Aanlyn klasse vir hoër onderwys verwelkom

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys (30 Junie 2021) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die vakbond vir tersiêre instellings Saptu verwelkom die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande se aankondiging dat alle universiteite en ander naskoolse instellings oop sal bly tydens vlak 4 van die inperking, hoewel daar nie fisiese klasse sal wees nie.

“Dit is noodsaaklik vir die toekoms van die land dat studente met so min as moontlik ontwrigting met hulle studies voortgaan,” sê adv. Ben van der Walt, die hoofsekretaris van die South African Parastatal and Tertiary Institutions Union (Saptu). “Die afgelope Jeugdag is ons weer herinner aan die belangrikheid van onderwys en vaardigheidsopleiding.”

Die minister het ook gesê dat die departement van gesondheid die terreine van verskeie tersiêre instellings gebruik as inentingsentrums. Suid-Afrika het tot dusver 3 026 636 mense, insluitende ongeveer 50 000 onderwysers per dag sedert die Basiese Onderwyssektor se inentingsprogram op 23 Junie 2021 begin het, ingeënt.

Saptu wens Nzimande geluk met die insig om sy departement solank te laat begin met ʼn strategie om die personeel – akademies en ondersteunend – in die tersiêre bedryf in te ent, hoewel daar nog geen geskeduleerde datums is nie.

“Ons vertrou dat hierdie stap daartoe sal lei dat die inentingsproses sonder enige groot voorvalle uitgerol sal word,” sê Van der Walt. “Ons moedig die departement van gesondheid aan om ons lede by tersiêre instellings te prioritiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.