Aanklag kom oor beweerde pensioenbedrog in NK

Argieffoto

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Donderdag gesê hy sal ʼn aanklag by die polisie en die Openbare Beskermer lê om beweerde pensioenbedrog in die Noord-Kaap te ondersoek.

Andrew Louw, provinsiale leier van die party, het aan Maroela Media gesê hy het verskeie klagtes ontvang van pensioentrekkers wat nie hul regmatige staatstoelae ontvang nie.

Staatspensioentrekkers se pensioene word maandeliks op ʼn kaart inbetaal deur ʼn sisteem van Cash Paymaster Services (CPS), die maatskappy wat namens die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) maatskaplike toelaes betaal.

“In een spesifieke vrou se geval het sy haar gewone pensioen van R1 410 verwag, net om te sien daar is slegs R77 op haar kaart beskikbaar toe sy [Woensdag] geld wou onttrek,” het Louw gesê. “Wat staan haar te doen? Moet sy maar net vir haar skuldeisers sê, jammer, maar my geld het uit my rekening verdwyn? Dit is geheel en al onaanvaarbaar.”

Volgens Louw is die bogenoemde geval slegs een van talle soortgelyke gevalle waarvan hy sedert verlede jaar te hore gekom het. “Ek het ook met ʼn kassier by ʼn kruidenierswinkel gepraat wat sê dat werknemers van CPS gereeld inkom en met pensioenkaarte vir kruideniersware betaal. Waarom loop jong mense met pensioenkaarte rond? Wie laai geld op hierdie kaarte?” het hy gesê.

Louw meen dit is onwaarskynlik dat die probleem aan ʼn tegniese fout toegeskryf kan word, juis omdat dit al so lank aangaan. “Hierdie ding kom net nie tot ʼn einde nie en my logiese afleiding is dat iemand besig is om hierdie bejaardes uit te buit.”

Intussen het Louw ʼn afspraak by die Sassa-kantoor in Kimberley gemaak om die probleem te bespreek. “Ons sal nie hierdie saak met rus laat nie. Ouer inwoners is kwesbaar vir misbruik deur gulsige mense. Ons oupas en oumas is nie karkasse vir aasvoëls om op te teer nie. Hulle is aktiewe deelnemers in ons gemeenskappe en verdien respek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swanna ·

Louw, hoekom neem jy nou eers aksie as jy dit al verlede jaar al agter gekom het. Hoeveel pensioen trekkers het geld verloor van verlede jaar af tot nou en hoeveel het hulle verloor? Of is dit nou weer ‘n politieke advertensie vir die DA om nou skierlik iets aan die saak te doen. Ek voel jammer vir die pensioenare want dit is verkeerd wat aan hulle gedoen word, maar om nou eers aan die saak aandag te gee nadat dit all reeds verlede jaar aan die lig gekom het! Nee my vriend dit moes lankal aandag gekry het.

Elfie ·

Dis reg julle wetters, steel van die arme oues vir wie julle met elke verkiesing leuens vertel oor hoe “vry” hulle nou is met die anc aan bewind. Lieg en belowe hul die maan sodat hulle weer vir julle sleg goed stem. Onthou maar, die spreekwoord wat sê “what goes around, comes around”.

Riana ·

Daar word +/- R90 elke maand van my Pa se pensioen afgetrek en niemand by die SASSA kantore kan verduidelik waarvoor die aftrekking is nie. My Pa is een uit hondrde waarmee dit gebeur elke maand. Dink net R50 van 100 pensioenarisse = R5000 ‘easy money’ – dit is steel!

Lourens ·

Vriende, hierdie is ‘n probleem wat al jare daar is. Ek het so agt gelede met die SAPD gehelp om van Vryburg se CPS personeel in hegtenis te neem nadat hulle die dag uitbetalings gedoen het. Daar is op die persoon R2000 gekry wat hy in sy kouse weggesteek het.

Hoop die ding word oopgevlek tot op die been deur die hele land. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.