Klag teen boer ná werker in fratsongeluk sterf

Argieffoto: Maroela Media

ʼn Saak van strafbare manslag sal teen ʼn wildsboer van Limpopo aanhangig gemaak word nadat ʼn plaaswerker Sondag tydens ʼn fratsongeluk op ʼn plaas noord van Lephalale (Ellisras) gesterf het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die 30-jarige plaaswerker, ʼn Zimbabwiër, het homself glo per ongeluk met ʼn pylgeweer geskiet toe hy en die boer na ʼn buffel op soek was.

Volgens Mojapelo het ʼn buffel uit sy kamp op die plaas ontsnap en deur ʼn draad gebreek na ʼn buurman se plaas waar die oorledene gewerk het. Die 45-jarige eienaar van die buffel en een van sy werkers, ʼn 28-jarige man, is na die buurplaas om na die buffel te soek. Die oorledene het hom by hulle aangesluit.

Mojapelo het gesê die werker het homself omstreeks 09:00 glo per ongeluk met ʼn pylgeweer geskiet terwyl hulle na die buffel geloop en soek het. “Hy het onmiddellik begin bewe en is na ʼn hospitaal in Polokwane gehaas. Hy het teen 12:00 gesterf, oënskynlik weens die effek van die stof wat gebruik word om die dier te verdoof,” het hy gesê. Die saak is toe by die polisie aangemeld.

ʼn Saak van strafbare manslag sal vandag teen die boer aanhangig gemaak word omdat hy na bewering die pylgeweer aan die oorledene, wat nie die nodige lisensie gehad het nie, oorhandig het, het Mojapelo gesê. Daar kan ook nog aanklagte in verband met die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer teen die boer ingedien word.

Mojapelo het gesê die presiese omstandighede van die fratsongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

HPV ·

Maklik, as ‘n witman aangekla word, verander ‘n pylgeweer sommer in ‘n aanvalsgeweer!

Willie ·

Jy het nie n vuurwapen lisensie nodig vir n pylgeweer nie…

Kobus ·

Heeltemal reg Willie, tensy die pyl geweer se pyl (dart) met dryfmiddel en primer aangedryf word, Meestal word die pyl met CO2 aangedryf. Lg. het nie ‘n lisensie nodig nie.

Barry Smit ·

JJ, dis n dartgun wat stof bevat het om die dier te verdoof.

Elsa vd Berg ·

Ag asseblief, as hy nie eers ‘n pylgeweer kan vashou nie?! Nou word die boer aangekla, dis belaglik!!

Kiepie ·

Dit is nogal belaglik om ‘n lewensgevaarlike waper in die hande van iemand te laat “as hy nie eers ‘n pylgeweer kan vashou nie.” As hy per-ongeluk die boer doodgeskiet het sou julle sekerlik nie gesê het “dit was maar net ‘n ongeluk nie.
Kom ons los die ondersoek vir die polisie want dit is in elk geval protokol om ‘n strafbare manslag saak oop te maak wanneer iemand op onnatuurlike wyse sterf.

Pippie ·

Ja onthou Oscar het ook gesê dit was net ‘n ongeluk en kyk wat het die hof op die ou einde bevind!
Verantwoordelike wapen gebruik is dalk nie so slegte idee nie. Voel jammer vir die boer dis sad maar nog sader is feit dat die man dood is.

PJC ·

Ja nou sal die klagtes ingeryg word. Elke keer as die saak voor die hof kom sal die lys langer wees.

marous ·

Dan moet die hele land se Taxi drywers ook toegesluit word vir besit van moord wapens. Wat ‘n spul twak!

Siek man siek ·

Janee TIPIES< die boere wat elke dag vermoor word deur hulle werkers en mense van buite word aan hulleself oorgelaat, maar boy oh boy, doen net iets wat jou werker in gevaar stel (per ongeluk) dan word jy aangekla en in die tronk gesmyt. Die Regstelsel en Polisie in SA is SIEK. HY HET HOMSELF PER ONGELUK geskiet, wat het dit met die BOER te doen??

