Aandklokreël: Is dit grondwetlik, en nodig?

Amper geen motors ry op die N1-hoofweg in Gauteng nie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

As deel van sy pogings om die gevreesde Covid-19-pandemie hok te slaan, het die regering reeds verreikende stappe gedoen om die siekte te stuit. In die proses is Suid-Afrikaners se lewe omvergewerp en het talle vryhede in die slag gebly, waarskynlik net tydelik.

Nou is die verslapping van sommige maatreëls ter sprake, maar daarmee saam gaan ʼn aandklokreël heel waarskynlik ingestel word om bewegings in te perk in ʼn verdere poging om die verspreiding van die dodelike virus te bekamp.

Maar wat is ʼn aandklokreël en is dit grondwetlik regverdigbaar om die inwoners van die land so te dwing om tuis te bly – al is dit net saans?

Prof. Elmien du Plessis, ʼn kenner van die Grondwet aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, is ook nog onseker oor presies wat die aandklokreël gaan behels.

“Ons weet nog nie presies nie, want die regulasies word eers vandag (Donderdag) gepromulgeer. Maar dit blyk dat dit beteken dat mense wat nie deel is van vlak 4 se noodsaaklike dienste nie, nie ná 20:00 en voor 05:00 uit hulle huise mag wees nie,” sê Du Plessis.

Is ʼn aandklokreël wettig?

Sosiale distansiëring in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

“Die regulasies (ingevolge waarvan dit afgekondig is) is wettig ja, maar dit beteken nie dit is reg of grondwetlik nie. Totdat die regulasies in ʼn hof getoets word, bly dit staan as wet, en moet dit nagevolg word.

“Dit kan in die hof getoets word op grond van administratiefreg waar die aard van die regulasies getoets kan word, en of dit binne die strekking van die Rampwet val. Dit kan ook getoets word teen die Grondwet – die regulasies maak inbreuk op ons fundamentele regte, en enige inbreuk moet geregverdig word in terme van die algemene beperkingsklousule in die Grondwet, art. 37. Die vraag is – is die bepalings proporsioneel tot die doel wat dit wil bereik, en is daar ‘less invasive means’ om die doel te bereik. Dit kan wel wees dat dit ongrondwetlik is, maar dit sal afhang van die redes wat die staat gee hoekom dit nodig is, en of dit die hof oortuig. Maar dit moet howe toe gaan om getoets te word, en dan ongrondwetlik verklaar te word, voor dit nie meer wet is nie,” meen Du Plessis.

Volgens Du Plessis is die regering by magte om ʼn aandklokreël in te stel.

“Die Rampwet maak voorsiening daarvoor dat die staat (en deur regulasies) mense se beweging beperk. Die Rampwet is ʼn wet wat voorsiening maak vir die bestuur van ʼn ramp. Die inperking van mense se beweging moet dus wees vir die doel om die ramp te bestuur. Die staat sal weereens moet bewys dat dit nodig is om ʼn aandklokreël in te stel om die ramp in daardie opsig te bestuur. Op grond van die redes wat tans beskikbaar is vir die instelling van ʼn aandklokreël, glo ek dit is waarskynlik nie nodig nie.”

“Verkeerde beginsels vir toepassing daarvan”

Piet le Roux. Foto: Sakeliga

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen die verkeerde beginsels word toegepas as dit kom by die inperkingsmaatreëls.

“Ons glo sterk aan die bepalings van die Siracusa-beginsels wat deur die Wêreldgesondheids-organisasie (WGO) toegepas word. Hierdie beginsels is internasionaal aanvaarde riglyne waaraan wetgewing en regulasies in ramp- en noodtoestande moet voldoen. Dit is reeds drie keer in Suid-Afrikaanse regspraak toegepas, onder meer juis in verband met die inperking van mense met aansteeklike siektes. Die huidige inperkingsregulasies voldoen geensins aan die vereistes van duidelikheid, noodsaaklikheid en deursigtigheid van die Siracusa-beginsels nie. Die huidige regulasies is onverstaanbaar kompleks en arbitrêr van aard, wat beteken dat welmenende mense skielik almal die risiko loop om misdadigers te word.

“En dit geld vir die voorgestelde aandklokreël ook. Dit voldoen nie aan die beperkings van die Siracusa-beginsels nie, in besonder dat die aandklokreël nie aan ʼn duidelike gesondheidsvoordeel gekoppel word nie, asook oormatig en ontoepasbaar is.”

Du Plessis meen egter dat art. 37 van die Grondwet die meeste van die beginsels vervat.

