Aanlyn registrasie van leerders: ‘Gaan ook sélf na die skool’

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn beroep op ouers gedoen om hulle kinders wat in 2017 in graad 1, 8 of ’n nuwe skool in Gauteng sal wees, so gou moontlik te registreer.

“Ouers word aangeraai om die ondersteunende dokumente by die skool van hulle keuse te gaan indien. Dit sluit byvoorbeeld ʼn bewys van adres, inentingsertifikate, asook afskrifte van die kind se geboortesertifikaat, ouers se ID’s en die kind se mees onlangse rapport in. Ouers moenie wag tot die aanlyn registrasiestelsel van die Gautengse onderwysdepartement of die skool self hulle in kennis stel dat hulle dit moet indien nie – hulle moet self die inisiatief neem,” het Carien Bloem, projekkoördineerder van AfriForum se onderwysveldtogte, gesê.

Die aanlyn stelsel het die afgelope twee weke herhaaldelik ineengestort weens die aantal ouers en voogde wat probeer registreer het. Bloem het ouers aangemoedig om steeds na die skool van hulle keuse te gaan omdat die registrasieproses ook deur die betrokke skool hanteer kan word. “Skole moet ’n rekord hou van alle ouers wat by hulle aanklop om te registreer. Ouers wat wel aanlyn registreer, moet dit beslis die volgende dag opvolg of hulle aansoek wel deur middel van die stelsel by die skool uitgekom het.”

AfriForum het ook weer versoek dat alle klagtes en probleme wat ouers met die stelsel ervaar by [email protected] aangemeld moet word. Ouers moet die tyd en datum waarop die probleme ondervind is, noem, asook bewyse (skermskote) by die klagtes aanheg. “AfriForum sal alle moontlike stappe doen om te verseker dat ouers en kinders se keuses wat skool en taal van onderrig betref, nie deur die huidige proses benadeel word nie,” het Bloem bygevoeg.

Lees die vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie ·

Goeie raad van Afriforum. Maak liewer dubbeld seker om te voorkom dat jou aansoek soos ons registrasieadresse in die kuberruim verdwyn of verander word.

Incogniteo ·

Ek wonder of hulle dalk ‘n Pentium 1 met Windows 95 vir R10 mil aangekoop het vir die ou takie. Ek meen, werk dit self uit ….. 40 MB hardeskyf = 40 miljoen grepe. Daar is nie 40 miljoen leerlinge in die land nie. Soooo ….. ooooorgenoeg spasie. Moenie verbaas wees as daar dalk bietjie waarheid agter die gekskeerdery sit nie.

Disselboom ·

Daar kan gespot en geraas word, maar lawaai en sarkasme gaan niks verander aan die oorhoofse probleem van staatsonderwys wat ‘n gelykmakende onderwys vir ‘n baie diverse bevolking is nie. Die NSC se eerste beginsel is: “Social transformation; ….” en verder is menseregte en “social justice” sentrale temas. En dit kom na vore in die openbare skole se leermateriaal; maar dis waarbinne die oorgrootte meerderheid Afrikanerkinders onderrig word.

Nou spoeg en raas ons oor die registrasie-prosesse om ons kinders by die skole wat hierdie (staats)kurrikulum wat openlik verklaar dat dit op “social transformation” ingestel is, te gaan inskryf. Die stelsels en prosesse word swak bestuur en verdien kritiek, maar hier word iets weer sigbaar van enkelvoudige denke wat vashaak daarby dat kinders in staatskole ingeskryf moet word.

Daar is ‘n ander gesigspunt: hoekom het Afrikaners se eie skoolstelsel nog nie sy eie moderne aanlyninskrywingstelsel nie? Nie een van die twee bestaan nie, dus het ons van voorlopers, pioniers en bouers in die vorige eeue verander in kermende klaers wat van die staatsinstellings afhanklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.