Aanlynregistrasie weer beskikbaar vir Gauteng-ouers

'n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

‘n Skermskoot van die aanlynregistrasiestelsel.

Die Gautengse departement van onderwys het Woensdag gesê hy het die “voorlopige registrasietydperk” vir ouers om hul kinders vir skooltoelating te registreer opgeskort, nadat sy aanlynregistrasiestelsel weens oorlading buite werking was.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het Woensdag verduidelik die stelsel het Maandag in duie gestort nadat meer as 600 aansoeke per sekonde ingedien is. Daarby kon die departement se inbelsentrum ook nie die meer as 3 000 oproepe wat Maandag ingekom het, hanteer nie.

Ouers is vroeër gevra om van 11 tot 18 April hul besonderhede op die aanlynstelsel te laai. Hulle sou dan vanaf 19 April vir hul kinders aanlyn kon aansoek doen by skole in die provinsie. Lesufi het gesê die departement het egter nou besluit om die voorlopige registrasietydperk op te skort.

“Die opskorting van hierdie proses sal niemand benadeel nie, omdat die bedoeling slegs was om ouers se data vas te vang en nie werklike aansoeke te aanvaar nie. Ouers wat hul besonderhede wil laai, kan dit steeds doen. Dit werklike aansoekproses sal egter op 19 April om 08:00 begin en tot 1 Junie om middernag beskikbaar wees,” het Lesufi gesê.

Ouers wat dus reeds besonderhede gelaai het, kan dan slegs hul besonderhede invul om in te teken en aansoek doen. Ouers wat nog nie inligting gelaai het nie, sal eers hul profiel moet skep en daarna aansoek doen.

Volgens Lesufi het die departement ekstra bedieners ingespan om die kapasiteit van die aanlynstelsel te verhoog en kan die stelsel nou 3 000 aansoeke per sekonde hanteer. Meer as 22 000 mense het reeds hul besonderhede op die stelsel gelaai, het hy gesê.

Hy het gesê die stelsel het egter nog steeds enkele probleme, soos dat nuwe skole nie op die stelsel verskyn nie, ʼn foutboodskap verskyn wanneer ouers hul besonderhede op die stelsel wil wysig en die stelsel soms skole buite die provinsie kies. Lesufi het gesê die departement se tegniese span werk tans daaraan om hierdie probleme uit te stryk.

Ouers wat probleme met die stelsel ervaar, kan die departement telefonies kontak by (011) 355 0966/0559/0198/0600 of tolvry by 0800 000 789. ʼn E-pos kan ook gestuur word na [email protected].  Ouers of voogde wat nie toegang tot die internet het nie, kan ook die tolvrye nommer bel om te hoor waar hul naaste hulpsentrums is om te registreer.

Die aanlynregistrasiestelsel is nie beskikbaar vir aansoek vir Graad R of by skole vir leerders met spesiale behoeftes nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

antie ·

As die telefone beantwoord word, sal dit help, jy hou aan en aan en aan. Ek bly skielik in Oos-Kaap en my selnr is Female. Hoekom moet daar alewig gekarring word aan goed wat heeltemal goed gewerk het??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.