Aanlyn aansoeke in Gauteng: Sommige gesogte Afrikaanse skole dalk reeds vol

aanlynregistrasie-2019-02

‘n Skermskoot van die Gautengse aanlyn registrasiestelsel vir 2019.

Die Gautengse onderwysdepartement het Maandag om 15:15 bevestig dat die provinsie se aanlyn registrasiestelsel op die eerste dag nadat dit geopen het reeds 144 124 suksesvolle aansoeke vir voornemende gr. 1- en 8-leerders ontvang het.

Volgens Panyaza Lesufi, die provinsie se LUR vir onderwys, het die stelsel binne die eerste 10 minute nadat dit op 16 April om 08:00 geopen het reeds 10 000 suksesvolle aansoeke verwerk.

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS), het gesê die sentrum weet van een Afrikaanse skool wat meer as 400 aansoeke ontvang het terwyl dit plek vir omtrent net 250 leerders het.

Sy meen talle van die gesogte Afrikaanse skole in Gauteng het reeds genoeg aansoeke ontvang om hulle gr. 1- en 8-klasse vir 2019 vol te maak.

“Die vraag is egter of die leerder op die lys wel Afrikaans is of ʼn ander moedertaal het,” het Buys gesê.

Die SOS, die burgerregte-organisasie AfriForum en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het verlede week die Gautengse onderwysdepartement se registrasiestelsel gekap omdat dit nie moedertaalonderrig in ag neem wanneer ʼn kind by ʼn skool geplaas word nie.

Dit lyk nou of die amptelike voedingsgebied van elke skool binne ʼn 5 km-radius van ʼn ouer se woon- of straatadres die swaarste sal weeg wanneer ʼn voornemende gr. 1- of 8-leerder vir ʼn skool in 2019 gekeur word.

Die organisasies het Afrikaanse ouers gemaan om so gou moontlik aansoek te doen by die skool van hulle keuse om moedertaalonderrig te verseker en die taalbeleid van Afrikaanse skole te help beskerm.

Minder haakplekke as vorige jare

Die aanlyn aansoekstelsel het ouers in die eerste jaar ná die instelling talle hoofbrekens besorg. Die stelsel het telkens onder die druk van talle aansoeke geswig en daar was dikwels vrae oor die deursigtigheid van die hele proses.

Lesufi het egter gesê sy departement is tevrede met die verloop van die eerste dag van aansoeke. Die departement het wel ʼn paar haakplekke in die stelsel uitgewys, waaronder ouers wat nie hulle woon- en werkadresse kan opspoor nie en oponthoude met waglysnommers.

“Ouers behoort nie ʼn probleem te hê om hulle straatadres te vind as hulle eers die munisipaliteit kies waarin hulle woon en daarna die stad en dan die voorstad kies nie.

“Ons moedig ouers ook aan om eerder Google Chrome te gebruik wanneer hulle aanlyn aansoek doen, want die webwerf is met Google Maps gekoppel om dit makliker te maak om adresse te vind,” het Lesufi gesê.

Hy het bevestig dat die departement tans vertragings met die waglysnommers ondervind, maar gesê hulle vennoot Vodacom skenk wel aandag aan die probleem.

Buys het gesê die probleme is soortgelyk aan die klagtes wat die SOS van ouers gehoor het. “Skole, sowel as ouers wat probleme ondervind, moet dit so gou moontlik by die departement se tolvrye nommer by 0800 000 789 aanmeld.

“Ouers wat probleme met die aanlyn registrasieproses ondervind, moet hulle probleme ook skriftelik by die hoof van hulle voorkeurskool aanmeld sodat hulle ʼn papierspoor skep en verseker die onderwysdepartement neem kennis van hulle uitdagings. Navrae oor die aanlyn aansoeke kan ook aan [email protected] gestuur word.”

Lesufi het gesê ouers wat nie toegang tot die internet het nie of direkte hulp met die registrasieproses verlang, kan een van 57 toegangsentrums in die 15 onderwysdistrikte van Gauteng besoek.

“Hulle kan ook aansoek by hulle gemeenskapsbiblioteek doen of ʼn e-pos na [email protected] stuur.

“Die aanlyn registrasiestelsel is die toekoms. Dit bied ʼn regverdige geleentheid vir ouers om by openbare skole om toelating van hulle kinders aansoek te doen. Ons is nederig en dankbaar vir die ondersteuning en positiewe reaksie van ouers,” het Lesufi gesê.

Die SOS het gesê Afrikaanse ouers wat nog nie hulle gr. 1- en 8-leerders vir 2019 aanlyn geregistreer het nie, moet dit nou steeds so gou moontlik doen.

Die aansoeke sluit om middernag op 28 Mei. Ouers moet www.gdeadmissions.gov.za besoek om gr. 1’s en 8’s vir 2019 te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Boerseun ·

Gaan Affies dan na Englies herdoop word? Nie baie van sy leerders bly binne n 5km radius nie. Nou hoe gemaak met kinder op platteland wie se kinders op koshuis is? As die skool met n koshuis kinders in 5km vat en vol is wat nou van die koshuis?

semaarnet ·

Die skole met koshuise weet mos hoeveel aansoeke hulle kry. Ouers van kinders van ander Provinsies doen mos nie aanlyn aansoek nie. Hulle doen direk aansoek by die skool.

Boerseun ·

Ek dink nie jy verstaan heeltemal nie. Enige iemand kan by enige skool aansoek doen. Nou kry n skool sy 400 aansoeke, aanlyn en anders. Dis te veel vir die skool so nou moet gekies word en soos nou die geval kyk hulle na radius van 5 km en nie taal. Dink maar net aan die twee stellenbosch skole wat maar min kinder van binne 5km radius van die skool trek. Selfde geld vir Affies.

CG ·

Op grond waarvan “lyk dit nou of die amptelike voedingsgebied van elke skool binne 5km radius van ‘n ouer se woon- of straatadres die swaarte sal weeg…. ” Hoekom is dit nie vooraf gekommunikeer nie? Kinders kan by tot 5 skole inskryf. Met 400 inskrywings by ‘n skool beteken dit nie dat daar 400 kinders uiteindelik daar gaan opdaag nie. Hou asb goed dop hoe die situasie moontlik gemanipuleer kan word.

FPVZ ·

Nou weet ons wat die teikens is. Geen bewys van woonadres nodig nie. Kies net adres. Hoeveel geteikende aansoeke was daar. Hoe gouer die skole privatiseer hoe beter. Die teiken skole behoort van die naam en van afleiding te kan maak dis Afrikaans of nie. Moontlik ontneem die departement swartes wat Afrikaans onderrig wil he van geleentheid.

Carla ·

Jy moet bewys van adres by skool inhandig na die aanlyn aansoek het jy 7 dae om al die nodige dokumente asook aansoek by skool direk in te dien

leon ·

Intussen verlustig Lesufi hom in die geskarrel en bekommernis van die tweedeklas burgers in hul poging om hul taalregte te handhaaf. Regte, wat die Afrikaner geglo het, deur ons wereldklas grondwet beskerm sou word.

Andre ·

Waar is de Klerk en die ja-stemmers nou met die destydse “eie skole” wat kamstig gewaarborg was?

honourable member ·

Watse geskarrel is dit nou vir skole. Hierdie ander mense moet ophou skole afbrand dan sal hulle nie so hoef te skarrel vir plek in skole nie. Die regering moet begin skole bou vir hierdie mense en ophou om hulle in ons kele te kom afdruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.