‘Aanbevelings vir munisipale belasting is irrasioneel’

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die jongste aanbevelings van die finansiële en fiskale kommissie oor wyses waarop munisipaliteite hul inkomste kan aanvul, word veroordeel as “irrasioneel en totaal van die Suid-Afrikaanse werklikheid verwyder”.

Hierdie kommissie adviseer die parlement en die regering oor staatsbesteding en inkomste. Die jongste aanbevelings om munisipaliteite uit hul kontantverknorsing te help, sluit onder meer belastings op parkeerareas, brandweerheffings, heffings op advertensieborde by ondernemings, sowel as heffings op hotelbeddens in.

“As redes vir hierdie voorstelle word onder meer aangevoer dat die sentrale regering weens stygende begrotingstekorte nie meer sy finansiële steun aan munisipaliteite kan volhou nie,” sê Michal Groenewald, woordvoerder van die VF Plus. Agterstallige belastinginvordering in plaaslike regerings beloop reeds R150 miljard.

“Die feit dat ANC-beheerde munisipaliteite om politieke redes nie die wil het om effektief belasting onder hul kiesers in te vorder nie, word verswyg. Die volgende plaaslike verkiesing is immers om die draai.

“Chaotiese rekordhouding en die powere bestuur van munisipale finansies weens kader-aanstellings word ook nie genoem nie. So ook nie die korrupte stroping van die fondse wat wel beskikbaar is nie,” het Groenewald bygevoeg.

Die beginsel dat daar effektiewe dienslewering in ruil vir die betaling van enige belastings en heffings moet wees, word ook deur die kommissie geïgnoreer. Die vervalle stand van munisipaliteite landwyd spreek vanself.

Groenewald het gesê die aanbevelings kom op ʼn tydstip dat sakeondernemings en werkskeppers op hul knieë gedwing word deur ʼn rits irrasionele afsonderingsregulasies wat die ANC-regering op hulle afdwing. “Nou word van dieselfde ondernemings verwag om verdere onsinnige heffings en belastings te betaal om korrupte munisipaliteite staande te hou. Dit is gekkigheid.”

Die VF Plus het reeds gewaarsku dat die burgery van Suid-Afrika voos betaal is aan belastings en heffings, sonder dat hulle enige waarde ontvang. Die indruk dat hulle bloot korrupsie en bedrog finansier, lei ook tot ‘n groeiende weerstand onder belastingbetalers.

“Die kommissie en die regering moet ophou met hul onverantwoordelike sosialistiese wensdenkery en die werklikhede van die Suid-Afrikaanse ekonomiese situasie erken. Alles behoort in die stryd gewerp te word om ondernemings, belastingbetalers en Suid-Afrika se belange eerste te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Buks ·

Hoekom skryf hulle nie meer verkeersboetes uit in die dorpe nie. En parkeermeters. In ons dorp (Bela-Bela) is daar geen parkeermeters meer nie. Motoriste en taxis ry soos hulle wil jaag oor stopstrate parkeer in die pad om passasiers op en af te laai maak u-draaie waar hulle wil dis chaoties. Dan gooi die munisipaliteit spoedwalle wat so skerp is jy moet stop voor jy kan oor kruip in plaas van om slaggate met daardie teer op te vul. Hulle kan baie geld in deur spoedlokvalle in die woon areas en binne die dorp uit te sit.

Johan ·

Ag Vader,gee ons hoop! Is so iets moontlik en wettig nà ñ positiewe meningsopname? Die bruin mense hier is die meerderheid en behoort te regeer nà ñ wettige verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.