Aanklagte teen beskuldigde in Eskom-moordsaak teruggetrek

Die Springs landdroshof waar die saak teruggetrek is. Foto: ANA.

Die familie van Thembesile Yende, die werknemer van Eskom wie se ontbinde liggaam in Mei verlede jaar aangetref is, het Donderdag hul ongelukkigheid uitgespreek nadat hulle gehoor het die direkteur van openbare vervolgings (DOV) het die saak teen David Ngwenya, wat van die moord op Yende aangekla is, voorlopig teruggetrek.

Yende se liggaam is in ʼn ongebruikte kantoor van Eskom se Pieterboth-substasie in Springs aangetref.

Ngwenya (43), ʼn Eskom-tegnikus, is in Junie in hegtenis geneem nadat daar beweer is hy het Yende vermoor omdat hy vermoed het sy sou inligting oor ʼn koperkabeldiefstal-sindikaat bekendmaak. Hy is op R15 000 borgtog vrygelaat.

Landdros Daphne Jansen van Vuuren het Ngwenya Woensdag in die Springs-landdroshof van die DOV se besluit in kennis gestel.

“In dié stadium het hulle voorlopig besluit om die saak terug te trek, maar dit kan in enige stadium weer aanhangig gemaak word,” het Jansen van Vuuren gesê.

Yende se liggaam is gevind meer as ʼn week nadat haar familie haar op 17 Mei as vermis aangemeld het. Haar liggaam is eers opgespoor ná haar kantoor en die substasie deur beamptes deursoek en niks opgespoor is nie.

Mboneni Yende, Yende se broer, het ná die hofverrigtinge opmerklik emosioneel oor die uitkoms gesê die familie is baie mismoedig, want dis ʼn jaar later en “ons het net een beskuldigde waar ʼn persoon vermoor is in ʼn regeringsinstelling. Dit is hartverskeurend”.

Numsa het Maandag ʼn beroep op Eskom gedoen om kringtelevisiebeeldmateriaal bekend te stel wat moontlik kan help met die ondersoek.

“Ons is moedeloos met die polisiediens. Daar was inligting en ons het dit aan die polisiediens verskaf. Ons voel as dit gebruik is, sou ons nie nou hier gewees het nie. Ons glo daar is meer mense betrokke in dié saak,” het Yende gesê.

Hoewel die familie eers Donderdagoggend van die terugtrekking van die saak in kennis gestel is, het die gesin dit verwag aangesien hulle die DOV se kantore gereeld besoek het.

“Ons glo iets anders kon gebeur het.”

Maroela Media het vroeër berig die Yende-familie oorweeg siviele aksie aangesien Yende ʼn kind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daan Erasmus ·

Iemand kom weg met moord. En die arme mense wat agterbly.

Colleen ·

Hopelik vang hulle die skurk wat haar vermoor het, want ierwers loop ‘n moordenaar vry rond.

Ekke ·

Dis ongelooflik hartseer! Hoe op dees aarde kry die polisie dit reg!!

Zumie ·

Daar word te vinnig gearresteer vir mooi statistieke voor die getuienis gekry is en op hierdie manier eindig die SAPD en DOV op met eier in die gesig. Geen plaasvervanger vir deeglike ondersoek nie ……. En min kundige ondersoekers….

jaco ·

As sy wit was het ek die terugtrek van die klag teen die beskuldigde verstaan, maar sy was swart. Dis ‘n uiters vreemde optrede van die hof en die SAPD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.