Aankondiging oor Mynbouhandves verwelkom

Argieffoto

Mark- en mynbou-ontleders het pres. Cyril Ramaphosa se ingryping betreffende die Mynbouhandves verwelkom.

Ontleders wys daarop dat Ramaphosa se ingryping waarskynlik die einde van Mosebenzi Zwane,  minister van minerale hulpbronne, beteken.

Die Kamer van Mynwese, die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) en Solidariteit is onder die partye wat die Handves vandag in die hof sou betwis het. Die presidensie het egter Sondagmiddag aangekondig dat samesprekings die naweek met die Kamer gehou is om die dooiepunt op te los.

Zwane is die afgelope ruk onder druk oor sy moontlike rol in staatskaping en die Vrede-suiwelprojek wat die Gupta-familie glo bevoordeel het.

Die ekonomiese navorsingsgroep, NKC Research, sê dat Ramaphosa duidelik bewus is van wat die mynsektor grief. Die groep voeg by dat dit vertroue in die sektor wat steeds ʼn kernsektor vir die ekonomie is, kan herstel.

Die groep wys daarop dat Ramaphosa daartoe verbind is om oor die kwelkwessies te onderhandel. Hy gaan binnekort met die mynbousektor samesprekings hou om die haakplekke met die regering uit te stryk. Ramaphosa se onderneming het daartoe gelei dat die Kamer van Mynwese sy regstappe vir eers opgeskort het. Ander partye het egter aangedui dat hulle steeds die hof sal nader aangesien hulle nie deel was van die samesprekings die naweek nie.

Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder van die presidensie, sê dit sal albei kante geleentheid bied om ʼn gunstige oplossing te vind. Hy het bygevoeg dat Ramaphosa graag met die sektor wil saamwerk en wedersydse vertroue verseker.

Seale sê dit is noodsaaklik dat die knelpunte opgelos word om die mynbousektor te red. “Dit is ʼn belangrike sektor in die ekonomie – en dit kan help met werkskepping,” het hy bygevoeg.

Dr. Azar Jammine, hoofekonoom by Econometrix, sê Ramaphosa se optrede sal waarskynlik vir die mynbousektor groot verligting bring. Hy wys daarop dat die huidige Handves nie net beleggings in die sektor benadeel het nie, maar ook tot onttrekkings gelei het.

Jammine sê die president se stappe sal dus die skade wat die Handves aangerig het, stuit. Maar hy verwag nie juis enige groot beleggings in die land se mynbousektor nie totdat die hele kwessie opgeklaar is.

Intussen het die wêreld se grootste platinum-myngroep, Amplats, vandag aangekondig dat hy vir die eerste keer in sewe jaar ʼn dividend sal betaal, maar nie in enige nuwe projekte gaan belê nie.

Mynbou-aandele het vanoggend op die JSE uitgeblink. Die mynsektor het met bykans 1% gestyg kort nadat die beurs geopen het. Handelaars sê beleggers kyk nou opnuut na die sektor met positiewe belangstelling.

Die vakbond Solidariteit het intussen die ooreenkoms wat tussen die Kamer van Mynwese, die departement van minerale hulpbronne en die presidensie bereik is om die hofgeding oor die konsepmynbouhandves deur ʼn onderhandelingsproses te vervang, verwelkom. Dit was presies die versoek wat die belanghebbende partye in April 2017 aan die departement van minerale hulpbronne gerig het, maar dit het die ingryping van pres. Ramaphosa en die presidensie geverg om dié logiese uitkoms te bewerkstellig.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, moet daar aan die volgende ses voorwaardes voldoen word sodat die onderhandelinge wel ʼn sukses kan wees: “Zwane en die lakeie wat hy in die departement aangestel het, moet onmiddellik vervang word. Die besluitnemers van die belanghebbende partye moet aan die handves-onderhandelinge deelneem sodat daar nie onnodige vertragings ontstaan indien daar eers mandate verkry moet word nie.

“Bona fide-gemeenskapsgroeperinge moet aan die onderhandelinge deelneem sodat hul belange ook aangeraak kan word. Die onderhandelingsplatform moenie gebruik word vir posisionering (grandstanding) deur partye nie.

“Die groei en volhoubaarheid van die mynbedryf moet die gemeenskaplike doelwit van die partye wees. Die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleum-hulpbronne (“Mineral and Petroleum Resources Development Act – MPRDA”) moet deel vorm van die onderhandelinge sodat die onsekere regulatoriese raamwerk in een proses aangeraak en opgelos word.”

Solidariteit het voorts ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om betrokke te wees tydens die proses as bemiddelaar indien daar ʼn dooiepunt in die onderhandelings bereik word. “Sy onderhandelingsvaardighede en ervaring as Kodesa-onderhandelaar sal hier ook ʼn rol kan speel,” het Du Plessis gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

My waarneming: BAIE interresant dat Cyril eerste ingryp waar hy self grootliks n goeie storie moet kan saamstel om sy aandeel in die MARIKANA SLAGTING af te speel? En dalk net miskien word sy beursie direk beinvloedmet mynwese aangewese situasies?

Handjievat ·

Ek is bly hulle het ingegryp maar ek raai die hele MYNWESE gaan uiteindelik val, daar gaan RADIKALE EKONOMIESE transformasie geskied en myne gaan in die hande van die voorheen benadeeldes oorgegee word soos Aurora en al die ander myne wat uiteindelik uitgeboer of sal ek se uitgemyn is .. en so sal die ZAma Zamas op die ou einde al wees wat geld uit die myne maak. Die top gekwalifiseerde ingenieurs gaan hulle heil elders gaan soek want die opstande en klagtes en eise gaan te veel raak om aan te voldoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.