Aanklagte kom ná Matie uit venster val

Taylië Jaap (Foto verskaf)

Die polisie se ondersoek na die voorval waar ʼn student van die Universiteit Stellenbosch (US) in Mei vanjaar uit die Serruria-koshuis se venster geval het, het tot ʼn saak van poging tot moord gelei.

Taylië Chamondré Jaap (19), ʼn BSc-student in haar eerste jaar aan die US, word Vrydag uit die Karl Bremmer-hospitaal in Bellville ontslaan en huis toe gestuur, vertel ʼn familiebron wat nie sy identiteit bekend wil hê nie, omdat die familie vir Jaap “tree vir tree” wil ondersteun.

Jaap het onlangs haar stilte na die voorval verbreek en gesê sy is op 26 Mei uit die venster “gestamp” want die beskuldigde was glo jaloers op haar omdat sy “mooier en slimmer” is as sy.

Maroela Media het vertroulik verneem wie die vriendin is wat deur Jaap daarvan beskuldig word dat sy haar by die venster uitgestamp het. Sy ignoreer alle boodskappe asook oproepe.

Jaap beweer sy het die aand om middernag tuisgekom nadat sy in die Neelsie-studentesentrum saam met dié “vriendin” vir die eksamen gestudeer het. Sy is op na die vriendin se kamer in die Serruria-koshuisgebou, waar ’n bekgeveg en ’n haarplukkery tussen die twee glo ontstaan het en sy daarna deur die venster gedwing is wat glo tot die val gelei het.

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ʼn saak van poging tot moord teenoor die beskuldigde aanhangig gemaak is. Malo het ook bevestig dat Jaap reeds ʼn verklaring afgelê het.

Die familiebron sê dit gaan beter met Jaap en dat sy Maandag sal terugkeer na die US om haar studies voort te sit. “Sy is ʼn besige mens, sy wil teruggaan universiteit toe. Sy mis haar maats en wil nou al haar aandag aan haar studies vestig,” sê die bron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petrus

Daar is my kant van die storie, daar is jou kant, en dan is daar die waarheid.

Anoniem

Laat die REG net toe om SY loop te neem ! Sy kon aan die hand van die een wat haar gestamp het verlam / dood gewees het !

Sterkte met Jou studies en die herstel !

Michelle

Kom ons sien wat die ondersoek oplewer. Hier is maar net te veel slange in die gras. Hoekom sal een haar loopbaan opmors om ‘n ander uit ‘n woonstel te stamp oor wie is mooi en wie is wat. Geregtigheid sal seëvier.

Hendrik van George

Mooier en slimmer nê! Weet nie so mooi van daai een nie.

Emma

Sy het met so baie stories al vorendag gekom so ek twyfel ook aan die een.