Aangegryp deur ‘ware liefde’

Die foto van die hond en sy eienaar het talle mense aangegryp. (Foto: Salome Bruyns/DBV)

ʼn Foto wat die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) se George-tak op Facebook gedeel het, het reeds tientalle harte aangegryp.

Salome Bruyns, ʼn senior inspekteur by die DBV, sê hulle was Vrydag in die Lawaaikamp-gebied waar amptenare honde wat gesteriliseer is, weer by hul eienaars afgelaai het.

Terwyl hulle die diere terugbesorg het, het ʼn vrou Bruyns genader en gevra om haar hond aan die DBV te oorhandig.

“Ons het stilgehou en die tannie het my geroep en gevra ons moet haar hond asseblief vat. Ek het gesien die hond bly klou aan haar, maar sy het gesê sy het nie meer geld om vir om te sorg nie.

“Hy het aan haar vasgeklou en sy kop teen haar lyf vasgedruk.”

Bruyns het ʼn foto van dié hartroerende oomblik geneem en sê dit kon as niks anders as “ware liefde” bestempel word nie.

Sy sê sy kon die hond onmoontlik onder hierdie omstandighede by sy eienaar wegneem en het daar en dan onderneem om self te verseker dat hy maandeliks genoeg kos sal kry om te eet.

“Die hond is werklik só lief vir sy eienaar. ʼn Mens moet soms maar jou eie oordeel gebruik.

Amptenare van die DBV het gesteriliseerde diere weer aan hul eienaars terugbesorg, toe die vrou hulle genader het. (Foto: Salome Bruyns/DBV)

“Hoe moet ek ʼn hond vat wat so aan sy eienaar vaskleef?”

Bruyns het die foto van die hond en sy eienaar op sosiale media gedeel en die reaksie was oorweldigend. Verskeie mense het reeds aangebied om ʼn bydrae te maak.

Met hierdie bydraes sal die hond ook gesteriliseer en vir brandsiek behandel word.

“Mense besef nie hoeveel diere ons probeer help nie. Hier kom elke dag kinders aangestap met honde – grotes en kleintjies – en vra vir kos. Daar is ʼn enorme behoefte en dit is ʼn verskriklike gevoel as jy nie kan help nie. Maar ons sal nooit iemand net wegstuur nie.”

Bruyns het die beloofde skenkings verwelkom en sê alle kos sal gebruik word om ook die talle ander behoeftige gesinne se diere in die omgewing te help.

Besoek Garden Route SPCA op Facebook vir meer inligting of om ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Posduif ·

Dis jou kind. Ons is baie besorg oor diere kinders. Hulle is nie net honde nie maar ons alles in ons lewens. Baie dankie vir julle onsugbare diens vir mense in nood met diere !!! Diere ken ons beter as mense. Hulle weet wanneer ons af is of siek is. Here seën julle in julle werk !! Nogmaals baie dankie !!!! Ons waardeer dit uit ons harte uit.

Suzette ·

Dit is so mooi. Sy moet gewis baie goed vir hom wees, dat hy haar so onvoorwaardelik aanhang en lief het.

Pieter ·

Die foto spreek boekdele. Mens kan baie by diere leer aangaande ware liefde. Hulle trou, moor en roof nie vir geld nie.

Debby ·

Dis baie hartseer,as ek dink my 1 hond kos my R700 n maand,dankie dat daar mense is wat help en bydrae maak, ek doen dit ook

SomeOne ·

so asof die hond hul woorde verstaan het,
pragtige liefde soos wat ons ook aan Jesus moet gee, onvoorwaardelik

Maggies ·

Dit is nou regtig die mooiste brokkie nuus vir die naweek. Hierdie onbaatsugtige gebaar van die DBV om in te staan om die diere kind by sy eienaar te kan hou. Die band tussen die twee is so sterk, mens kan dit duidelik sien, selfs voel al kyk mens net na die foto. Dankie aan die skrywer, Christel Kornellisen

Niklaas ·

Kry ek toe trane in my oë. Met die kinders uit die huis is diere is ‘n vreug vir ons, al kos hul voedsel en maandelikse medisyne ‘ n klein fortuin.

Ian ·

Dit is woorde verby. Dankie vir julle harde werk. Mag julle net van krag tot krag vorentoe gaan.

Caroline ·

Lord make me as faithful to my fellow man as my dog is to me

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.