Aanlynaansoekplatform ‘teen die wet en wanfunksioneel’

'n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

‘n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

Fedsas het sterk uitgevaar teen die elektroniese platform wat deur die Gautengse onderwysdepartement beskikbaar gemaak is om leerders te registreer.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê die platform in sy huidige formaat benadeel meer as 300 000 leerders en voornemende leerders in hierdie provinsie. “Nie alleen voldoen die e-platform nie aan wetgewing nie, maar dit is boonop nie funksioneel nie. Die feit dat daar geen gelyklopende papiergebaseerde alternatief is nie, beteken dat duisende ouers nie hul kinders betyds by die skool van hul keuse sal kan inskryf nie. Ouers sonder internettoegang word ook ooglopend deur die stelsel benadeel.”

Volgens Colditz is die probleme met die platform reeds verlede jaar uitgewys, maar is daar geen noemenswaardige veranderinge aangebring nie. “Fedsas is nie teen die gebruik van ’n elektroniese stelsel nie, maar wel teen die e-platform in sy huidige formaat. Gesprekke met amptenare van die Gautengse departement van onderwys om hulle van die onwerkbaarheid van die stelsel te probeer oortuig, was onsuksesvol. Versoeke om met die LUR vir onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi, hieroor te praat, val ook op dowe ore.”

Colditz het gesê Fedsas het intussen sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om ’n aanmaning aan die departement te stuur teen einde ʼn “grootskaalse onderwyskrisis” te vermy. “Fedsas eis dat die stelsel onmiddellik geskrap word. Alternatiewelik moet die LUR ’n waarborg kan gee dat die stelsel teen Maandag 18 April funksioneel sal wees, asook sal voldoen aan alle wetlike vereistes. Indien nie, sal Fedsas sy prokureurs opdrag gee om die hof te nader om seker te maak dat ’n onwettige, wanfunksionele toelatingstelsel nie geïmplementeer word nie.”

Volgens Colditz ontvang hulle talle klagtes van ouers, onder meer omdat die e-platform nie voorsiening maak vir ’n keuse van taalvoorkeur nie. “Die bepalings van die Skolewet en skoolbeheerliggame se beleid word nie in ag geneem nie. Die feit dat daar nie ’n gelyklopende papiergebaseerde proses is nie, beteken dat daar geen manier is om inligting te verifieer nie. Ouers wie se elektroniese toelatingsaansoeke dus weens tegniese probleme nie ontvang is nie, het geen manier om te bewys dat hul wel deur die proses gegaan het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Regeering van narre strompel van een gemors na die volgende.

Andrea van Vuren ·

Dankie Paul Colditz. Ek gaan vanaand op my knieë neersak en die Here dank vir mense soos jy!

Janie Janse van Rensburg ·

Dit is nou great en dan het ek nou n hele dag gemors want as dit hof dit onwettig verklaar dan moet ons seker weer n nuwe proses volg dit is ook nie reg nie . ons is nou in die gemors maak net seker dat dit volgende jaar beter gaan . Die online is nie so sleg as dit werk noe maar ekstem saam daar moet verbetering wees . Hul mort internt toegang gee v mense want nie dit het nie en dan moet hul dalk Gauteng opdeel in Sections en dan se hierdie dae registreer die sections en dan so verhoed ons dat servers crash .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.