Aanklagte teen oud-Valke-baas verwerp

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Foto: witness.co.za

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Foto: witness.co.za

Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan appèl aanteken nadat die Durbanse hooggeregshof alle aanklagte teen genl.maj. Johan Booysen, die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, ter syde gestel het.

Carl van der Merwe, Booysen se prokureur, het Sondag gesê die NVG het die hof in kennis gestel dat hy beplan om appèl aan te teken teen regter Trevor Gorven se besluit.

Booysen was die hoof van die ernstige en gewelddadige misdaadeenheid in Cato Manor. Dié eenheid is intussen ontbind. Booysen, en lede van sy voormalige eenheid, is daarvan beskuldig dat hulle ʼn kriminele onderneming bedryf het. Lede van die eenheid staar ʼn reeks aanklagte in die gesig, insluitend 28 aanklagte van moord. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle betaling aanvaar het om sekere persone in die minibustaxi-oorloë in KwaZulu-Natal dood te maak.

Booysen is in Augustus 2012 daarvan beskuldig dat hy ʼn onderneming bestuur het en aan die aktiwiteite deelgeneem het deur middel van afpersing en swendelary. Booysen het ook tereg gestaan op twee aanklagte van moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en dwarsboming van die gereg.

Nomgcobo Jiba, die waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging in daardie stadium, het tydens haar uitspraak gesê die eenheid het soos ʼn georganiseerdemisdaad-eenheid opgetree.

Booysen het egter aansoek gedoen om die aanklagte ter syde te stel en sy saak is op 7 Februarie in die Durbanse hooggeregshof aangehoor. Hy het aangevoer dat Jiba gelieg het oor sekere verklarings wat sy voor haar het, toe sy besluit het om hom te vervolg. Sy kon dus nie dié verklarings gebruik het om haar besluit daarop te baseer nie.

Gorven het op 26 Februarie sy uitspraak gelewer en besluit om alle aanklagte teen Booysen te laat vaar. Hy het gesê die aanklagte voldoen nie eers aan die minimumvereistes nie. Gorven sê sy besluit om die aanklagte ongeldig te verklaar is nie ʼn aanduiding dat Booysen onskuldig is of dat hy nie weer aangekla kan word nie.
.
Nathi Mncube, woordvoerder vir die NVG, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Indien Gorven die NVG se aansoek van die hand wys om appèl aan te teken teen sy uitspraak, kan die NVG die hoogste hof van appèl nader. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlimDaan ·

Jip. Vra maar vir Glynnis Breytenbach. Die enigste klagte wat sal water hou is omdat hy BLANK is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.