“Ek dink dit sou beter wees om dit in terme van art. 37 te doen. Dit gee ook ons howe ʼn oorsigkans. Internasionale reg word altyd gebruik om wetgewing te verstaan, so dit is nie irrelevant nie. Wat wel goed is van die Siracusa-beginsels is die beginsel van wederkerigheid – wanneer die staat inbreuk maak op die regte van burgers, moet die staat vergoed sover moontlik, deur seker te maak dat die inbreukmaking mense nie swaarder tref as nodig nie. Dink hier aan die voorsiening van kos en ander ondersteuning,” sê sy.

Inperking van bewegingsvryheid

Dr. Theuns Eloff, onafhanklike kommentator, wys daarop dat die aandklokreël ʼn ernstige inperking van burgers se bewegingsvryheid behels, al is dit net in beperkte ure.

“Die wettigheid van die instel van so ʼn bepaling is nog nie deur ʼn hof getoets nie en die een of ander organisasie sal dit daardeur moet laat toets, indien hulle dit as onwettig wil beskou. Onder die bepalings van ʼn ramptoestand word geen menseregte opgehef nie – dit word wel ingeperk. Sou daar ʼn noodtoestand ingestel word, wat in elk geval net deur ʼn meerderheid stemme in die parlement gedoen kan word, kan sekere regte wel opgehef word.

“Daar was nie eintlik ʼn ander keuse as om die eerste drie weke van afsondering in te stel nie, maar daar moes vroeër na vlak 4 geskuif word. Die ekonomiese uitwerking van die afsondering op die hongeres en armstes van armes kan net verlig word as hulle kan werk en weer geld verdien,” meen hy.

Rebecca Sibanda, ʼn onafhanklike Grondwetkenner, glo die aandklokreël sal die reg op gelykheid, vryheid van beweging, vryheid van assosiasie en die vryheid om handel te dryf, verder inperk.

“Enige beperking van die regte in die Handves van Regte moet die toets van art. 37 in die Grondwet deurstaan wat bepaal dat sodanige beperkings noodsaaklik is. Daar moet ook bepaal word of die beperkings in ooreenstemming is met die doelwitte wat bereik wil word en of daar minder beperkende maatreëls is wat gebruik kan word om dieselfde doel te bereik. Die regering moet hierdie evaluering oorweeg voordat regte wat ingevolge die Grondwet gemaak is, beperk word.

“Die aandklokreël word ingevolge parlementêre wetgewing en regulasie wat daaruit voortvloei, ingestel. Tensy die instelling en polisiëring daarvan ultra vires is, lyk dit nie tans of dit onwettig is nie.”

Le Roux voorsien egter probleme met die aandklokreël.

“Ek dink die regering probeer met ʼn haelgeweer skiet wanneer fyn korrelwerk nodig is. Die regering is besig om die samewerking van die bevolking te verloor. Dit gaan waarskynlik tot baie magsvergrype lei wanneer die polisie dit arbitrêr toepas, asook ʼn ekstra gesondheidsrisiko, omdat dit juis beter kan wees om ekonomiese aktiwiteit oor dag en nag te versprei.”

Kultuur van menseregte noodsaaklik

Oor die betrokkenheid van die Weermag by die toepassing van inperkingsmaatreëls, insluitend die aandklokreël, is Sibanda ook omsigtig.

“Ek dink ʼn kultuur van menseregte moet in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Weermag ingeskerp word. Vir baie mense is hulle die eerste sigbare interaksie met die staat. As diegene wat verantwoordelik is vir die toepassing van die reg misluk om binne die parameters van die reg op te tree, dan het die regering misluk in sy mandaat om te beskerm en die waardes van die Grondwet te bevorder,” meen Sibanda. Volgens Eloff moet die ekonomiese gevolge van die landwye afsondering swaarder geweeg word.

“Dit is absoluut noodsaaklik dat die debat oor Covid-19 en die maatreëls verdiep word om die negatiewe gevolge van die huidige staat van inperking, insluitend toekomstige ekonomies verwante sterftes veroorsaak deur toenemende armoede, oorweeg moet word.

“Dit is ook belangrik dat pres. Ramaphosa die ekonomies verwante sterftes en swaarkry moet opweeg teen die gesondheidsverwante sterftes voordat hy en sy kabinet finaal besluit op die verslapping van die inperkingsmaatreëls om die ekonomiese herstel te laat begin en veral voordat hy raad aanvaar om die staat van inperking ná 30 April voort te sit,” was Eloff se mening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Willem ·

Ek stem vir die aandklok reël. Ek stem net nie saam met die bespiegelinge rondom skole wat open nie. As die skole open moet als oopmaak. Dan wil ek kerk toe gaan en gaan uiteet. Daar kan ek my eie afstand doen.

