Aanneem-woef nou deel van veearts se ‘mooi nalatenskap’

Gracie het behoorlik ʼn gedaanteverwisseling ondergaan sedert sy deur Freek en Stacey Lynn ingeneem is. Foto: Verskaf

Net meer as ʼn maand nadat Freek Snyman (33), ʼn geliefde veearts van Port Elizabeth, tragies in ʼn helikopterongeluk gesterf het, leef die herinneringe aan hom nou voort in die vorm van ʼn liefdevolle woef met kraalogies en ʼn onblusbare veggees.

Gracie, soos Freek en sy vrou, Stacey Lynn, dié hondjie gedoop het, is uit ʼn informele nedersetting gered toe sy net ʼn paar maande oud was. Sy was een van ʼn werpsel van vier hondjies, maar was sieklik en onversorg en haar eienaars was nie in staat om vir haar behoorlike mediese behandeling te kry nie.

Freek en Stacey Lynn, ʼn veearts-assistent, het die hondjie, soos talle ander diere vantevore, in hul huis ingeneem, behandel en versorg totdat sy gesond genoeg is sodat ʼn liefdevolle huis vir haar gesoek kon word. Voordat Gracie egter ʼn nuwe tuiste kon vind, is Freek op 15 Augustus dood toe die helikopter neergestort het terwyl hy en die vlieënier, Joshua Cilliers (28), besig was om met wild te werk.

“Toe ons in Port Elizabeth was vir Freek se begrafnis, het ek vir Gracie gesien en onmiddellik van haar gehou. Ek het net gevoel asof my boetie sou wou hê ek moet haar aanneem,” sê Marilize du Toit, Freek se suster. “Ek het haar saam met my in die vliegtuig huis toe gebring en nou bly sy hier by ons in die huis [in Polokwane].”

Gracie is nou ongeveer vier maande oud en ʼn mengsel van verskillende rasse.

Gracie was in ʼn slegte toestand toe sy gered is. Foto: Verskaf

Du Toit sê elke keer dat sy na Gracie kyk, dink sy aan Freek. “Sy is altyd onder my voete en wil net heeltyd by my wees. Sy is ʼn tasbare herinnering aan Freek, ʼn daaglikse onthou van sy goeie hart en hoe hy net altyd diere wou help. Gracie sal altyd ʼn spesiale betekenis vir my hê en ek sal altyd aan my boetie dink as sy by my is.”

Gracie is egter nie al teken van Freek se besonderse nalatenskap nie. ʼn Boek wat pas deur The Red Apple Dyslexia Association uitgegee is, is ook aan hom opgedra. Dié boek, getiteld This is Me, bevat die verhale van mense wat ondanks hul disleksie wel besondere prestasies bereik het. Freek se verhaal is ook in die boek opgeneem.

“Toe Freek op skool was, het mense vir hom gesê hy is te dom om te gaan studeer. En hy wou ʼn veearts word, wat klaar nie ʼn maklike kursus is nie. Maar hy het hom nooit laat onderkry nie. Hy het nege jaar lank studeer om sy graad, wat gewoonlik net sewe jaar neem, te behaal, maar hy het dit gedoen. Hy het nooit toegelaat dat sy disleksie hom terughou nie,” sê Marilize.

Sy, haar suster, Christine van Heerden, albei Freek se swaers en Stacey Lynn was by die bekendstelling van die boek twee weke gelede waar daar oor Freek en sy lewe gepraat is. “Dit was baie emosioneel om sy storie so te hoor, maar dit is ook wonderlik dat sy deursettingsvermoë ander mense en kinders wat disleksie het, hoop gee – dat hulle weet jy kan steeds enigiets doen wat jy wil en dat disleksie jou nie hoef terug te hou nie.”

Freek Snyman. Foto: Facebook

Dit is juis dié mooi nalatenskap waaraan die familie nou vashou ná Freek se dood. “Ons lewe gaan aan. Ek en Christine is weer besig met ons gesinne en ons kinders, Stacey Lynn het weer begin werk en my pa herstel nog ná ʼn rugoperasie. Dit is swaar vir ons almal en mens het maar baie vrae, maar ons moet vorentoe kyk. Ek dink elke liewe dag aan Freek, elke dag. En nou het ons vir Gracie ook as ʼn herinnering aan hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Dankie vir die goeie nuus so saam met ‘n storie wat steeds hartseer bring oor Freek se afsterwe. Die gedaanteverwisseling van Gracie bring trane – maar oor blydskap. Welgedaan.

Erica ·

Ek wonder hoekom mense soos hy so jonk moet sterf. Dit is ‘n treffende verhaal en wonderlik om te hoor hoe Gracie sy geliefdes troos.

Johnnie ·

Wys maar net hoeveel liefde dat diere kan uitstraal en ons mensdom waardeer dit te min. Gracie is n toonbeeld van liefde en waardering. Mooi so Gracie.

Ronel ·

Gracie glimlag sommer nou. En Freek sien dit uit die Hemel.

HPV ·

Die “before” en “after” fotos sê dit alles so tussen die lyne…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.