Aanklag teen DA-burgemeester dalk teruggetrek

Charles Standers. Foto: www.george.org.za

Charles Standers. Foto: www.george.org.za

Charles Standers, die burgemeester van George wat geskors is nadat sy vrou ʼn klag van aanranding teen hom aanhangig gemaak het, se skorsing sal na verwagting binnekort opgehef word.

Maroela Media het vroeër berig Standers se vrou het ʼn aanklag van huishoudelike geweld by die Conville-polisiestasie teen hom aanhangig gemaak nadat die egpaar na bewering oor motorsleutels rusie gemaak het. Hy is voorlopig uit die DA geskors hangende ʼn dissiplinêre verhoor.

Dit het egter intussen aan die lig gekom dat Standers se vrou besluit het om die aanklag teen haar man terug te trek.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het Vrydag aan Maroela Media gesê aangesien die aanklag teen Standers teruggetrek en daar geen vervolgbare saak teen Standers is nie, het die federale komitee besluit om ook sy skorsing op te hef. Hy het gesê die besluit is reeds geneem en Standers sal binnekort ooreenkomstig ingelig word.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat Standers se vrou wel aangedui het dat sy die aanklag teen hom wil terugtrek, maar nog nie ʼn verklaring in die verband afgelê het nie. “Al sou sy egter wel besluit om dit terug te trek, rus die onus steeds op die staat om te besluit of die saak wel laat vaar sal word,” het hy gesê.

“Daar is ʼn hoëprofiel-persoon by hierdie saak betrokke en volgens die volwaardige regsproses moet die staat die finale besluit neem of die persoon vervolg sal word al dan nie. Die dossier is tans by die staatsaanklaer en ons wag op sy besluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dee ·

Daar is ‘n huishoudelike inkomste in die gedrang maw die skale moet gebalanseer word.

Uncle Buck ·

Wat het geword van dat die staat ‘n krimenele saak kan oorvat al trek die klaer of klaagster die saak terug. ‘n Misdaad is mos gepleeg en die klaagster in die geval kan gedagvaar word om vir die staat te getuig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.