Aankondiging oor verhuisings verwelkom

(Foto: Tom Vanderheyden/Unsplash)

ʼn Onderneming wat ʼn dringende hofsaansoek om verhuisings tydens die landwye staat van afsondering moontlik te maak aanhangig gemaak het, het die regulasies wat nou eindelik daaroor uitgereik is, verwelkom.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het Donderdag in die Staatskoerant afgekondig die regulasies geld vir mense wat nuwe huurooreenkomste gesluit of onroerende bates aangeskaf het. Die regulasies sluit ook die vervoer van huisraad in.

Die regulasies maak voorsiening vir verhuisings tussen 7 Mei en 7 Junie en word tot verhuisings binne die grense van Suid-Afrika beperk. Enigiemand wat wil verhuis moet die betrokke vorm, wat ook in die Staatskoerant gepubliseer is, laat invul deur die bevelvoerder van ʼn plaaslike polisiestasie. Die persoon wat verhuis moet ook koop- of huurkontrak byderhand hê.

Joppie Nienaber, uitvoerende hoof van Eezi Move Furniture Removals wat die hofaansoek aanvanklik ingedien het, het vroeër aan Maroela Media gesê talle van die onderneming se klante slaap op die vloer omdat hulle nie hul meubels by hulle het nie. Nienaber het gesê om sonder jou basiese benodigdhede gestrand te wees veroorsaak geweldige trauma.

Nienaber het Vrydag gesê die hofaansoek gaan voorlopig voort om verdere duidelikheid oor die bepalings te kry. “Hulle [die regering] verstaan dat die aanvanklike besluit groot smart veroorsaak het en ons verwelkom die minister se nuwe aankondiging daaroor,” het hy gesê.

Verskeie kwessies wat met die regulasies verband hou kan hopelik dan uitgestryk word.

Nienaber het gesê hulle is gereed om dadelik te begin werk. Die onderneming het ook reeds die nodige maatreëls getref om veilig sake te doen. Dit sluit in die ontsmetting van vragmotors, siftingstoetse van werkers en registers van almal met wie daar in aanraking gekom word.

Hy het gesê hulle doen ook ʼn beroep op mense dat net een persoon teenwoordig is wanneer items op- of afgelaai word, om die risiko’s selfs verder te verminder.

“Hierdie [regulasies] is ’n baie groot verligting vir baie mense wie se trane die afgelope ruk geloop het.”

Nienaber het gesê hulle verwag dat daar ná 7 Junie verdere regulasies oor die proses aangekondig gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

1. wat van ‘n verhuising na die grasietydperk van tussen 7 Mei en 7 Junie?
2. Wat van ‘n verhuising binne dieselfde woonbuurt? Huise net 3 km van mekaar.

Kobus

Wanner kan eiendomsagente weer begin werk? Ek is uit my huurhuis gesit en het geen verblyf nie.Agente mag my nie eiendom wys nie.Hoop een van die groot agentskappe vat hulle ook aan

Paul

Waarom ‘n vervaldatum koppel aan die toegewing??

Frans

Die minister het geen benul van wat aangaan nie.Die aktekantore was gesluit,geen aansoeke kon dus ingedien word nie.Ons huis is verkoop en as alles goed gegaan het sou ons op 2 April al getrek het,maar toe het pandemie die trein tot stilstand gebring. Die mense wat ons huis gekoop het het dieselfde probleem want hul kan ook nie trek nie,so ook die mense wat hul huis gekoop het en so gaan dit aan.Ons kan dus slegs trek wanneer die aktekantoor sy werk afgehandel het en dit hang weer af hou vinnig die prokereur die aansoek indien. Intussen bly ons tussen… Lees meer »