Aanklaer wat omkoopgeld aanvaar, gevonnis

Aaron Pule Mohanwe (Foto: Facebook)

ʼn Voormalige distrikshofbeheeraanklaer is tot tien jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy geld aanvaar het om dwelmverwante sake nie op die hofrol te plaas nie.

Aaron Pule Mohanwe (35) is Vrydag in die landdroshof in Standerton, Mpumalanga, tot tien jaar direkte tronkstraf gevonnis op aanklag van korrupsie, tien jaar vir nog ʼn korrupsieklag en sewe jaar vir regsverydeling.

Die een korrupsieklag en aanklag van regsverydeling sal gelyklopend met die eerste korrupsieklag uitgedien word.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê ʼn lokval is vir hom gestel waarin hy toe betrap is dat hy die geld aanvaar.

“Een van die geheime agente is ‘in hegtenis geneem’ en in die hofselle geplaas en ʼn ander agent het Mohanwe toe genader om vas te stel wat hy sou kon doen om die ‘aangekeerde’ agent te help,” sê Nyuswa.

“Mohanwe het geld van die geheime agente gevra.”

Volgens Nyuswa het die agente by twee verskillende geleenthede korrupte transaksies aangeteken.

“By ʼn ander geleentheid het die beskuldigde ʼn verhoorafwagtende gevangene genader – wat in die hof vir ʼn borgtogaansoek sou verskyn. Trouens, hy het in daardie stadium geen borgtogverhoor geskeduleer nie en daardie saak is reeds na die streekhof oorgeplaas.

“Geen vooraf toestemming is van die senior staatsaanklaer gevra of verkry om die saak op die rol te plaas nie, en die ondersoekbeampte is ook nie oor die borgtog ingelig nie.

“Toe hy egter die verhoorafwagtende gevangene oorneem om in die distrikshof te verskyn, het hy die hof meegedeel dat die ondersoekbeampte nie daarin belangstel om die borgtogaansoek teen te staan nie, wetend dat die inligting oor die beweerde borgtogaansoek nie aan ondersoekers gegee is nie.”

Mohanwe is ná die voorvalle in hegtenis geneem.

Nyuswa sê die NVG sal nie skroom om strafregtelike stappe teen een van sy eie beamptes in te stel in die hantering van korrupsie en regsverydeling nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

Positiewe nuus op n Maandag insake korrupsie, wat van die groot kaders wat nog steeds vry rondloop?

goodCOP ·

#justanothercorruptofficial dis nie eers meer interessante nuus nie

Marcello ·

OMG !!!! Wat ‘n klag op die ander Regsverteenwoordigers in die Regstelsel wat eerlik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.