Die aanklagte teen twee broers van Port Elizabeth, wat daarvan beskuldig is dat hulle ʼn 12-jarige seun opdrag gegee het om ʼn klapper aan te steek wat daarna in sy gesig ontplof het, is Woensdag voorlopig teruggetrek.
Sebastian (25) en Demane Pillay (27) het vandag weer in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn waar die staat aangedui het meer tyd word benodig om die ondersoek af te handel.
Alwyn Griebenow, die prokureur wat die broers verteenwoordig, het gesê die vorige uitstel van die saak was die finale uitstel wat toegestaan is om die staat kans te gee om hul saak gereed te kry. “Ek het niks verder om te sê nie,” het hy gesê. Die aanklagte teen die Pillay-broers is daarna voorlopig teruggetrek.
Die broers is die seuns van ʼn polisiekolonel in die stad.
Maroela Media het vroeër berig hulle het na bewering vir Shane Witbooi op 8 Januarie in die vroeë oggendure ʼn klapper gegee en hom aangesê om dit aan te steek. Die klapper het ontplof en ernstige skade aan Witbooi se gesig aangerig. Na wat verneem word, kan Witbooi moontlik blind raak in een van sy oë.
Nadat die broers vroeër op borgtog van R500 elk vrygelaat is, het hulle die hof laggend verlaat en hul gesigte vir verslaggewers se kameras verberg.
Hulle moet klappers heeltemal verbied