Aanklagte kom teen voormalige hoës by SA Express

SA Express (Foto: SA Express/Facebook)

South African Express het Donderdag gesê hy is besig om voor te berei om aanklagte van bedrog en korrupsie teen sommige van sy voormalige bestuurshoofde aanhangig te maak.

Die beleërde lugredery is tans in ʼn proses om sy operasionele doeltreffendheid en bestuurstelsels te versterk om langtermyn‑ kommersiële volhoubaarheid te bereik.

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) het in Mei verlede jaar SA Express se bedryfspermitte opgeskort en sodoende die lugredery se vlerke geknip nadat ʼn oudit van die redery en sy instandhoudingsorganisasie verskeie gevalle van nienakoming aan die lig gebring het wat ernstige veiligheidsrisiko’s ingehou het.

ʼn Ingrypingstaakspan wat deur die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, op die been gebring is, het vasgestel dat behoorlike prosesse nie gevolg is nie toe die lugredery R5,7 miljoen aan Trillian Capital betaal het vir adviesdienste en die invordering van kapitaal, en ook ʼn R67 miljoen per maand-kontrak vir brandstofverskaffing geteken het.

Tryphosa Ramano, voorsitter van SA Express, sê die besluit om voormalige bestuurshoofde aan te kla, het gekom ná ʼn deeglike forensiese ondersoek ʼn aantal transaksies geïdentifiseer het wat die redery miljoene rande kon gekos het voordat sy bedryfspermitte in Mei verlede jaar opgeskort is.

“Die nuwe direksie van SA Express neem bewerings van onreëlmatigheid by die lugredery baie, baie ernstig op,” het Ramano gesê. “Dit is hoekom die lugredery streng stappe doen, omdat alle bewerings van bedrog, korrupsie en ander onreëlmatighede ʼn onmiddellike en robuuste reaksie vereis, sowel as die swaarste moontlike strawwe vir die oortreders.”

Die transaksies wat deur die forensiese oudit as verdag aangedui is, sluit in multimiljoen rand se voorvalle van beweerde sameswering met diensverskaffers, manipulasie van verkrygingsprosesse, asook die onreëlmatige en oorbetaling van verskaffers.

SA Express het gesê hy gaan nie nou meer inligting hieroor bekend maak nie aangesien die regsprosesse reeds aan die gang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

SA Express is mos ook ‘n ” state owned airline” as ek reg onthou!? Nog miljoene/biljoene ” down the drain”!! Wie moet ons bedank? Korrupte “bestuurshoofde” wat vet help skep het en hoog gevlieg het. Doen onmiddellik lewens-styl oudits en le op bates beslag want moontlike hofsake gaan weer n uitgerekte affere wees. So vind plundering van die een na die ander instansie plaas SONDER dat enige swerkaters Oranje pakkies kry om te dra. Wat van die vorige bestuurshoof van die SAL wat self hoog gevlieg ens het – sonder enige optrede teen haar. Dit SAL n uitsonderin wees as daar nou daaroor wakker-geskrik sou word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.