Aanlynregistrasieproses: Kommer oor skole se insae

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Terwyl die aanlynregistrasieproses vir gr.1- en gr. 8-leerders in Gauteng tot dusver veel gladder as verlede jaar sʼn verloop, heers daar steeds kommer oor wat die stelsel mag inhou vir die toekoms van openbare Afrikaanse enkelmediumskole.

Dit blyk dat skole tot en met vandag nog nie enige toegang tot die aanlynstelsel kon bekom om die verskillende waglyste na te gaan nie. Die onderwysdepartement het ook glo deur die verskeie distrikskantore skoolhoofde versoek om ouers nie verder na ʼn telefoonnommer en e-posadres te verwys waar hulle navrae oor die stelsel kan doen nie, omdat die departement nie meer die volume van navrae kan hanteer nie.

“Minstens het die aanlynregistrasiestelsel nog nie gevou nie, maar ons is besorg omdat daar gerugte is dat Afrikaanse enkelmediumskole eenvoudig Engelse klasse sal moet akkommodeer al doen so min as 15 leerders aansoek vir plasing by dié betrokke skole,” het Melanie Buys, ʼn onderwysbestuurkonsultant, gesê.

“Ons is ook bewus van ouers by Laerskool Constantiapark wat nie hulle kinders by Hoërskool Garsfontein kon inskryf nie omdat dit nie as ʼn voorkeurskool gelys was nie. Sommige leerders wat in ʼn private laerskool was, is ook deur die stelsel uitgeskop as hulle nou by ʼn openbare hoërskool vir gr. 8 wou inskryf,” het Buys gesê.

Sommige ouers en skole was onseker oor die tydperk wat hulle gehad het om aansoeke te bekragtig met bewysdokumente wat per hand by die skole ingehandig moet word. “Daar is aanvanklik gesê ouers moet dit binne 14 dae van registrasie doen terwyl die webwerf vir die aanlynregistrasies gesê het ouers moet dit binne sewe dae doen,” het Buys bygevoeg.

Carien Bloem, onderwysprojekkoördineerder vir die burgerregte-organisasie AfriForum, het bevestig dat hulle sedert die registrasieproses op Dinsdag 2 Mei geopen het, nog geen klagtes van ouers of skole ontvang het nie en die terugvoer wat hulle oor die proses ontvang het, was gunstig.

“Ek dink daar is uit verskeie oorde baie moeite gedoen om ouers te help met die registrasieproses,” het Bloem gesê. “Daar is egter talle hoërskole wat hulle opedae binne die volgende twee weke hou en ek vermoed daar kan ná dié dae bykomende druk op die stelsel kom.”

Sy het egter weer eens gemaan dat ouers nie nalatig omtrent die proses moet wees nie. “Hoewel die aanlynregistrasieproses voorsiening vir jou taalvoorkeur maak, word plasings steeds streng chronologies gemaak. Dit beteken dus dat die stelsel nie skoolbeheerliggame se taal- en toelatingsbeleid volledig akkommodeer nie. Die stelsel gaan nie onderskeid tref ten opsigte van taal nie. Dus moet ouers nie onnodig uitstel om te registreer nie, aangesien hul kanse om hul kind op die A-lys van hul keuseskool te kry, daagliks beïnvloed word. Ouers moet ook nie wag totdat skole se opedae in Mei eers verloop en dán hul kinders registreer nie.”

Bloem het ook gesê die gesentraliseerde skoolstelsel gee ook nie betyds inligting aan skole deur te meld hoeveel leerlinge al geregistreer is by ’n bepaalde skool nie. “Dit bemoeilik die onderwysbeplanning en bestuursproses geweldig. AfriForum doen egter baie moeite om die aanlynproses fyn dop te hou en pleeg op gereelde basis oorleg met ons regspan om voorbereid te wees daarop om ouers en leerders se regte te beskerm.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ook bevestig dat die aanlynregistrasieproses in Gauteng goed verloop.

“Hier en daar was daar klein probleme, maar ek is tevrede dat dit redelik maklik opgelos is. Ons deel egter skole en ouers se bekommernis oor die feit dat skole nie insae in die stelsel het nie, maar het reeds nodige reëlings getref indien dit ʼn skool se werksaamhede sou strem,” het Colditz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Disselboom ·

Al die fokus in beriggewing op die staatskole – daar is aanduidings van moontlike probleme en toenemende uitdagings. Dalk so berig of twee oor die alternatiewe wat in verskillende dele van Gauteng beskikbaar is in die vorm van privaatskole? Dit kan die rug teen die muur gevoel effens verlig as daar meer inligting oor privaatskole beskikbaar kom.

