Aandklokreël: Pa vas toe hy melk vir pasgebore baba gaan koop

Argieffoto ter illustrasie

’n Ouerpaar van Wierdapark in Centurion oorweeg regstappe teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nadat die man Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem is toe hy formulemelk vir hul pasgebore baba by ’n hospitaal in Centurion gaan koop het. Die aandklokreël verbied tans beweging op straat tussen 21:00 en 06:00.

Lily Rautenbach, die egpaar se prokureur, het Vrydagmiddag aan Maroela Media bevestig dat die egpaar se baba enkele dae tevore gebore is en dat die gesin onlangs tuisgekom het. Die egpaar het na bewering vanoggend in die vroeë oggendure met hul baba se voeding gesukkel waarna die man hom na die hospitaal gehaas het om formulemelk by die apteek in die hospitaal te gaan koop. Die apteek is 24 uur oop.

Die man is egter by sy terugkeer, nie ver van die egpaar se huis in Wierdapark nie, glo deur polisiebeamptes voorgekeer omdat hy die aandklokreël verontagsaam het. Die man het die melk asook die betaalstrokie aan die polisiebeamptes gewys, maar is nietemin in hegtenis geneem.

Volgens Rautenbach wou die polisiebeamptes glo nie die man toelaat om die melk tuis te gaan aflaai voordat hy na ’n polisiestasie geneem word nie en was hy genoodsaak om sy vrou te bel waarna sy en hul pasgebore baba in die vroeë oggendure na die toneel van arrestasie moes stap om die formulemelk te gaan haal voordat haar man na ’n polisiestasie geneem is.

Die man is intussen uit aanhouding vrygelaat, maar word aangekla van die oortreding van die Wet op Rampbestuur.

Volgens Rautenbach is die egpaar baie ontsteld oor die voorval. “Ons instruksie is om die nodige regstappe teen die polisie en polisiebeamptes te neem. Ons verskyn binnekort in die hof ten opsigte van die kriminele klag [teen die man].”

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media gesê die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, het met kommer kennis geneem van bewerings dat polisiebeamptes ’n vrou en baba snags buite laat loop het.

“Die SAPD beskou dit as baie ernstig en dit is om hierdie rede dat lt.genl. Mawela ʼn dringende interne ondersoek na die voorval gelas het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.