Boerkind ·

Dit het nou baie duidelik geword dat die ANC hopeloos te veel mag het en dit na willekeur kan misbruik. Daar moet dringend na ‘n nuwe stel wette en riglyne gekyk word om die bevolking wat hierdie magshonger onverantwoordelikes kies, te beskerm. Niksvermoedende mense word by die stembus mislei en die gevolge is nou uiters tasbaar met die huidige stand van sake. Die magspel binne die ANC is op die spits gedryf en word nou openlik vertoon… CR kondig plegtig sekere maatreels af en ‘n dag of wat daarna kom ‘n niksseggende “minister” (Cele, Zuma, Fikile) en weerspreek dit – en dit word wet! Dit het tyd geword dat die ANC verdwyn sodat die land heropgebou kan word.

JohanR ·

Ek will meer weet wat doen 85000 weermaag troepe en die regering saans tussen 20h00 en 05h00 waaneer niemand mag op straat wees nie, en daar is nie oe om te sien nie. Doen hulle “maneuvers” saam? Wag maar….. die ANC is nie net besig met Covid-19 nie, hulle het die kans aangegryp om ‘n ander meer sinistere agenda te volg. Dit sal nog uitkom.

Termiet ·

Stem saam met jou, maar my siening word elke keer afgehaal.

Boksombende ·

Ek en my vrou dink sie selfe oor wat Johan gese het. Daar is baie meer aan die gang hier as om net COVID te stuit. Dinge voel amper soos dit sou wees as ons onder China of ‘n ander Kommunistiese regering se beheer was…

Gawie ·

Ek verstaan regtig nie die bohaai oor die aandklokreël nie. As jy ‘n permit het om te gaan werk, mag jy steeds tydens daardie tye op straat wees. Vir die res van ons, wat wil jy in elkgeval in die straat gaan maak? Die winkels is toe, jy mag nie by vriende gaan kuier nie, restaurante is ook toe, so daar is nêrens om heen te gaan nie. Aan die einde van die dag behoort die aandklokreël jou glad nie te affekteer nie.
Soos ek dit verstaan is dit juis gemik op informele nedersettings en townships waar mense nog steeds dag en nag rondloop asof niks aangaan nie.

Andre ·

Nee wat Gawie, selfs ek wat baie min saans uitgaan, kom nooit voor 8 nm by vriende weg nie.
En as dit op nedersettings en townships gemik is, is dit in iedere geval nutteloos. Dis bloot net weer onbekwame mense wat wil baas speel soos hulle gewoond is.

Gawie ·

Andre, dis juis die ding – jy mag glad nie by vriende gaan kuier nie – ook nie voor 8 in die aand nie.

Andre ·

Gawie, my kuier was net ‘n voorbeeld. Ek dink nie daar is sulke dom mense nie. Maar het jy niemand wat jou in die nag bel vir hulp nie, of weet hulle jy is nie die helpende hand nie? Die artikel begin ook met dit wil voorkom of jy nie uit jou huis uit mag gaan nie. Belaglik. En die feit dat jy verstaan dis op nedersettings en townships gemik, waar kry jy daardie magte wat dit so gaan toepas? Nie in SA nie.

Alleen Wolf ·

Jy is reg, dit behoort geen impak te hê op die gewone mens nie maar is dit nie ‘n verskansing/voorloper van ‘n ander latere bose plan om van ons ‘n polisiestaat te maak nie, amper soos die padda in die pot koue water op die stoof,

ES ·

Iets kan nie wetlik wees maar ongrondwetlik nie… die Grondwet is die hoogste wetlike gesag – hand-aan-hand met die Konstitusie. Enigiets wat nie grondwetlik is nie, is glad nie wettig nie. Of sit ek dit pot heeltemal mis?

Pensionaris Sedgefield ·

ES ek dink jy moet dit so sien: ‘n wet wat uitgevaardig is is wettig totdat die grondwethof sê hy is onwettig. Wat die skrywer tussen die lyne sê dat hierdie wet die toets van grondwetlikheid sal dop as iemand hom in die hof gaan uitdaag. Maar tot dan bly hy wettig.

ES ·

Baie dankie Pensionaris Sedgefield – dit maak vir my meer sin. Ek hoop dit word in die hof uitgedaag.

Wielspore ·

Na my mening is die huidige aandklokreël ingestel om misdaad en plundering te voorkom, hierdie reeling is al in die verlede deur die vorige regering gebruik. As ‘n persoon gedurende die klokreël tye rondebeweeg sonder ‘n permit doen hy dit onwettig en gedurende die nag kan dit gewoonlik gekoppel word aan misdaad. Geniet die stilte!

Adam Adriaan ·

Aandklok reel ingestel om die ANC/EFF instaat te stel om in die nag( duister) beter te kan konkel

marius ·

Hierdie regering steur hulle nie aan regte nie . Hulle weet presies wat gaan kom en voel niks vir diegene wat ondergaan nie . Hulle het klaar begin met voorbereiding om hul geslote kring te beskerm deur die gewapende magte te ontplooi . Hulle vriende in die ooste het hulle goed ingelig van wat gaan kom . Glo dit maar .

