Aanlyn afspraakbedrieër ook deur FBI ondersoek

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Aanlyn bedrieër is sewe jaar direkte tronkstraf opgelê nadat hy ʼn vrou uit duisende rande geswendel het.

Christiano Ogbeifun (50), ʼn Nigeriër, het in die Bellville-handelshof skuldig gepleit op 24 aanklagte van bedrog en een aanklag van geldwassery.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê Ogbeifun het erken dat hy deel was van ʼn sindikaat wat ʼn aanlyn afspraakbedrogspul bedryf het. Die doel daarvan was om groot bedrae geld uit slagoffers te swendel wat “maklik was om om die bos te lei”.

Die Valke se ondersoek het gewys dat Ogbeifun vals afspraakprofiele onder die naam “Ceed” geskep het en deur die webwerf badoo.com met sy slagoffer gesels het.

In Januarie 2014 het “Ceed” sy slagoffer gevra om ʼn beskadigde rekenaar te vervang en beloof om haar terug te betaal. Die vrou het “Ceed” se instruksies gevolg en aanvanklik R600 486,20 in sy rekening oorbetaal.

Tussen Januarie 2014 en September 2014 het Ogbeifun die vrou oortuig om uiteindelik R4,1 miljoen aan hom te betaal, elke keer met die belofte dat sy die geld gaan terugkry, sê Hani.

Die bankrekening waarin die geld by Standard Bank betaal is, was in die naam van Topiciano Wire Light Company, met Christiano Ogbeifun as die enigste persoon met tekenregte daarop.

Hy is 15 jaar tronkstraf opgelê vir die 24 aanklagte van bedrog, waarvan agt jaar vir ʼn tydperk van vyf jaar opgeskort is. Hy is ook vyf jaar tronkstraf vir geldwassery opgelê.

Die hof het beveel dat sy vonnisse gelyklopend uitgedien word.

Die FBI het Ogbeifun intussen ook uitgewys as ʼn persoon van belang in ʼn voortgesette ondersoek na aanlyn bedrog waar hy na bewering ook een van die oortreders is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elsabe ·

Rekenaar vervang met R600+K???? HHoe uiters, uiters dom. Hou jou geldjies vas, onder die bed as dit moet, want daar is vultures daar buite wat jou dophou. Die vultures is uiters slim en ‘ruik’ jou en jou geldjies uit.

Alta ·

Ek kan nie glo dat hy ‘n opgeskorte vonnis gekry het nie. Sulke mense hou nie op met hulle dade nie.

ES ·

Weet nie hoe dink party van hierdie bedrieers dat hul nooit gevang gaan word nie…

KB ·

Ek het lanklaas van ‘n eerlike Nigeriër is SA gehoor.
As die FBI hom óók soek, hoe kan SA hom ‘n opgeskorte vonnis gee?!

LANA is ELANè ·

Hoe val enige regdenkende mens vir so iets, of is dit wat desperaatheid vir geselskap kos?

Johanna ·

Aggenee! Ek se altyd as jy dom is moet jy sukkel. Mens moet leer uit ander se foute uit.. Aanlyn verhoudings is scary. Jy praat eintlik met n gesiglose persoon, al kry jy mooi fotos van hom af.
Nee sien maar eerder die persoon in Regte lewe, selfs dan moet jy steeds versigtig wees.
Jy sien iemand voor sy kop, maar jy weet NIE wat gaan aan in sy binneste nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.