Aangepaste begroting: Geen salarisverhogings, reddingsboeie

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Kopano Tlape GCIS)

Suid-Afrika sal sy finansies streng bestuur en nie die onverantwoordelike pad van ekonomiese populisme loop om die ergste depressie sedert 1933 te hanteer nie.

Dít was die kern van die minister van finansies, Tito Mboweni, se aanvullende begrotingstoespraak Woensdagmiddag.

Mboweni het dit prontuit gestel – die land is in die grootste ekonomiese krisis sedert die Groot Depressie. Mboweni het dit nie in soveel woorde gesê nie, maar Suid-Afrika kies die fiskaal konserwatiewe pad en verwerp dus die tipe populistiese beleidsbesluite wat tans van Argentinië en Zimbabwe ekonomiese rampgebiede maak, soos dit onlangs met Griekeland en met die Duitse Weimar-republiek in die 1920’s gebeur het.

Die hooffokus gaan dus van nou af wees om staatskuld te verminder, want, het Mboweni gesê, die lenings wat die land noodgedwonge nou moet aangaan sodat al die hulppakkette vir hulpbehoewendes se oorlewing uitbetaal kan word, sal beteken staatskuld gaan toeneem van 65% van BBP na 80% van BBP.

Foto: Pixabay

Die minister het ʼn paar uiters belangrike beleidsbesluite aangekondig, waaronder dat salarisverhogings in die staatsdiens steeds van die tafel is.

Hy het vakbonde gevra om te besef dat die staat nie nou geld vir salarisverhogings in die staatsdiens, waaronder die onderwys, het nie. Alle hulpbronne moet nou gaan aan mense met geen inkomste nie, dié wie se salarisse in die private sektor gesny is en mense wat werkloos is, want daar gaan dit om hongersnood. Tot dusver het staatsdiensvakbonde botweg geweier om hul salarisverhogings vanjaar prys te gee en grootskaalse stakings dreig.

Die nuwe begroting voorsien ook nie verdere reddingsboeie vir staatsbeheerde instellings, veral Eskom, nie. Mboweni het gesê die staat gaan wel ʼn reddingsboei van R3 miljard aan die Landbank gee sodat die landbousektor gehelp kan word. Hy het niks oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens gesê nie.

Mboweni het geen nuwe belastings aangekondig nie, maar dit is duidelik dat daar groot belastingverhogings sal moet wees in die volgende nasionale begroting wat in Februarie volgende jaar ingedien sal word.

Nog toewysings:

  • R10 miljard is begroot vir toelae aan maatskappye wat negatief geraak is deur die afsonderingstydperk. Dié bedrag sal deur die tesourie self, eerder as die departement van toerisme of kleinhandelsake hanteer word. Dié departemente gebruik ras as kriterium vir die toekenning van geld aan hulpbehoewende maatskappye.
  • R25 miljard is begroot vir infrastruktuurprojekte om onmiddellike inkomste aan werkloses te verskaf.
  • Die nasionale regering kry R32 miljard ekstra vir die bestryding van die koronavirus, maar die toewysing aan provinsies is met R4 miljard gesny.
  • Munisipaliteite kry R11 miljard ekstra vir virusbestryding en Mboweni het gevra dat alle inwoners moet sorg dat die munisipaliteite dit nie verkwis nie.
  • ʼn Bykomende R9 miljard is vir water en sanitasie begroot.

Mboweni het gesê taai tye met pynlike besluite lê voor, maar die regering sal die land se geld verantwoordelik bestee in belang van die nageslag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ag vertel ons nog n grappie tito julle klomp komuniste laat ons so lekker lag. Dink julle regtig ons het julle mentaliteit

Sarel

Die geagte Anti Kopdoek, ek verstaan u is verantwoordelik vir die bestuur van Munisipaliteite. ?
Regering doen niks aan die verkwisting van fondse deur Munisipaliteite nie , masr Mboweni vra inwoners moet kyk dat gekd nie verkwis word nie.
Geen Salarisaanpassings…. weet die Vakbonde hiervan.

Stefan

Hier kom groot stakings.
Met inflasie op ongeveer 3% eis werkers in die staat se diens tenmindste 6-7% verhogings ongeag die toestand van die ekonomie.

Johan

Wat n klomp leuens. Julle het dan oor die 3 miljard rand vir die taxi’s gegee. n Industrie wat nie n sent belasting op hulle omset betaal nie. Om nie eens van al die freeloaders te praat wat SASSA gelde trek nie, wat hulle in die eerste plek nie toekom nie.

Fedup

Here we go again. That money will vanish faster than mist in the sun.