Aangehoudenes van moord aangekla

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans, wat sedert 2014 agter tralies is op verskeie aanklagte, is amptelik aangekla van die moord op ʼn polisiebeampte wat in 2013 voor sy vrou doodgeskiet is.

Lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het gesê sers. Bafundi Mdlalo is in Julie 2013 by sy huis in Mitchells Plain doodgeskiet. “Die verdagtes het na die sersant se huis gegaan en vir sy vrou gesê hulle wil met hom praat. Mdlalo het na die voordeur gekom waarna die verdagtes glo verskeie skote afgevuur het. Mdlalo is op die toneel dood.”

Volgens Netshiunda het die verdagtes hierna die huis binnegestorm, toegang tot die kluis geëis en met Mdlalo se dienspistool gevlug. Die twee verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem vir sameswering tot roof, die besit van ʼn gesteelde voertuig en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die polisiebeampte se dienspistool is glo een van die vuurwapens wat in die verdagtes se besit gevind is.

Die verdagtes sal Maandag in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn. Lt.genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, het benadruk dat die Valke diegene wat polisiebeamptes vermoor sal opspoor en seker maak hulle ry aan die pen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.