Aanlynregistrasie vir skole: Só werk proses verder

'n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

‘n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

Die Gautengse departement van onderwys het Dinsdag gesê “haakplekke” met sy aanlynstelsel om leerders in 2017 vir toelating tot die provinsie se skole te registreer, is uitgesorteer en “oortref verwagtinge”.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê meer as 370 000 aansoeke is reeds verwerk. “Aansoeke van Tshwane-Suid staan op 49 354 gevolg deur Johannesburg-Oos met 37 720, Ekurhuleni-Noord met 35 828, Ekurhuleni-Suid met 35 537 en Johannesburg-Sentraal met 30 497.”

Volgens Lesufi sal die aanlynregistrasie tot middernag op 1 Junie voortgaan. “Ouers wat nog nie aansoek gedoen het nie word aangemoedig om dit voor die spertyd te doen,” het hy gesê.

Lesufi het bygevoeg hy is bewus dat sommige ouers en voogde steeds probleme met die stelsel ervaar. “Ons versoek dat dié ouers ons hulpsentrum by 011 355 0000 of 0800 000 789 skakel. Hulle kan ook hul naaste skool of distrikskantoor vir bystand besoek.”

Lesufi het gesê die plasing van leerders sal van 24 Junie tot 25 Julie geskied. “Tydens die periode sal skole die plasing aanlyn doen. Ouers sal ʼn SMS ontvang rakende ʼn aanbod van plasing.” Volgens die departement sal ouers ook briewe ontvang rakende die plasing. “Ouers sal ʼn tydperk van sewe dae kry om die aanbod te aanvaar of van die hand te wys.”

Volgens Lesufi was daar verlede week meer as 300 pogings van kuberkrakers om toegang te probeer kry tot die webwerf.

Lees alle vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melt Olckers ·

Sy houding ten opsigte van kuberkrakers gaan net veroorsaak dat hy hulle in werklikheid ‘n uitdaging gee om die stelsel te laat vou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.