Aanlynregistrasie: Ouers aangemoedig om aansoek te doen

skool

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het Woensdag ouers en voogde in Gauteng aangemoedig om sonder verwyl aanlyn aansoek te doen vir toelating by die skool van hul keuse.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het gesê druk deur die federasie het bygedra tot wysigings aan die sukkelende aanlynregistrasieplatform wat verpligtend is om gr. 1- en gr. 8-leerders vir toelating in 2017 by skole in die provinsie te registreer.

Hy het gesê Fedsas het verlede week ’n aanmaning aan die departement gestuur om wysigings aan te bring óf die stelsel in sy huidige formaat te skrap aangesien die stelsel in wese nie aan wetlike vereistes voldoen het nie.

“Twee belangrike wysigings sluit in dat ouers nou self die skool van hul keuse kan aandui en dat aansoeke na skole gestuur word vir die saamstel van die sogenaamde A- en B-lyste,” het Colditz gesê. “Dit bring mee dat ’n skool se taal- en toelatingsbeleid in berekening gebring word. In sy vorige formaat het die platform bloot ’n skool toegewys op grond van die ouers se adres en geen taalvoorkeur kon aangedui word nie.”

Colditz het sy waardering uitgespreek vir die Gauteng-onderwysdepartement se bereidwilligheid om te luister na die insette van belanghebbendes in die onderwys. “Indien ons kan voortbou op hierdie konstruktiewe gesprekvoering sal dit dalk toekomstige hofaksie kan voorkom. Dit is voorts ook ’n bewys van Fedsas se invloed as gerekende onderwysrolspeler.”

Hy het gesê daar is egter steeds aspekte van die aansoekproses wat sorgwekkend is, byvoorbeeld die feit dat aansoeke slegs elektronies gedoen kan word. “Fedsas steun inisiatiewe wat prosesse vergemaklik, maar die groter prentjie moet egter nooit uit die oog verloor word nie. Derduisende ouers het om verskeie redes nie geredelik toegang tot die internet nie, wat meebring dat hulle nie werklik inspraak het waar hul kinders skoolgaan nie. Fedsas is egter gewillig om die departement by te staan ten einde hierdie proses te verfyn. ’n Suksesvol geïntegreerde elektroniese proses is tot voordeel van almal en kan uiteindelik ook as model vir ander provinsies gebruik word,” het hy bygevoeg.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg terugvoer oor die stelsel gegee en gesê ʼn plan is inwerking gestel om ouers wat steeds sukkel om aanlyn te registreer by te staan.

Dit volg nadat die stelsel Dinsdag om 08:00 moes afskop maar weens “tegniese probleme” uitgestel is, vermoedelik omdat die bedieners nie die aantal besoekers kon hanteer nie. Die stelsel is nadat dit tot 10:00 uitgestel is, uiteindelik om 14:30 geaktiveer. Hoewel die webwerf, www.gdeadmissions.gov.za, stadig reageer, verskyn daar nie meer ʼn foutboodskap soos voorheen nie. Talle Twitter-gebruikers het egter beweer hulle kry steeds ʼn foutboodskap.

“Altesaam 8 500 beamptes sal na skole gestuur word om ouers te help. Die beamptes is toegerus met skootrekenaars en 3G-kaarte,” het Lesufi gesê.

Lesufi het gesê die stelsel is herprogrammeer om verbruikers stap-vir-stap te verduidelik wat om te doen as ʼn foutboodskap sou opduik. Die inbelsentrum by 0800 000 789 se kantoorure is verleng van 07:30 tot 18:00 weekdae en naweke van 07:00 tot 14:00.

Lesufi het Dinsdag bevestig die stelsel sal nie meer, soos beplan is, die mense wat eerste registreer voorkeur gee nie, maar terugkeer na twee waglyste wat voorkeur sal gee volgens die aansoekers se woonadresse, soos Fedsas voorheen verduidelik het. “Ouers hoef dus nie meer haastig te wees om die stelsel te gebruik nie,” het Lesufi gesê.

Lesufi het Woensdag gesê dat 188 000 ouers binne 18 uur vandat die stelsel inwerking gestel is hul aansoeke suksesvol ingedien het.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum ouers wat frustrasies het met die stelsel genooi om dié probleme onder sy aandag te bring. Die burgerregte-organisasie spreek reeds lankal sy kommer uit oor die doeltreffendheid en oogmerke met die aanlynproses.

Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, is die jongste poging van Lesufi om ras by die aanlynregistrasieproses se mislukking in te sleep, ’n laakbare poging om klagtes oor die stelsel self te ontduik. Dit gaan net tot polarisasie van gemeenskappe bydra.

“Luidens mediaberigte het Lesufi glo Dinsdag gesê dat dit net rassiste is wat oor die mislukte aanlynregistrasie-webblad kla. Hy het glo ook gesê ouers se aandrang op Afrikaanse onderrig vir hulle kinders is ’n poging om slegs wit leerlinge in sekere skole te plaas,” het Bloem gesê.

Sy het gesê die ongegronde stellings bewys Lesufi is nie vir sy pos geskik nie. “Afrikaanse skole se leerlinge is veelrassig, ʼn feit waarvan hy bewus behoort te wees.  Afrikaans word ook deur alle rasse in die land as moedertaal gepraat, soos die statistiek van die nasionale sensus van 2011 bewys.”

Bloem het gesê die probleme wat ouers met die platform ervaar, volgens klagtes wat AfriForum ontvang het, sluit in dat skole wat as opsies gegee word nie ingesluit is in die omgewings waarbinne ouers woon of werk nie. Dit kan tot gevolg hê dat verkeerde afleidings gemaak kan word oor skole en die taalbehoeftes in gemeenskappe. “AfriForum is besorg dat indien ouers noodgedwonge verkeerde inligting op die stelsel moet invoer, die data wat so verkry word, tot wanvoorstellings kan lei wat vir die bevordering van ’n agenda teen Afrikaans aangewend kan word,” het Bloem gesê.

AfriForum het ouers aangemoedig om alle klagtes rakende die aanlynregistrasieproses te stuur na [email protected].

Die aanlynregistrasieproses is van stapel gestuur om aansoekprobleme met registrasie vir 2017 te probeer verhoed, nadat leerders weens laat aansoeke nie vanjaar plek in sommige skole kon kry nie. Die registrasieproses is gerig op gr. 1- en gr. 8-leerders by staatskole.

Lees die vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jordaan ·

Kan joernaliste asb probeer uitvind waarom dit verplig is om Ras te verskaf as ‘n leerder se inligting op die stelsel gelaai word?

Lientjie ·

Jordaan natuurlik is dit belangrik om Ras en taal in te voer in die stelsel in, ek het n Graad 1 volgende jaar en het aansoek gedoen jou hare sal regop staan as jy die skole sien wat hulle aanbeveel jou kind moet na toe gaan. Onder andere n engelse skool in n Informele nedersetting, nou vra ek jou wat sal jy doen. N kind moet in sy moedertaal kan skoolgaan dis hoe jy fondasie bou by n 6 of 7 jarige, nie net wit afrikaanse kinders nie maar ook swart kinders. Mense wat nie kinders het nie sal nie die frustrasie verstaan nie.

Disselboom ·

In Disselboom se skeptisisme, wat ongelukkig ervaring het van die soort ding, het die staat alles behalwe jou blanke kind se belang in gedagte. Inteendeel moet mense vir Disselboom nie verkwalik as hy so vermoede koester dat hulle die ras wil weet juis om die kinders so gemengd moontlik aan allerlei skole toe te ken nie.

Ons het immers gestem en ingestem daartoe dat ons almal gelyk is. In daardie trant kan die kind na enige staatskool gaan en alles is net dieselfde. Dis hoe ‘n kommunistiese staat redeneer en hoe hy funksioneer.

Dis die dat Disselboom dink die ouens wat hulle eie ding doen in privaatskole ‘n beter idee het, om beter self oor jou toekoms te kan besluit. Het anderdag ‘n privaatskool se leuse gesien: “Skep u eie toekoms”. Dis harde werk en duurderig, maar dalk ‘n beter idee as staatskole.

tamboti ·

Ja Disselboom, hierdie is ‘n goedbeplande offensief deur die staat om die betalande skoolouers te migreer na hulpbehoewende skole waar ouers nie betaal nie, en dan die verskil in prestasie (standaarde) kleiner te maak. Natuurlik wil hul anderstaliges ook in Afrikaanse skole plaas om dit eers van enkelmedium na dubbelmedium te verander, en dan later heeltemal Afrikaans uit te skop, soos by die universiteite.
Afstand na skool het niks hiermee te make nie, dit is net ‘n bose plan om Afrikaans te verdring, en hulle het nou die instrument daarvoor geskep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.