Aanlyn bankbedrog duur voort, sê ombudsman

Argieffoto (Foto: Darwin Laganzon/Pixabay)

Die ombudsman vir bankdienste het Donderdag sy 2018-jaarverslag vrygestel wat, tesame met ander interessante statistiek, onthul dat aanlyn bankbedrog al twee jaar lank die kantoor op sy tone hou.

Die verslag het bevind dat 7 307 sake verlede jaar afgehandel is; dit is 12% meer as in 2017 en ʼn toename van 40% die afgelope twee jaar.

Die ombudsman het gesê klagtes oor kitsbankbedrog het met 4% afgeneem van 18% tot 14%.

Reana Steyn, die ombudsman vir bankdienste, het gesê klagtes oor kwessies wat betref internetbankbedrog en kitsbank- en kredietkaartverwante klagtes hou die kantoor besig. Steyn het gesê die kantoor het 1 459 sake van internetbankbedrog oopgemaak en 1 348 sake vir die jaar gesluit. Internetbank-, kitsbank- en kredietkaartbedrog verteenwoordig 48% van klagtes in die kantoor.

“Ondanks die feit dat ons besiger was as ooit, het ons ʼn uitstekende reaksietyd volgehou, met ʼn gemiddeld van 41 dae om ʼn saak af te handel. Die diensstandaard om klagtes binne vier maande op te los, is in 95,4% van die sake behaal,” het Steyn gesê. “Dit is duidelik, uit die getal klagtes wat die kantoor ontvang het, dat aanlyn bankverwante klagtes steeds die grootste probleem bly vir kliënte.”

Steyn het bygevoeg dit is egter duidelik dat kliënte meer bewus is van bedrieërs en meer versigtig is wanneer hulle transaksies doen by kitsbanke. Die grootste getal klagtes is van Gauteng (42%), Wes-Kaap (15%) en KwaZulu-Natal (13%). Altesaam 70% van die klagtes is van persone ouer as 40. “Ons glo die ouer generasie is meer kwesbaar vir bankbedrog. Ons probeer bewusmaking skep deur veldtogte om dié kwessie aan te roer.”

Steyn het gesê die kantoor werk deurgaans met reguleerders en die betrokke bedryfsliggame om seker te maak dat die dispuutresolusiediens onafhanklik, regverdig, en vinnig geskied en van die hoogste standaard is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette ·

En pas ook maar op vir enige “I want to talk to you about your computer” oproep. Sit die foon dadelik neer.

HPV ·

Persoonlik beeïndig ek alle reklame oproepe onmiddelik, ek koop ook niks by besighede op sosiale media wat nie ‘n amptelike webtuiste besit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.