Aankondiging oor e-tolstelsel kom gou

e-tol

Argieffoto

Daar sal binne die volgende twee weke ʼn aankondiging gemaak word oor die toekoms van die omstrede e-tolstelsel op Gauteng se snelweë.

Dit was die versekering van Fikile Mbalula, minister van vervoer, toe hy vrae beantwoord het in ʼn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies.

Daar sou teen einde Maart al ʼn aankondiging in dié verband gewees het, maar Mbalula het in April gesê hy kan geen aankondiging maak voordat die kabinet ʼn besluit geneem het nie.

Volgens Mbalula is daar egter nou ʼn “besluit ter tafel”.

“Ons is in gesprek met die tesourie en reeds aan die einde van ons proses. Ons moet dié besluit in die volgende twee weke finaliseer.”

Die e-tol-uitdaging het volgens Mbalula ʼn groot vertraging in ander padprojekte veroorsaak en daarom is die dringende oplossing daarvan van die grootste belang.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds in 2019 opdrag gegee dat Mbalula, Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, Gautengse premier, met ʼn oplossing vir die e-tolstelsel vorendag moet kom.

Mboweni het verskeie kere gesê die e-tolstelsel gaan nie in die nabye toekoms geskrap word nie terwyl die Gautengse regering ook al herhaaldelik sy teenkanting teen die stelsel te kenne gegee het.

Die DA meen dit is nou belangriker as ooit tevore om finaal ʼn besluit oor die e-tolstelsel te neem aangesien kos- en brandstofpryse die afgelope jaar gestyg het. Dit plaas verdere druk op verbruikers se sakke wat reeds negatief deur die Covid-19-pandemie beïnvloed is.

“Dié belofte is egter niks nuuts nie en ons het al soortgelyke ondernemings deur min. Mbalula gekry wat op niks uitgeloop het nie,” het Fred Nel, DA-woordvoerder oor paaie en vervoer in Gauteng, gesê.

“Die DA sê al vir hoe lank dat e-tol ʼn onregverdige las is vir die inwoners van Gauteng wat reeds sukkel om kop bo water te hou. Ons hoop van harte dat Mbalula dié keer sy belofte sal nakom aangesien inwoners gedwing is om te betaal vir iets waartoe hulle in die eerste plek nie ingestem het nie.”

Die DA sal volgens Nel voortgaan om druk uit te oefen op Makhura om ʼn interregeringsgeskil oor die e-tolstelsel te verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Saartjievandiebosveld

Padprojekte agterweë gebly…nonsense. …meeste van die E.-Tollgeld is vir ‘n oorsee se maatskapy bedoel…en die res vir julle sake. …

Stof

As die besluit sou wees om die stelsel te skraap, sal die Departrment van vervoer uiteindelik gehoorsaam wees aan Eksodus 20:15.
En ek glo, dan lofprys al die lesers saam.

Willem

Kom ons kyk wat gebeur oor 2 weke

Wiehan

Willem, stem saam. Kom ons kyk oor 2 week. Dan gaan die “werkers” van e-tol optogte hou want as hulle dit skraap, gaan hulle nie meer werk hê nie.

Pietertjie

Het iemand dalk boek gehou van hoeveel keer daar al “aankondigings” belowe is?