Aanlyn speletjie wil jeug aan die dink kry oor politiek

ecivix-daniel-du-plessis-hs-waterkloof

Daniel du Plessis spreek leerder van Hoërskool Waterkloof in Pretoria toe oor eCivix, ‘n gratis aanlyn verkiesingspeletjie, SA se verkiesingstelsel en die grondwet. Foto: eCivix/Facebook.

Navorsers reken net sowat die helfte van Suid-Afrika se jeug tussen die ouderdom van 18 en 29 wat geregistreerde kiesers is, het wel in die vorige drie verkiesings in 2011, 2014 en 2016 uiteindelik ʼn kruisie gaan trek.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het kort voor verlede jaar se munisipale verkiesing ʼn verslag bekendgemaak wat toon dat die Suid-Afrikaanse jeug nie noodwendig apaties is nie, maar eintlik eerder ontnugter is deur die land se huidige politieke landskap. Hulle voel dikwels dat verkiesings nie die beste manier is om verandering teweeg te bring nie en dat dit politiek korrup is en net oor selfverryking gaan.

ʼn Groep studente van die Universiteit van Pretoria het egter koppe bymekaar gesit in ʼn poging om die jeug se siening oor politiek te verander. Die studente is tans besig om ʼn gratis aanlyn verkiesingspeletjie te ontwikkel, wat beoog om politiek nie net pret en interessant te maak vir die jeug nie, maar ook die uitwerking van beleidgebaseerde politiek onder die aandag van spelers te bring. Boonop is die speletjie ook eg Suid-Afrikaans.

“Politiek gaan eintlik maar oor die voorstel en inwerkingstelling van beleidsrigtings en natuurlik is dit belangrik vir ʼn party om sy spesifieke beleid aan die breër bevolking te bemark.

“So, omdat jy in hierdie speletjie jou eie verkiesingsveldtog moet bestuur, moet jy ook besluit wat presies jou party gaan sê,” verduidelik Daniel du Plessis, een van die ontwikkelaars van eCivix.

ʼn Speler kan tien van ʼn stel beleidsrigtings kies en dan besluit wat sy of haar posisie ten opsigte van hierdie beleid is – van min of meer streng konserwatief tot baie liberaal.

Die speletjie gebruik egte data van Suid-Afrika se samestelling om te bepaal hoe waarskynlik dit is dat die speler se partybeleidstellings kan werk en hoeveel moeite hulle byvoorbeeld sal moet doen om dit te bemark.

“Dit is ongelukkig so dat Suid-Afrikaners meestal hulle stemme uitbring gebaseer op die geskiedenis van ʼn politieke party, en meestal langs kleurgrens stem. Ons hoop om met eCivix nie net burgerlike betrokkenheid te bevorder nie, maar ook die jeug se grondwetlike kennis te verdiep en te verbeter wanneer hulle die speletjie speel,” het Du Plessis verduidelik.

Die studente hoop hulle kry veral die jeug aan die dink oor partye se beleidsrigtings en hoe hulle as stemgeregtigdes daaroor voel, asook wat hulle glo die uitwerking van die beleidsrigting vir die land se mense en toekoms sal wees.

“Die hele projek word deur onsself, sonder enige winsmotief, gedryf. Dit is bloot ʼn handjievol studente wat hulle liefde vir politiek en tegnologie wil gebruik om ons demokrasie te verdiep,” het Daniël Eloff, wat ook betrokke is by die projek, gesê.

Du Plessis hoop die speletjie sal ook help om kiesers te motiveer om politici nie net aanspreeklik te hou vir wat hulle doen nie, maar die soort beleidsrigting wat hulle voorstaan. “Ons sit in Suid-Afrika in die volgende posisie: As ʼn politikus sy werk doen, ongeag wat sy beleid is, is ons maar min of meer tevrede daarmee. Waarop dit eintlik moet neerkom, is dat ons na ʼn plek moet beweeg waar ons meer oplet na die beleid en rol van die party in die politiek self. Politici moenie kan wegkom deur gonswoorde rond te gooi om kiesers te werf nie, hulle moet wesenlike antwoorde vir Suid-Afrika se kernprobleme kan bied.

“Omdat spelers in eCivix hulle eie kernbeleidsrigting moet kies, wil ons hulle daarvan bewus maak wanneer ʼn politieke party eintlik besig is om die kiesers te mislei.”

Die speletjie sal na verwagting in September beskikbaar gestel word. Die studente beplan ook om verskeie gratis werksessies by skole aan te bied waar hulle die Suid-Afrikaanse verskiesingstelsel aan leerders wil verduidelik en grondwetlike regte bespreek.

  • Vir meer inligting besoek eCivix se Facebook-blad.
  • Luister gerus ook na Esté Meyer Jansen se gesprek met Daniël Eloff en Daniel du Plessis, twee van die ontwikkelaars van die aanlyn verkiesingspeletjie eCivix. Hulle verduidelik presies hoe die speletjie werk en wat hulle graag daarmee wil bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Baie goeie idee. My geslag was maar onkundig wat die politieke strominge in die land betref en ek het eers in my twintigs n besef begin ontwikkel vir die rol van politiek. Ek dink monopoly gaan duik met die produk op die mark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.