Aankondiging oor nuwe polisiehoof ‘binne dae’ verwag

‘n Aankondiging oor ‘n nuwe poliiehoof word binne dae opgevolg. (Argieffoto)

Suid-Afrikaners sal na verwagting teen Woensdag of Donderdag weet wie die land se nuwe top-polisiebeampte is.

Genl. Khehla Sitole, die huidige polisiekommissaris, lê Donderdag die tuig neer ná ʼn gemeenskaplike ooreenkoms oor die beëindiging van sy dienskontrak met pres. Cyril Ramaphosa. Sitole het ʼn stormagtige termyn agter die rug wat veral gekenmerk is deur die oënskynlik stram verhouding tussen hom en die minister van polisie, Bheki Cele.

Hy is ook telkens gekap vir sy beweerde gebrek aan behoorlike leiding aan die polisiediens, met Cele wat toenemend die gesig van die polisiebestuur geword het.

Dr. Johan Burger, verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê na verneem word, is ʼn paneel reeds aangestel om ʼn aanbeveling aan Ramaphosa oor die nuwe polisiehoof te doen. Dit op sig self sal ʼn stap in die regte rigting wees, meen hy.

“Dit is ʼn reusestap vorentoe vir ʼn oop en deursigtige proses vir die aanstelling van ʼn polisiehoof – iets waarvoor die ISS al by herhaling gevra het en waarvoor talle ander burgerlike organisasies hulle beywer,” sê Burger.

Die drukgroep Action Society het verskeie kere al gevra dat ʼn onafhanklike paneel kundiges die nasionale polisiekommissaris moet aanwys. Ian Cameron, woordvoerder van die organisasie, het vantevore gesê dit is duidelik dat die bestuur nie “vertrou kan word om bekwame amptenare aan te stel wat werk om eerder die mense van die land as die politieke agendas van ander te dien nie”.

“Daar was nie ʼn enkele nasionale polisiekommissaris die afgelope 20 jaar wat nie bewerings van korrupsie of politieke inmenging teen hom gehad het nie. Sitole is net nog een wat by die lys gevoeg kan word,” het Cameron vroeër gesê.

Geen bestaande wetgewing maak egter in hierdie stadium voorsiening vir die kriteria waarvolgens ʼn nasionale polisiekommissaris aangestel moet word nie.

Art.207 van die Grondwet bepaal bloot dat die “president, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, ʼn vrou of ʼn man as nasionale polisiekommissaris moet aanstel, om die polisiediens te beheer en te bestuur”.

Wie dié persoon is, is die prerogatief van die president.

Burger sê die president gaan na verwagting ʼn paneel aanwys – en het waarskynlik reeds – wat onderhoude met voornemende kandidate sal voer. Dit is egter ook nie seker wie presies deel van die paneel is nie, óf wie die kandidate vir die top-pos is nie.

Die paneel bestaan egter vermoedelik uit senior staatsamptenare, sowel as kundiges van buite die staatsdiens, wat ʼn aanbeveling aan Ramaphosa sal doen.

Burger sê benewens die min voorskrifte oor wie die president mag aanstel, is daar ook geen kriteria waaraan kandidate vir die pos moet voldoen nie.

“In die geval van ʼn nasionale polisiekommissaris is hierdie kriteria heeltemal afwesig,” sê Burger.

Die paneel sou dus vooraf self op spesifieke kriteria moet ooreenkom waaraan kandidate moet voldoen.

Wêreldwyd bepaal vereistes vir ʼn polisiehoof dat die persoon “substantiewe kennis” moet hê van die burokratiese omgewing waarvan hy of sy die hoof gaan wees. Dit moet dus ʼn uiters ervare polisiebeampte wees, sê Burger.

Tweedens moet ʼn voornemende kandidaat ook voldoen aan vereistes vir integriteit: dit moet ʼn eerlike persoon wees wat integriteit op alle terreine demonstreer en iemand “sonder geraamtes in die kas”.

Burger sê dit is belangrik dat die aangewese kandidaat nie net ervaring van alle fasette van polisiëring het nie, maar ook senior bestuursondervinding moet hê. Die nasionale polisiekommissaris staan immers aan die hoof van ʼn reuseorganisasie met sowat 180 000 lede en waarvan die begroting sowat R106 miljard beloop.

Burger sê Cele, as minister, sal waarskynlik ook ʼn inset oor ʼn moontlike kandidaat lewer. Hy sal egter nie die komitee wat die aanbeveling doen in ʼn spesifieke rigting kan dwing nie.

Dit is wel uiters belangrik om geloofwaardigheid aan die proses te verleen deur paneellede van buite die staat te betrek wat kandidate aan behoorlike vraag-en-antwoord-sessies kan onderwerp, sê Burger.

Burger meen die aanstellingsproses gaan in die toekoms hopelik selfs meer deursigtig wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

voor ek vergeet ... ·

Gesien in die lig teen die agtergrond … is hierdie beslis goeie nuus.

SjN ·

Seker nog n kader wat die 30% slaagsyfer in houtwerk op skool behaal het.

Grens ·

Dit sal seker net die volgende ou wees wat ‘n beurt kry, niks word gesien as korupsie, net jou beurt.

Misky ·

Daai paneel kan soveel raad gee as wat hulle wil, CR luister steeds vir kopdoek en die ander skelms in Luthuli huis. Almal op dieselfde whats app groep.

Helen ·

Wie se familie lid gaan die opvolger wees om maar net aan te gaan om die land te verwoes. En hoekom raak hulle nie sommer van die arrogante Cele ontslae nie. Dom astrant verby

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.