Aanklaer in saak teen ‘sekspastoor’ sterf

Timothy Omotoso tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA.

Een van die drie aanklaers in die saak teen pastoor Timothy Omotoso, die omstrede televangelis wat van verkragting en mensehandel beskuldig word, is dood.

Senior staatsadvokaat Zukile Mdolomba is Saterdagoggend dood kort nadat hy positief vir Covid-19 getoets het.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) kan nie in dié stadium die presiese oorsaak van Mdolomba se dood bevestig nie. Angelisa Ngcakani, woordvoerder van die NVG, het wel gesê Mdolomba het Dinsdag positief getoets vir Covid-19 nadat hy Maandag begin siek voel het.

Dit is vroeër ook in die hof bekend gemaak.

“Terwyl advokaat Mdolomba ʼn deurslaggewende rol in hierdie saak gespeel het, veral met betrekking tot die suksesvolle teenstaan van Omotoso se onlangse borgtogaansoek, is die twee oorblywende aanklaers in staat om die saak suksesvol deur te voer,” het Ngcakani gesê.

Omotoso se aansoek om verlof tot appèl teen die vroeëre afkeur van sy borgtogaansoek is vroeër vandeesmaand in die hooggeregshof in Port Elizabeth van die hand gewys. Dit nadat sy derde aansoek om borgtog net die vorige week afgekeur is.

Omotoso, oorspronklik van Nigerië, is sedert sy inhegtenisneming op die Port Elizabeth- internasionale lughawe in April 2017 agter tralies. Hy is destyds saam met twee vroue in hegtenis geneem wat glo meisies en vroue gelok het sodat Omotoso hulle kon uitbuit.

Omotoso en die twee vroue staan tereg op tientalle aanklagte. Die twee vroue is wel op borgtog vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Androclus ·

Ek dink nie hulle sal hom borg gee nie,klaar gesien by die ander pastoor.

Wat op dees Aarde ·

As hy borg kry, sit ons met ‘n tweede geval van die Bushiri’s…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.