Aanklagte teen McBride vir eers laat vaar

Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (September 2016) Foto: ANA

Aanklagte van kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer teen Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), is Dinsdag in die Pretoria-landdroshof voorlopig teruggetrek.

Volgens mediaberigte is daar nie in die hof redes gegee vir die staat se besluit om die aanklagte voorlopig terug te trek nie. Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê sy het verneem dat die aanklagte teen McBride voorlopig laat vaar is, maar sy wag nog op amptelike terugvoer van die aanklaer in die saak.

McBride is aangekla nadat sy tienerdogter in Augustus verlede jaar beweer het haar pa het haar aangerand en probeer wurg. Die tiener het destyds aan die media gesê dié aanval was nie geïsoleerd nie en “gebeur die heeltyd”.

McBride het egter deurentyd dié bewerings ontken en gesê dat hy sy dogter slegs vermaan het. “Sy het ten tyde van die voorval reg agter my in die motor gesit. Dit sou onmoontlik wees vir my om te bestuur, haar terselfdertyd ‘aan te rand’ en te ‘wurg’. Sy het ook nie beserings gehad toe ek haar by die huis agtergelaat het nie,” het McBride se verklaring gelui.

Tydens McBride se vorige verskyning in Februarie het sy regspan aangedui hy het van plan verander oor sy aanvanklike voorneme om ʼn vertoë te rig oor redes waarom hy nie vir die beweerde aanranding vervolg moet word nie en hy wou eerder voortgaan met die verhoor. McBride se regspan het toe ook aangedui dat hulle van plan is om McBride se jongste dogter, wat minderjarig is, as ʼn getuie te roep.

Lees alle vorige berigte oor Robert McBride op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karolis ·

Hierdie saak het platgeval voordat dit begin het want hierdie kameraad het invloed op die hoogste vlakke.
Skande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.