Aanbieding lei tot stormloop by laerskool, 19 beseer

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

Altesaam 19 leerders is Vrydagmiddag in ʼn stormloop by ʼn laerskool in Midrand in Gauteng beseer.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het by ʼn laerskool in Ivorypark plaasgevind.

“ER24 en ander nooddienste is na die skool ontbied nadat daar vermoedelik ʼn stormloop plaasgevind het,” het Meiring gesê.

Die leerders is vir geringe tot matige beserings behandel voor hulle deur ambulanse na verskeie hospitale in die omgewing geneem is vir verdere behandeling.

“Gelukkig is daar geen ernstige of noodlottige beserings aangemeld nie,” het Meiring gesê.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het die voorval bevestig.

Hy het gesê die beseerdes is leerders tussen graad 4 en graad 7 aan Ivory Park Primary. Voorlopige ondersoek dui aan dat die voorval plaasgevind het tydens ʼn mobiele wetenskap-aanbieding wat deur die skool en City Parks georganiseer was.

“City Parks het ʼn spesifieke item gedemonstreer. Leerders aan die agterkant het vorentoe gedruk om te kyk wat aangaan. Gevolglik is sommige leerders gestamp en van hulle het oor mekaar geval. Die aanbieding is daarna dadelik gestaak,” het hy gesê.

Volgens Mabona is al die leerders reeds ontslaan. Die departement is in verbinding met die kinders se ouers en voogde en sal hulle verder bystaan soos benodig.

“Ons vra om verskoning vir die betreurenswaardige voorval,” het Mabona bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.