Aanlyn inkopies al hoe gewilder

aankope-aanlyn-internet

(Foto: Negative Space/Pexels.com)

Aanlyn inkopies in Suid-Afrika gaan vanjaar die R62 miljard-kerf haal en oor die volgende vier jaar jaarliks met 10% groei, voorspel Statista, ʼn internasionale sakedataplatform.

Die organisasie sê e-inkopies, veral in die kleinhandelsektor, het ondanks die afsonderingsregulasies wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, rekordgroei getoon. Gebruikersindringing gaan vanjaar 37% wees en teen 2024 gaan amper 51% van gebruikers van aanlyn inkopies gebruik maak.

Selfs al het die afsonderingsregulasies inkopies aanvanklik tot sogenaamd noodsaaklike items beperk, het 22% van die 1 000 Suid-Afrikaners wat in April aan ʼn meningsopname van Ipsos deelgeneem het, gesê hulle doen meer aanlyn inkopies as ʼn maand tevore. Nagenoeg 65% van mense het ook gesê hulle besoek supermarkte minder.

“Al hoe meer mense besef dat aanlyn inkopies betroubaar is, asook ʼn veilige en doeltreffende manier om kwessies soos gesondheid, veiligheid en bekostigbaarheid te hanteer,” het Craig Lubbe, uitvoerende hoof van Bidorbuy, gesê.

Die webwerf het meer as twee miljoen geregistreerde gebruikers en het dubbelsyfergroei waargeneem in inkomste én nuwe gebruikers.

“Die toename in e-handel, veral nou, versterk die punt dat verbruikersvertroue en die geloofwaardigheid van aanlyn handelaars uiters belangrik is, veral in ʼn era van verhoogde risiko en onsekerheid,” het Lubbe gesê.

Luidens ʼn opname wat onder 13 000 mense in 11 lande gedoen is, was daar ʼn beduidende toename in vertroue in dié handelaars onder mense in 10 van die 11 lande. Lubbe sê vertroue vorm die kern daarvan of gebruikers terugkeer al dan nie.

Nagenoeg 65% van diegene wat aan die opname deelgeneem het, glo sakeleiers moet die voortou neem om die uitdagings van die pandemie te help pak en 60% glo uitvoerende hoofde van internasionale maatskappye moet die ondernemings se mag en hulpbronne gebruik om mense in die land waar hul hoofkantoor is, te help.

“Wat dít vir ons sê, is dat ons in sake- en e-handel ʼn morele verpligting het,” het Lubbe gesê.

Veiligheid en privaatheid vir aanlyn inkopiegangers is ononderhandelbaar en kredietkaartbedrog is vir Suid-Afrikaanse gebruikers ʼn enorme kopseer, het Michael Richard, eienaar en direkteur van SiteMeUp Marketing, ʼn plaaslike webontwikkelaar vir handelaars, gesê.

Dit word dus al hoe belangriker dat webwerwe voldoen aan die minimum standaarde wat betref die veiligheid van aankope.

Ander faktore wat vir gebruikers belangrik is, sluit in of die platform wettig en geloofwaardig is, hoe die webwerf lyk en ondervind word, hoe vinnig dit laai, hoe doeltreffend skakels is en of dit ʼn genotvolle ervaring verseker.

“Benewens vinnige navigasie moet produkte ook uitstekend gekategoriseer word, daar moet groot klem op kliënteterugvoer wees en daar moet deurlopend terugvoer oor die vordering met ʼn bestelling gegee word,” het Richards gesê.

“Dit sluit in aanlyn nasporing, SMS-kennisgewings oor die status van ʼn bestelling en verskillende betalingsopsies wat probleemvry en veilig is.”

Hoewel Black Friday-uitverkopings in November gewoonlik die grootste getal inkopiegangers lok, raai Lubbe winskopiejagters aan om ook op ander spesiale promosiedae soos onder meer openbare vakansiedae of Moedersdag op die uitkyk vir goeie aanbiedinge te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Snowball

Binnekort sal dit dalk die beste en enigste opsie wees in SA, want misdaad is baas hier. Elke keer dat jy dit buite waag is jy ‘n potensiële slagoffer van een of ander krimineel.