Izel ·

Die boer moes in die eerste plek nie die middels besit het nie! Dit is scedule 6 middels wat slegs deur n geregistreede veearts toegedoen mag word!!! Kla eeder die persoon wat die middels verskaf het aan!! En waarom dra die boer nie sy teen middels by hom nie. Die soort medisyne is lewens gevaarlik. Slegs een druppel kan n mens doodmaak!

Anoniem ·

Wat se redes gaan og gesoek word teen mense vir vervolging dit is so hartseer

Max ·

In die Nuwe Reenboog RSA mag jy nie meer gatvol raak nie, ons moet gewoond raak daaraan!

Theresa ·

Mag die Here die onreg in hierdie land uitwis. Wat gaan aan met die mense? Alles kan nie voor die voete van die boer gelê word nie? As iemand so iets hanteer en nie kennis daarvan het nie IS DIT NIE “N ANDER MENS SE SKULD NIE.

Jaco S ·

Dis geen leuen daai nie Jan. So moet audi bmw en vw verantwoordelik gehou word vir sterftes in hul motors na nalatige bestuur? Hulle raak mal…

Van ·

Ja nee – die SAPD moet iemand aankla – n ongeluk gebeur nie net nie. Die Pylgeweer het met mos opset afgevuur?! Maak maar die bewyse bymakaar wat nie bestaan nie om die boer aan te vat!

anton ·

Binnekort gaan blankes seker ook aangekla word as hulle gesien het hoe n anderskleurige gesterf het in n motor/taxi ongeluk!!!
Enige iets net om blankes te vervolg!!!

Dink eers mooi ·

Buffels word met ‘n skedule 6 middel verdoof. Dit is totaal onwettig vir die boer om in besit van die middel te wees. ‘n Opgeleide persoon sou die werker redelik maklik kon red met die korrekte teenmiddel en ander nodige noodbehandeling. Deur die boer se onwettige en nalatige optrede is die werker dood. Dis nie ‘n geval van sentiment nie, die boer is in hierdie geval 100% verantwoordelik.

Donderstorm ·

Dit is die polisie se werk vlg wet om n saak te open tot en met die saak geondersoek is en hul agter die kap van die byl kom al skiet jy bv iemand wat jou in jou huis aanval dood dan open hul ook n saak teen jou tot die voorval geondersoek is

Stomgeslaan ·

Ek staan stomgeslaan teen die dubbel standaarde wanneer sulke goed gebeur. ‘n Boer veg om sy lewe na hy amper dood geslaan is en beroof is, en ‘n klag van huisbraak word ondersoek. Hier skiet ‘n onkundige persoon homself PER ONGELUK en die man gaan vervolg word tot by oom Daantjie in die kalwerhok vir strafbare manslag. Bid jou aan. Ag nee dis belaglik.

Francois le Cochon ·

Elke saak het sy eie meriete. As jy hierdie beginsel verstaan, sal jy nie stomgeslaan staan nie.

Herman ·

Mooi man! Nou’s jy sommer die regter ook. Ons hoop maar jy loop altyd ‘n mooi paadjie.

Cherokee ·

Wel, ek is stomgeslaan oor al hierdie kommentare. Daar is tot mense wat sê ‘n pylgeweer is nie ‘n vuurwapen nie, terwyl bloot van ‘n lisensie gepraat word en nie ‘n vuurwapenlisensie nie. Natuurlik moet mense bevoeg wees as jy so iets wil hanteer.

Deon ·

Ek glo die veearts wat daardie middel verskaf het gaan ook in vreeslike moeilikheid wees!!

Wilhelm ·

Die vuurwapen wet spesifiseer dat n pyl geweer nie wapen is waarvoor daar nie n lisensie nodig is nie. Die midel wat gebruik word om die buffel te verdoof glo ek moet n daar n lisensie wees. En soos wat die vuurwapen wet ook se mag n ander persoon, onder die toesig, van die eienaar die wapen gebruik. Ja dit is n frats ongeluk die saak is in my opinie belaglik

Kobus ·

Skedule 6 middels in onopgeleide hande! Die Veeartsenyraad baklei al lank hieroor. Die gaan n rippel effek hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.