Aanklagte teen hom is leuens, sê Zuma

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Oudpres. Jacob Zuma het Vrydag die groep ondersteuners bedank wat hom buite die Durbanse hooggeregshof ondersteun het en gesê leuens en sameswerings teen hom sal nié seëvier nie.

Dit kom nadat Zuma Vrydag saam met Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank van die hof verskyn het.

Zuma het op 16 aanklagte verskyn wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die laat 1990’s met Thales. Zuma word vervolg vir een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog.

Hy het buite die hof gesê hoewel hy weens die sub judice-reël nie nou oor die verhoor hofsaak gaan praat nie, kan hy wel sê dat nie enigeen wat aangekla word noodwendig skuldig is nie. “Soos hulle in Engels sê: onskuldig totdat jy skuldig bewys word,” het hy aan joernaliste gesê.

Zuma het gesê hy staan in verwondering oor regslui wat hom reeds behandel asof hy skuldig is – dít terwyl dié persone volgens hom veronderstel is om te weet hoe die reg werk. “Leuens en sameswering sal nooit die waarheid oorheers nie. Ek word daarvan [die omstrede wapentransaksie] beskuldig tydens my termyn as LUR, terwyl dit eintlik die nasionale regering was wat die wapens verkry het. Maar kom ons laat dit oor aan die hof. My naam is egter nou reeds deur die modder gesleep.”

Die omstrede wapentransaksie het militêre toerusting vir die land se lug-, see- en landverdedigingsmagte aangekoop teen ʼn koste van meer as R30 miljard. Schabir Shaik, Zuma se voormalige finansiële raadgewer, is reeds in 2005 skuldig bevind en dien tans ʼn 15 jaar lange vonnis in sy huis in Durban uit op grond van mediese parool.

Zuma het buite die hof bevestig dat hy wél die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om die aanklagte weer teen hom in te stel nadat dit voorheen teruggetrek is, in die hof gaan daag. Hy het gesê hy sal graag na die sogenaamde spioenopnames van hom wil luister sodat die inligting daarop, wat glo verdoemend is, aan die hele Suid-Afrika bekend gemaak kan word.

Zuma buite die hof (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

“Daar is wel mense wat gehoor kan word op die spioenbande, maar nie ek nie, en steeds verwys almal altyd daarna as die Zuma-spioenbande. Ek was nie daar nie, maar die opnames word altyd met my verbind. Dit is duidelik dat die owerhede en wetstoepassers onder die indruk is dat ek nie my individuele regte kan uitleef soos enige ander burger nie. Selfs diegene sonder mag het nou skielik moed om my aan te val. Hulle kan bly wees ek gaan nie mense te lyf nie.

“As mense my ʼn hond noem, baklei ek nie met hulle nie, want ek weet ek is nie ʼn hond nie. Selfs nuwelinge in die politieke sfeer val my nou aan. Ek kyk net na hulle, dan weet ek hulle weet nog niks nie. Hulle is net nuwelinge en weet nie wat om te sê nie [dan val hulle my maar aan].”

Zuma het gesê hy sal aanhou baklei vir die vryheid van swart mense in Suid-Afrika. Hy het gesê Afrikane was in die verlede altyd die slagoffers en hy word nou oor die kole gehaal omdat hy van mening is dat die proses na vryheid vir almal in die land nog nie voltooi is nie. “Dis hoekom hulle my in die hof daag, want hulle is bang ek sal mense se oë laat oopgaan oor [swart mense] se lyding. Dis reg dat ek in die hof is, maar dinge gaan moet verander en armoede moet tot ʼn einde kom. Die ekonomie moet in die hande van die armes geplaas word. Ek bedank elkeen van die ondersteuners wat bewys het dat ons vyande ons nie sal verdeel nie.”

Die saak teen die twee partye is tot 8 Junie uitgestel nadat adv. Billy Downer, vir die staat, die hof gevra het om die saak uit te stel omdat Zuma se regspan van voorneme is om ʼn hersieningsaansoek in te dien om die besluit om hom te vervolg te betwis. Downer het gesê na gelang van die uitkoms van die hersieningsaansoek kan daar dalk verdere hofaansoeke ingedien word. Zuma en Guerrier is op waarskuwing vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Penellope Jones ·

Uiteraard sal hy dit as verweer gebruik.
Hy gaan niks mos openlik erken nie?

Eben ·

Die saak gaan tot in ewigheid uitgerek word. Ek voorsien dat die een advokaat na die ander deur Zuma afgedank gaan word. Op die ou einde sal Zuma bankrot wees en staats aangestelde regspan kry om hom te vetdedig. Die saak kan teoreties tot in ewigheid uitgestel word.

BB ·

Snaaks genoeg hy en sy makkers is die enigste mense wat dit glo. Hulle is die enigste mense wat reg is die res van die land en die wereld is vekeerd. Laat n mens wonder dat die res van die wereld stupid is en hulle reg!!!

Bietjie bietjie ·

Jy droom as jy dink cyril gaan help
Moenie op cyril staatmaak
Luister na sy uitsprake dan dink jy weer

Piet ·

Cyril het op die aarde niks met hierdie saak uit te waai nie. Hy is net bly Zuma word aangekla want nou is hy nommer een.

Dafer ·

In die onwaarskynlike geval dat hierdie ou onskuldig bevind word – wie is dan aanspreeklik vir al die kostes deur die jare heen?

Luister ·

Vir ‘n “onskuldige” man; baklei hy darem lank en hard om nie voor die hof te verskyn nie.
Ons; die belastingbetalers, betaal vir die staat om hom te vervolg, nou moet ons ook vir sy verdediging betaal. Hoe belaglik!

Casper Labuschagne ·

Hou gerus die pers dop vir die gebruik van die volgende woorde wat sekerlik nog sal verskyn, “sameswering van wit monopolistiese kapitaal omdat hulle nie suksesvolle swart mense sal toelaat nie.”

Michael ·

Hoekom ry hy nog in die klomp staats motors rond . Wie betaal vir al die moters en drywers en wagte. Hy is mos nie meer NO. EEN nie. Hy moet agter in n vang wa by die hof aan kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.