Aanlyn aansoeke vir Gautengse skole uitgestel

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Gautengse departement van onderwys het Vrydag op die nipper ingestem om die gr.1 en gr.8 aanlynregistrasies vir 2020 uit te stel ná ʼn dringende versoek om dié toelatingstelsel te hersien.

Dit kom nadat AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum hul kommer uitgespreek het oor gebreke in die aanlyn registrasieplatform.

Die departement se regsverteenwoordigers het in ʼn brief aan die organisasies se regsverteenwoordiger bevestig dat daar vroeër vandag ʼn vergadering plaasgevind het tussen die departement se senior bestuur en verteenwoordigers van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Hoewel die brief nie enige besonderhede gee oor die aard van die besprekings by die vergadering nie, word dit wel bevestig dat die departement ingestem het om die datum van die aanlyn aansoeke met ʼn week, tot 20 Mei, te verleng.

Die departement onderneem ook in die brief om teen 14 Mei volledig op AfriForum en SOS se skrywe te reageer.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum en die SOS het Maandag ʼn dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement van onderwys gestuur waarin die twee organisasies beswaar maak teen gebreke in die provinsie se aanlyn skoleregistrasieplatform.

Beide organisasies is bekommerd oor die wyse waarop die platform opgestel is. Volgens die departement en ʼn proeflopiestelsel maak dit glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders in gr.1 of gr. 8 in 2020 is nie.

Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taal van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies as die primêre keuse aangebied. Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ʼn laerskool in Gauteng geregistreer is, voorkeur moet geniet vir gr.1-plasing by die betrokke skool in 2020.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, het vanmiddag gesê die organisasies waardeer die ruimte vir konsultasie wat geskep word deur die uitstel van die toelatingsproses. “Ons hoop dat die nodige wysigings aan die stelsel aangebring sal word om ouers en leerders se grondwetlike reg op keuse van skool en taal van onderrig te bevestig,” sê Buys.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het ook die uitstel verwelkom. “AfriForum beskou hierdie nuus as ’n reuseoorwinning. Ons verwelkom ook die onderwysdepartement se besluit om die proses uit te stel en probleme met die stelsel reg te maak,” sê Bloem.

Die organisasies meen die departement se besluit om die aansoekdatum uit te stel, is ʼn bewys daarvan dat hy self wesenlike probleme raaksien met betrekking tot die toelatingsproses.

“Benewens vele tegniese probleme, bestaan daar beginselprobleme ook,” sê Buys. “Die stelsel in sy huidige formaat ontneem ouers van die reg om ʼn keuse uit te oefen oor waar hul kind skoolgaan. Onderrigtaal van keuse word boonop geensins in berekening gebring nie.”

Maroela Media is bewus van enkele skole wat Vrydagmiddag reeds ʼn kennisgewing aan ouers uitgestuur het om hulle van die jongste verwikkelinge te verwittig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andreas ·

Lesufi moet nou eers weer gaan dink oor hoe om die volgende versperring te oorbrug. Maar baie interessant sê die OVK dat die land is nog nie reg om aanlyn stemme met verkiesings uit te bring nie.

Andreas ·

Ai die tegnologie darem, dan is dit bo die knie, dan is dit onder die knie.

Naas ·

Ek het mnr Lesufi vroeër die week oor die radio hoor sê dat hy nie belangstel om in ‘n openbare amp te dien na die verkiesing nie. Hy wil eerder op persoonlike vlak ‘n verskil maak. Dit verduidelik dalk die departement se optrede wat nie lus is vir hofsake wat hulle moontlik gaan verloor nie.

Pikkie ·

Die OVK praat bog. My maatskappy het in 2009 al ‘n voorstel ingedien om elektronies per selfoon of tablet te stel nadat jy geregistreer het met jou ID en ‘n unieke PIN wat jy self kies. Die koste om te implementeer was nie eers R180 000 nie. Dis afgeskiet omdat “our people don’t have cellphones and can’t afford data”. Die toep sou minder as 1mb gebruik om te registreer EN te stem! Nee, dis afgekeur want (a) dan kon bokse nie sporadies verdwyn nie (b) stembriewe “misgestempel” word nie (c) tenders nie uitgedeel word vir ink, druk, tente, papier, ens. nie (d) te veel mense hul geldjie op stemdag sal verloor. Asof ENIGE iemand gese het die toep-metode moet die ENIGSTE een wees. Dit kon in kombinasie met ‘n tradisionele proses gedryf word. So ja. Daar het jy dit.

Danie ·

Wat beten dit nou, gaan ons nou normaal aansoek doen vir ons kinders by enige skool of moet ons wag tot n nuwe datum?

Johan Neuteman ·

Is die aansoektydperk verleng of is die begindatum uitgestel?

Thomas ·

Die eerste vraag wat geantwoord moet word is wat het die stelsel gekos. Die tweede vraag is aan wie is die tender toegeken. Ek vermoed ek ken die antwoorde.

Magret Smith ·

Halo ek wil graag weet of ons nog op die 13 De Mei ons kinders by die skole kan gaan registreer vir 2020. Ons het nog niks op die nuus gehoor hiervan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.