Pensionaris Sedgefield ·

Marius ek dink dit gaan verder as net niks voel vir die wat ondergaan nie. Dis deel van die plan. Luister weer wat CR gesê het teen die einde van laas Donderdag se toespraak toe hy gepraat het oor RET asook Tito wat net daarna gesê het hulle weet die besighede wat ondergaan (verstaan wit besighede) gaan ‘n vakuum laat maar daardie vakuum gaan gevul word (met swart besighede).

Jax ·

Dis my basiese reg op mens wees om, in eie oorleg, te besluit of ek my huis verlaat of nie. Net soos dit my eie reg is om te besluit in watter taal ek in my huis Wil praat, Wie ek Wil trou (of ek Wil trou, by gesê), hoeveel kinders (indien wel) ek Wil hê, sou dit my beskore wees. Soos dit ook my reg is waar ek Wil koop, watter bank ek Wil gebruik en waar ek Wil bly.

Ek glo dat wette Baie nodig is maar hierdie strooi is net te vêr gegaan. As ek reg verstaan mag jy nie by jou huis uitgaan nie wat beteken dat ek nie by my voor- of agterdeur mag uitloop nie. Ek daag die regering uit om by my hekke in te Kom en my te verplig om in my huis te sit! Hier is drie Baie kwaai honde wat op een woord reageer as ek so sê. Ek Sal in my erf en my huis maak en smaak soos ek Wil en wanneer ek Wil.
Ons is nie kinders nie! Ons het nie hierdie “super streng ouers” nodig nie. Ek is n vry mens en is van plan om verder so te lewe.

Gawie ·

Jax, ek en jy en ‘n menigte van ons weet hoe om onsself te gedra – dis gemik op die hordes wat vere voel vir ons almal.

Kattebol ·

Dis nie apartheid nie, dis onderdrukking in ‘n erge graad.

Johan ·

Die meeste verstaan verkeerd die reel is geskep sodat oortyd betaal kan word. Onthou eending die huidige regering het die vermoe om finanasieel na hulleself te kyk.

Pensionaris Sedgefield ·

Die regering se hantering van die pandemie het nie die spaar van lewens ten doel nie. Dis Radikale Ekonomiese Transformasie om die ekonomiese mag uit blankes se hande te haal en dit aan swartes oor te dra. Om blankes se welvaart deur belastings te herverdeel was onsuksesvol en het nie die gewensde uitwerking gehad nie. Moet ook nie dink die howe gaan ons beskerm nie. Dit het die jongste uitspraak wat BEE as kriteria vir staatshulp wettig tog duidelik gewys. Wanneer gaan ons mense se oë begin oopgaan?

AH ·

Die idee van die aandklokreël is aanvaarbaar en behoort niemand te pla nie. Niks is in elkgeval daardie tyd oop nie, so enigiemand wat tussen 20h00 en 05h00 op straat is, is daar vir ‘n onwettige/kriminele rede. In S.A. is dit egter futiel om dit te probeer toepas, net soos die sosiale afstandreëls wat ek, en ek glo alle gehoorsame landsburgers wel toepas. Daar is egter derduisende wat hulle aan geen reël steur nie en rondhang, saamdrom en aangaan asof alles nog dieselfde as ‘n paar maande gelede is. Selfs die bedelaars by die verkeersligte in die area waar ek woon doen nogsteeds hul “besigheid” asook die “dromkrappers” wat met hul winkeltrollies in die vroëe oggendure van “dromdag” kom kyk wat hulle uit asblikke uit kan uitgrawe. Daar is geen wetstoepassers wat die mense aanspreek of verwilder nie. As ek egter in my voertuig om te gaan werk (wettige permitte en al) word ek by padblokades gestop, ondervra en die voertuig deursoek (1 keer) om te kyk of ek “wettig” op die pad is!

4ntj13 ·

Die nut van die aandklokreël is nie juis onder bespiegeling soos die nut van geen sigaretverkope nie. Ons oumense is steeds beskerm as mense in absolute privaatheid mag rook, sonder dat dit enigiemand mag pla. Daar is geen wetenskaplike bewyse dat gedwonge staking van die rookgewoonte mense se infeksievermoë op die korttermyn verbeter nie.

Dit is, in my opinie, die grootste enkele teken dat die reëls opportunisties uitgedink word, en nie wetenskaplik of volgens mense se regte nie. Mens sou hoop dat howe vinniger kan beweeg as die wetgewer, maar als loop steeds teen Afrika-tyd, behalwe blykbaar as dit nuwe reëls teen rokers betrek.

Ek haat ʼn gerokery self, maar kan darem meer empatie toon teenoor sulke mense as die minister!

Sarel ·

Nie eers tydens die destydsecNoodtoestand was aandklok ingestel nir. Vlak 4 is vir my geen verslapping van reguladies nie. Mense is Magsbehep

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.