Aanlynregistrasie ‘werk uiteindelik’

'n Skermskoot van die webwerf wat om 15:00 geneem is.

‘n Skermskoot van die webwerf wat om 15:00 geneem is.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het Dinsdagmiddag aangekondig haakplekke, wat die departement van onderwys met die aanlynregistrasieproses ervaar het, is uitgestryk.

Die aanlynregistrasieproses, wat Dinsdag om 08:00 moes afskop, is vroeër tot 10:00 uitgestel, maar was teen 13:00 steeds buite werking. Die departement het in ʼn verklaring gesê die uitstel was nodig weens ʼn “tegniese fout”.

Lesufi het tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê die stelsel is teen 09:30 herprogrammeer en was reg om teen 13:00 gebruik te word. Hy het tydens die konferensie die stelsel laat aktiveer en teen 14:30 bekend gemaak die stelsel werk amptelik. Hoewel die webwerf, www.gdeadmissions.gov.za stadig reageer, verskyn daar nie meer ʼn foutboodskap soos voorheen nie. Talle Twitter-gebruikers het egter beweer hulle kry steeds ‘n foutboodskap.

Die departement het op sy Twitter-rekening bevestig 5 035 ouers of voogde het suksesvol geregistreer in die eerste 10 minute vandat die webwerf begin werk het.

Lesufi het gesê die kapasiteit van die bedieners is vermeerder om 20 000 ouers of voogde per sekonde te hanteer. Hy het ook tydens die geleentheid om verskoning gevra vir die ongerief.

Hy het bygevoeg die stelsel sal nie meer, soos beplan, die mense wat eerste registreer voorkeur gee nie, maar terugkeer na twee waglyste wat voorkeur sal gee volgens die aansoekers se woonadresse. “Ouers hoef egter dus nie meer haastig te wees om die stelsel te gebruik nie,” het hy gesê.

“Gauteng is die eerste provinsie wat die stelsel gebruik en ons het geen berou daaroor nie. Dit sal leerders gelyke toegang tot skole gee. Die frustrasie mag erg wees, maar die toekoms lyk helder.”

Die aanlynregistrasieproses is van stapel gestuur om aansoekprobleme met registrasie vir 2017 te probeer verhoed, nadat leerders weens laat aansoeke nie vanjaar plek in sommige skole kon kry nie. Die registrasieproses is gerig op graad 1- en graad 8-leerders by staatskole.

Ouers of voogde wat nie toegang tot die internet het nie, kan 0800 000 789 bel om te hoor waar hul naaste hulpsentrums is om te registreer.

Lees die vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leonie ·

Ai ai. Glo my ek prober al vir die laaste uur en hy werk alweer nie.

MJL ·

Voorkeur volgens aansoekers se adresse? Kom ons wag en kyk maar………

Jordaan ·

Dit is net ‘n manier om te beheer wie word waar geplaas. Kyk hoe gaan die demografie by skole gemanipuleer word.

Jurietha ·

Ongelukkig werk die sisteem nie 100% nie. Sodra ek keuses peobeer uitoefen. Kry ek ‘n “error” blad

Leonie ·

Ek stem 100% saam met jou Jordaan. My kind se skool waar sy moet gaan is 2.5km van ons huis af. As hulle haar iewers anders plaas gaan ek wragtig die “home school” roete.

Gerhard van Tonder ·

Voorkeur volgens adres dan gee hy skool wat 40km van adres is??

Remmert Laas ·

Het nou al 20 keer probeer en elke keer die vorm van vooraf invul en kry dan raai wat “ERROR”. Hy werk?
Ja sure!!!!

Marius ·

Ek is seker een van die gelukiges. My dogtertjie is geregestreer, en die aansoek is in. Uiteindelik!

Mari ·

Error Error. En al is my kind in Gr R by dieselfde laerskool is ek nog steeds nie ‘n plek gewaarborg vir Graad 1 nie. Ek het haar dan juis daar ingeskruif na ONS BAIE navorsing gedoen het en besluit het op die skool in ons area. Wat nou?

Antie ·

Wat ‘n grap!!! Dit is nou 05H02 in die oggend en wanneer ek apply wil druk, blok die stelsel my!!!!

Karen ·

Waar???
‘Error message’ verhoed registrasie tot die sisteem. Nou se hulle 2-3 ure….probeer weer. So gaan dit aanhou en dan gaan hule se….jammer jou kind het nie plek nie! Wat n klomp snert!

Cecilia ·

Ek het van gister middag af probeer. Ek kan nie eers registreer nie. Kry net heeltyd ‘n error. Dit sê ook nie wat die error is nie. Ek gaan nou maar so maand wag. Dalk is al die frustrasie verniet as hulle in elk geval erken die idee is n flop en terug gaan na die inskrywings by die skool self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.