Aandklokreël: Is dit grondwetlik, en nodig?

Amper geen motors ry op die N1-hoofweg in Gauteng nie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

As deel van sy pogings om die gevreesde Covid-19-pandemie hok te slaan, het die regering reeds verreikende stappe gedoen om die siekte te stuit. In die proses is Suid-Afrikaners se lewe omvergewerp en het talle vryhede in die slag gebly, waarskynlik net tydelik.

Nou is die verslapping van sommige maatreëls ter sprake, maar daarmee saam gaan ʼn aandklokreël heel waarskynlik ingestel word om bewegings in te perk in ʼn verdere poging om die verspreiding van die dodelike virus te bekamp.

Maar wat is ʼn aandklokreël en is dit grondwetlik regverdigbaar om die inwoners van die land so te dwing om tuis te bly – al is dit net saans?

Prof. Elmien du Plessis, ʼn kenner van die Grondwet aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, is ook nog onseker oor presies wat die aandklokreël gaan behels.

“Ons weet nog nie presies nie, want die regulasies word eers vandag (Donderdag) gepromulgeer. Maar dit blyk dat dit beteken dat mense wat nie deel is van vlak 4 se noodsaaklike dienste nie, nie ná 20:00 en voor 05:00 uit hulle huise mag wees nie,” sê Du Plessis.

Is ʼn aandklokreël wettig?

Sosiale distansiëring in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

“Die regulasies (ingevolge waarvan dit afgekondig is) is wettig ja, maar dit beteken nie dit is reg of grondwetlik nie. Totdat die regulasies in ʼn hof getoets word, bly dit staan as wet, en moet dit nagevolg word.

“Dit kan in die hof getoets word op grond van administratiefreg waar die aard van die regulasies getoets kan word, en of dit binne die strekking van die Rampwet val. Dit kan ook getoets word teen die Grondwet – die regulasies maak inbreuk op ons fundamentele regte, en enige inbreuk moet geregverdig word in terme van die algemene beperkingsklousule in die Grondwet, art. 37. Die vraag is – is die bepalings proporsioneel tot die doel wat dit wil bereik, en is daar ‘less invasive means’ om die doel te bereik. Dit kan wel wees dat dit ongrondwetlik is, maar dit sal afhang van die redes wat die staat gee hoekom dit nodig is, en of dit die hof oortuig. Maar dit moet howe toe gaan om getoets te word, en dan ongrondwetlik verklaar te word, voor dit nie meer wet is nie,” meen Du Plessis.

Volgens Du Plessis is die regering by magte om ʼn aandklokreël in te stel.

“Die Rampwet maak voorsiening daarvoor dat die staat (en deur regulasies) mense se beweging beperk. Die Rampwet is ʼn wet wat voorsiening maak vir die bestuur van ʼn ramp. Die inperking van mense se beweging moet dus wees vir die doel om die ramp te bestuur. Die staat sal weereens moet bewys dat dit nodig is om ʼn aandklokreël in te stel om die ramp in daardie opsig te bestuur. Op grond van die redes wat tans beskikbaar is vir die instelling van ʼn aandklokreël, glo ek dit is waarskynlik nie nodig nie.”

“Verkeerde beginsels vir toepassing daarvan”

Piet le Roux. Foto: Sakeliga

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen die verkeerde beginsels word toegepas as dit kom by die inperkingsmaatreëls.

“Ons glo sterk aan die bepalings van die Siracusa-beginsels wat deur die Wêreldgesondheids-organisasie (WGO) toegepas word. Hierdie beginsels is internasionaal aanvaarde riglyne waaraan wetgewing en regulasies in ramp- en noodtoestande moet voldoen. Dit is reeds drie keer in Suid-Afrikaanse regspraak toegepas, onder meer juis in verband met die inperking van mense met aansteeklike siektes. Die huidige inperkingsregulasies voldoen geensins aan die vereistes van duidelikheid, noodsaaklikheid en deursigtigheid van die Siracusa-beginsels nie. Die huidige regulasies is onverstaanbaar kompleks en arbitrêr van aard, wat beteken dat welmenende mense skielik almal die risiko loop om misdadigers te word.

“En dit geld vir die voorgestelde aandklokreël ook. Dit voldoen nie aan die beperkings van die Siracusa-beginsels nie, in besonder dat die aandklokreël nie aan ʼn duidelike gesondheidsvoordeel gekoppel word nie, asook oormatig en ontoepasbaar is.”

Du Plessis meen egter dat art. 37 van die Grondwet die meeste van die beginsels vervat.

“Ek dink dit sou beter wees om dit in terme van art. 37 te doen. Dit gee ook ons howe ʼn oorsigkans. Internasionale reg word altyd gebruik om wetgewing te verstaan, so dit is nie irrelevant nie. Wat wel goed is van die Siracusa-beginsels is die beginsel van wederkerigheid – wanneer die staat inbreuk maak op die regte van burgers, moet die staat vergoed sover moontlik, deur seker te maak dat die inbreukmaking mense nie swaarder tref as nodig nie. Dink hier aan die voorsiening van kos en ander ondersteuning,” sê sy.

Inperking van bewegingsvryheid

Dr. Theuns Eloff, onafhanklike kommentator, wys daarop dat die aandklokreël ʼn ernstige inperking van burgers se bewegingsvryheid behels, al is dit net in beperkte ure.

“Die wettigheid van die instel van so ʼn bepaling is nog nie deur ʼn hof getoets nie en die een of ander organisasie sal dit daardeur moet laat toets, indien hulle dit as onwettig wil beskou. Onder die bepalings van ʼn ramptoestand word geen menseregte opgehef nie – dit word wel ingeperk. Sou daar ʼn noodtoestand ingestel word, wat in elk geval net deur ʼn meerderheid stemme in die parlement gedoen kan word, kan sekere regte wel opgehef word.