Johan Neuteman ·

Hoekom is dit so groot saak as daar nou Engelse klasse by ‘n skool moet bygevoeg word? Soos wat die gemeenskap ver-Engels, en Afrikaanse gesinne nie meer so baie kinders het nie, en die emigrasie voortduur, is dit seker net logies dat die skole geleidelik gaan ver-Engels?

M ·

Sodra ‘n skool dubbel medium word, word daar al hoe meer kinders vanaf die townships ingery. Waar ons woon is Engelse Laerskole en nie eers 10% van die skole se leerlinge woon naby die woongebied nie. Ek praat van ‘n radius van meer as 20km. Hoe kry hulle dit reg om te registreer buite hul woongebiede. En hoekom moet leerlinge na ‘n skool gaan waar hul nie eers Engels kan verstaan nie. Die onderwysers moet fisies die kinders eers Engels leer praat, voor hulle hul ‘n opvoeding kan gee. Die curriculum is so besig, daar is nie tyd om kinders eers taalvaardig te maak nie. In die selfde asem en energie wat gebruik word om skole af te breek, kan die Regering nie bietjie tyd en energie insit om ordentlike onderwysers in die township skole te kry nie. Dan is die gevaar van vervoer na en van skole ook uitgesluit.

M ·

As daar reeds 2 Engelse Laerskole is in ‘n omgewing, waarom moet ‘n 3de een ook Engels wees.

Carel ·

Die hele ding dat die skole niks weet nie klink verdag. Die control freaks is weer aan die stook. Ons raai die uiteinde gaan wees dat daar nie meer afrikaanse skole wees nie.

Carel ·

Johan dit gaan nie oor die taal nie. Lees asb mooi tussen die lyne.Dit gaan oor die wyse waar oor dinge aangebied word op skool. Daar is sekere dinge wat deur die geslagte heen op n sekere wyse oorgelewer is. Kinders leer die maniere en denkwyse aan deur hulle ouers en skool opvoeding. Dit is die onderliggende kommunikasie nie verbale en gedrags patrone wat die beste deur moedertaal oorgedra word. Die sg cultural memory.Die probleem is wanneer die taal nie deur iemand van dieselde kultuur is nie as die our is nie. Die probleem is dat as n skool eers engels is kan dit dalk wees dat onderwyseresse en onderwyseres op jou kind afgewing word wat nie n kind tot sy potensiaal laat styg nie. As n skool nie meer beheer het oor wat hy kan aanbied nie en hoe hy dinge kan doen nie,dan perk dit uiteindelik jou kind se ontwikkeling. Verlore is dan al die voordele wat jy as ouer kan bied. Ek is self half afrikaans en engels en ek kan sien deur deur die kul jou hier, kul jou daar en geweldige agteruitgang wat die stats skole stelsel betref.

wonder net ·

Wonder hoekom forseer die stelsel wittes se kinders in township skole in. Watter regdenke mens gaan sy kind in ‘n township skool sit.

Alida ·

Daar is nie genoeg skole nie. Hulle het die geld gesteel en nou?

Marius van Staden ·

Ideale geleentheid om die CVO-skole te begin ondersteun. Ons eie met ordentlike waardes en Christelike beginsels waar die waarheid nog onderrig word.

Johann Marx ·

“ouers moet nie wag tot skole se ope dae voor hulle hulle kinders registreer nie”??? Wat is die punt van ‘n ope dag dan? Word dit nie gehou sodat voornemende ouers ‘n skool kan besoek voordat hulle ‘n keuse maak waar om hulle kinders te registreer nie? Dankie Liewe Here dat ek nog net 6 maande van hierdie “stelsels” moet beleef….en dan is ek klaar. Kan nie gou genoeg gebeur nie……

Johan Neuteman ·

Dit gee die naam, maar kan jy dalk bietjie meer inligting verskaf asb? Moet sê, sonder dat ek noodwendig so voel, klink die “volkseie” na ‘n term wat nie pas in vandag se begrippe nie? Sal graag dan van die bestuur (ek neem aan dis ‘n organisasie?) van “CVO” meer wil hoor.

Nelie ·

Hulle wil godsdiens en Afrikaans laat verdwyn uit skole uit. Dit is suiwer rassisme.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.