nuwe ouditeur-generaal gemaak

Tsakani Maluleke. Foto: @SAgovnews/Twitter

Die nasionale vergadering het Dinsdag eenparig besluit om die huidige adjunk- ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, vir die president aan te beveel as die nuwe ouditeur-generaal van Suid-Afrika.

Die besluit volg ná oorweging en goedkeuring van die verslag van die ad hoc-komitee oor die aanstelling van ʼn ouditeur-generaal, het Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, in ʼn verklaring gesê. ʼn Omvattende proses is gevolg met publieke insette vir moontlike kandidate, publieke kommentaar en onderhoude uit 71 aansoeke, waarvan agt persone op ʼn kortlys geplaas is vir onderhoude.

“Die komitee was tevrede met Maluleke se onderhoude, vermoë, ervaring en geskiktheid vir die pos. Haar ervaring as die huidige adjunk- ouditeur-generaal sedert 2014 was ʼn bykomende voorsprong asook haar ervaring en kwalifikasies; Maluleke is onder andere ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester.”

Wouter Wessels, VF Plus-LP, het intussen gesê die party steun die aanbeveling.

“Gegewe die vlakke van korrupsie, staatskaping en gebreke in plaaslikeregeringsbestuursvlakke in Suid-Afrika, is die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) ʼn kritieke skans in die beskerming van Suid-Afrika se fiskus. As ʼn Hoofstuk 9-instelling speel die kantoor ook ʼn groot rol in die beskerming van demokrasie in die land,” het Wessels bygevoeg.

Benewens die feit dat Maluleke die eerste vroulike OG sal wees, is sy volgens die VF Plus ook die mees geskikte kandidaat vir die pos. Die VF Plus was lid van die ad hoc-komitee wat onderhoude met kandidate gevoer het en die aanbeveling vir Maluleke se aanstelling gemaak het.

“Maluleke het tydens haar dienstermyn van sewe jaar as adjunk-OG bewys dat sy oor die nodige vermoëns beskik om dié kantoor te lei, dat sy onafhanklik en in die beste belang van die oudit-professie en die kantoor van die OG optree. In die lig van veranderinge aan die Openbare Ouditwet wat meer verantwoordelikhede en magte aan die OG gee, is dit belangrik vir die kantoor om hierdie magte aan te wend om seker te maak belastinggeld word op die beste wyse moontlik aangewend.”

Die termyn van die huidige OG, Kimi Makwetu, verstryk einde November en die VF Plus wil hom ook loof vir die goeie werk wat hy gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hennie J

Wel gedaan en baie geluk Me. Maluleke. Gebruik gerus die kantoor an die openbare beskermer as voorbeeld van hoe en hoe dit nie gedoen moet word nie. Vorige OB van hoe dit gedoen moet word en huidige ob van hoe dit nie gedoen moet word nie.