“Daar was nie eintlik ʼn ander keuse as om die eerste drie weke van afsondering in te stel nie, maar daar moes vroeër na vlak 4 geskuif word. Die ekonomiese uitwerking van die afsondering op die hongeres en armstes van armes kan net verlig word as hulle kan werk en weer geld verdien,” meen hy.

Rebecca Sibanda, ʼn onafhanklike Grondwetkenner, glo die aandklokreël sal die reg op gelykheid, vryheid van beweging, vryheid van assosiasie en die vryheid om handel te dryf, verder inperk.

“Enige beperking van die regte in die Handves van Regte moet die toets van art. 37 in die Grondwet deurstaan wat bepaal dat sodanige beperkings noodsaaklik is. Daar moet ook bepaal word of die beperkings in ooreenstemming is met die doelwitte wat bereik wil word en of daar minder beperkende maatreëls is wat gebruik kan word om dieselfde doel te bereik. Die regering moet hierdie evaluering oorweeg voordat regte wat ingevolge die Grondwet gemaak is, beperk word.

“Die aandklokreël word ingevolge parlementêre wetgewing en regulasie wat daaruit voortvloei, ingestel. Tensy die instelling en polisiëring daarvan ultra vires is, lyk dit nie tans of dit onwettig is nie.”

Le Roux voorsien egter probleme met die aandklokreël.

“Ek dink die regering probeer met ʼn haelgeweer skiet wanneer fyn korrelwerk nodig is. Die regering is besig om die samewerking van die bevolking te verloor. Dit gaan waarskynlik tot baie magsvergrype lei wanneer die polisie dit arbitrêr toepas, asook ʼn ekstra gesondheidsrisiko, omdat dit juis beter kan wees om ekonomiese aktiwiteit oor dag en nag te versprei.”

Kultuur van menseregte noodsaaklik

Oor die betrokkenheid van die Weermag by die toepassing van inperkingsmaatreëls, insluitend die aandklokreël, is Sibanda ook omsigtig.

“Ek dink ʼn kultuur van menseregte moet in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Weermag ingeskerp word. Vir baie mense is hulle die eerste sigbare interaksie met die staat. As diegene wat verantwoordelik is vir die toepassing van die reg misluk om binne die parameters van die reg op te tree, dan het die regering misluk in sy mandaat om te beskerm en die waardes van die Grondwet te bevorder,” meen Sibanda. Volgens Eloff moet die ekonomiese gevolge van die landwye afsondering swaarder geweeg word.

“Dit is absoluut noodsaaklik dat die debat oor Covid-19 en die maatreëls verdiep word om die negatiewe gevolge van die huidige staat van inperking, insluitend toekomstige ekonomies verwante sterftes veroorsaak deur toenemende armoede, oorweeg moet word.

“Dit is ook belangrik dat pres. Ramaphosa die ekonomies verwante sterftes en swaarkry moet opweeg teen die gesondheidsverwante sterftes voordat hy en sy kabinet finaal besluit op die verslapping van die inperkingsmaatreëls om die ekonomiese herstel te laat begin en veral voordat hy raad aanvaar om die staat van inperking ná 30 April voort te sit,” was Eloff se mening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Ek stem vir die aandklok reël. Ek stem net nie saam met die bespiegelinge rondom skole wat open nie. As die skole open moet als oopmaak. Dan wil ek kerk toe gaan en gaan uiteet. Daar kan ek my eie afstand doen.

Boerkind

Dit het nou baie duidelik geword dat die ANC hopeloos te veel mag het en dit na willekeur kan misbruik. Daar moet dringend na ‘n nuwe stel wette en riglyne gekyk word om die bevolking wat hierdie magshonger onverantwoordelikes kies, te beskerm. Niksvermoedende mense word by die stembus mislei en die gevolge is nou uiters tasbaar met die huidige stand van sake. Die magspel binne die ANC is op die spits gedryf en word nou openlik vertoon… CR kondig plegtig sekere maatreels af en ‘n dag of wat daarna kom ‘n niksseggende “minister” (Cele, Zuma, Fikile) en weerspreek dit –… Lees meer »

JohanR

Ek will meer weet wat doen 85000 weermaag troepe en die regering saans tussen 20h00 en 05h00 waaneer niemand mag op straat wees nie, en daar is nie oe om te sien nie. Doen hulle “maneuvers” saam? Wag maar….. die ANC is nie net besig met Covid-19 nie, hulle het die kans aangegryp om ‘n ander meer sinistere agenda te volg. Dit sal nog uitkom.

Gawie

Ek verstaan regtig nie die bohaai oor die aandklokreël nie. As jy ‘n permit het om te gaan werk, mag jy steeds tydens daardie tye op straat wees. Vir die res van ons, wat wil jy in elkgeval in die straat gaan maak? Die winkels is toe, jy mag nie by vriende gaan kuier nie, restaurante is ook toe, so daar is nêrens om heen te gaan nie. Aan die einde van die dag behoort die aandklokreël jou glad nie te affekteer nie. Soos ek dit verstaan is dit juis gemik op informele nedersettings en townships waar mense nog steeds… Lees meer »

ES

Iets kan nie wetlik wees maar ongrondwetlik nie… die Grondwet is die hoogste wetlike gesag – hand-aan-hand met die Konstitusie. Enigiets wat nie grondwetlik is nie, is glad nie wettig nie. Of sit ek dit pot heeltemal mis?