Aanklagte teen Molefe gebring ondanks bedanking

Brian Molefe, Eskom

Brian Molefe, Eskom

Die DA het Vrydag, kort na die bedanking van Eskom-hoof Brian Molefe, gesê die party sal aanklagte teen Molefe bring in terme van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupsie.

Natasha Mazzone, die skaduminister van openbare ondernemings, het gesê die DA verwelkom Molefe se besluit om te bedank in die lig van die ernstige bewerings teen hom wat in adv. Thuli Madonsela se staatskaping-verslag gemaak word.

“Dit is verdag dat Molefe bedank het nadat ons die proses begin het om hom te dwing om onder eed in die parlement die waarheid te vertel,” het Mazzone gesê.

Sy het gesê die DA het die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings versoek om Molefe dringend te ontbied sodat hy onder eed “vir Suid-Afrika die waarheid kan vertel” oor sy verhouding met die Guptas.

“Ons beskou Molefe se bedanking as die eerste stap om Eskom se beskadigde integriteit te begin herstel. Dit is ʼn belangrike stap in die regte rigting voor die kredietgraderingsbesluit einde van die jaar.”

Molefe het gister gesê sy bedanking is nie ʼn skulderkenning nie, maar word gedoen juis in belang van Eskom. Hy het volgehou hy het niks verkeerd gedoen nie en dat hy, wanneer hy die geleentheid gegun word, sy onskuld sal bewys.

Madonsela, die voormalige openbare beskermer, het in haar staatkaping-verslag gewys op Molefe en Ajay Gupta se “gemaklike verhouding” en gesê hulle was verskeie kere in verbinding met mekaar. Sy het onder meer bevind Molefe en Ajay Gupta het mekaar tussen Augustus 2015 en Maart vanjaar 58 keer gebel. Molefe was ook tussen 5 Augustus en 17 November verlede jaar vyf keer in die Saxonwold-omgewing.

Molefe het verlede week huilerig ontken hy was ooit by die Guptas se herehuis in Saxonwold. Hy het beweer hy kuier gereeld by ʼn sjebeen in die gebied.

Eskom het in reaksie op Molefe se bedanking gesê sy besluit is “jammer maar verstaanbaar” en hom bedank daarvoor dat hy die kragverskaffer se operasionele en finansiële toestand omgekeer het, wat gesorg het dat daar tot 15 maande geen beurtkrag toegepas is nie.

Mazzone het egter teruggekap deur te sê Molefe word as “een of ander redder van beurtkrag uitgebeeld” terwyl hy nog al die tyd gehelp het om die Gupta- en Zuma-families te verryk, eerder as om Eskom te red. “Ondanks Molefe se bewerings dat sy bedanking in die belang van Eskom gedoen is, kan dit in geen ander lig gesien word as ʼn skulderkenning nie,” het Mazzone gesê.

“Ons hoop Molefe sal sy afskeidpartytjie by die Saxonwold-sjebeen hou, sodat hy kan bekendmaak waar hierdie geheimsinnige plek is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hasie ·

Molefi was net soos so baie ander onder Zuma se invloed en instruksies, deurmekaar met die Gupta.

Johann ·

Ja, hy kon maar sedert sy aanstelling destyds by Eskom, net nie van die aap op die skouer ontslae raak nie.

Jan ·

Ek sien die nuwe OB, Busisiwe Mkhwebane, het haar spyt uitgespreek dat Brian Molefe bedank het, dis ‘n verlies vir die land, en dan spreek sy haar hoop uit dat hy elders ontplooi sal word. Nou ja toe, daar het ons haar politieke sentiment.

RC ·

Toemaar hy weet al klaar waar hy heen gaan. Alles is gereël, 1 Januarie sal ons hoor waar hy ontplooi is.

Cherokee ·

Wonder of hy ‘n goue handdruk gaan kry. Aanklagte wat die DA sê, steeds teen hom gaan ingestel word, behoort ‘n rol te speel by die besluit daaroor.

Armando ·

Ek onthou twee goed: 1, Dat Molefe glo as mr Fixit by Eskom aangestel is, en 2. Dat daar in die voor ANC-dae GEEN beurtkrag was nie.

mosselbos ·

Ek sal ook snot en trane huil as my “gans wat die goue eier le” onder my weggeruk word. Gaan soek vir jou n ander jobbie wat jy n slag moet werk vir jou geld Comrade!

Lance ·

Die anc is vrot tot op die been …skandes op skandes …hoe sal SA ooit kan voortuit gaan met sulke skelm mense !

KP ·

Daar word oral verkondig hoe hy Eskom omgekeer het met geen beurtkrag. Dit is nie hy wat Eskom omgekeer het nie dit is danksy die publiek wat krag spaar en die land se ekonomie wat tot stilstand gekom het. Dan het die nuwe kragstasie se opwekkers ook bygedra wat al jare terug klaar moes gewees het maar telkemale uitgestel moes word.

Gee daaardie eer eerder aan die publiek en groot nywerhede wat verplig was om ander vorme van energie te gebruik om elektrisieteit te bespaar met enorme elektrisitets verhogings elke jaar. Koebaai Molefe ons gaan jou nie mis nie.

Robert Strauss ·

Molefe is oppad om die volgende Min. van Finanasies te word, in Januarie al, hy is die Guptas se gesalfde kalf vir die pos. Hy sal mos nie sommer as Eskom CEO bedank as daar geen backup is nie. Die Guptas gaan dalk al in Januarie die ANC kabinet skommel.

FM ·

KP jy slaan die spyker op die kop. Molefe moet nie die eer kry nie. Die gewone burgery wat aanhoudend krag gespaar het en van ander vorme van energie moes gebruik maak. Molefe het gesien sy turf gaan sit en toe hol hy weg. Ondersoek hom steeds. Julle sal sien waarom het die traantjies ewe skielik gevloei. Die waarde van die gewone burgery moet nie onderskat word nie.

JK ·

Ook maar goed hy is weg by Eskom anders het hy dit ook opgemors soos met die Transnet pensioene waarvan baie pensionarisse nou hongerly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.