Aanneemma oor stryd met ‘seun met ʼn halwe hart’

Elmarie van der Merwe en haar aangenome seun, Joshua. (Foto: Verskaf)

Elmarie van der Merwe en haar aangenome seun, Joshua. (Foto: Verskaf)

Toe klein Joshua vyf jaar gelede as ʼn ses dae oue baba in Elmarie van der Merwe, ʼn voltydse pleegouer van Port Elizabeth, se sorg beland het, sou sy nooit kon dink hoe dié klein mensie haar lewe vir altyd sou verander nie.

Joshua se biologiese ma was ʼn dwelmverslaafde en hy was piepklein toe hy in sy ouma se huis sy opwagting gemaak het. Hy is ná sy geboorte in die hospitaal opgeneem en ná ses dae ontslaan as ʼn op die oog af gesonde baba.

“Ons het gesukkel met probleme wat ons gedink het saam met sy blootstelling aan dwelmmiddels kom: Hy was knieserig; hy wou nie drink nie en hy het nie gewig opgetel nie. Ek het dit toegeskryf aan moontlike refluks. Hy was die eerste baba waarna ek in jare omgesien het wat nie gewig opgetel het binne die eerste twee, drie weke nie,” vertel Van der Merwe aan Maroela Media.

Op vier maande het sy vir klein Joshua op haar broer, wat self ʼn dokter is, se aanbeveling na ʼn pediater geneem. “Dit is nie maklik as jy nie ʼn mediese fonds het nie. Dit was tydens daardie besoek wat ons lewens vir altyd verander het.”

Hoewel Van der Merwe, wat al oor die jare na meer as 60 babas in pleegsorg omgesien het en gereeld met babas wat aan dwelmmiddels blootgestel is te doen gehad het, verwag het dat Joshua probleme sou hê, en onseker was oor hoe sy langtermynpad vorentoe sou lyk, het sy nooit kon dink hoe die skokdiagnose van daardie dag haar sou skud nie.

“Die pediater het onmiddellik die pediatriese kardioloog ingeroep en Joshua is gediagnoseer met enkelventrikel pulmonale artresie en vyf ander defekte. Sy suurstofvlakke was slegs 40% en die dokters was eintlik verbaas dat Joshua leef. In effek het hy ʼn halwe hart. Hulle het my meegedeel dat hulle nie Joshua se hart kan regmaak nie, maar dat ʼn reeks van drie operasies hom sal help om beter asem te haal.”

Elmarie en Joshua toe hy as klein baba in haar sorg geplaas is. (Foto: Verskaf)

Elmarie en Joshua toe hy as klein baba in haar sorg geplaas is. (Foto: Verskaf)

In die maand wat hulle moes wag vir Joshua se eerste hartoperasie om plaas te vind, het sy dag en nag met hom teen haar bors geloop. “Sodra ek hom van my liggaam geskei het, het hy angstig geraak en vreeslik geskree. Ek glo nie daarin om ʼn baba net te laat huil nie – veral nie babas soos Joshua nie, want huil tap hulle energie.”

Sy het begin om alles met haar een hand te doen terwyl sy vir Joshua in die ander vasgehou het teen haar lyf. “ʼn Vriendin het hom soms kom vashou sodat ek net kan stort. ʼn Ma se asemhaling help om ʼn baba se hartklop en asemhaling te reguleer. Die dokters het later gesê dit is moontlik wat hom aan die lewe gehou het.”

Op vyf maande het Joshua sy eerste opehart-chirurgie ondergaan. Volgens Van der Merwe het die dokter die dag voor die operasie aan haar verduidelik dat Joshua baie siek is en dat ʼn groot kans bestaan dat hy nie die operasie sou oorleef nie.

“Volgens die dokters sou hy ook breinskade opdoen omdat hy vir ʼn lang tyd sonder suurstof was. Hy was egter onlangs weer vir toetse en vandag is daar neurologies niks fout met hom nie. Dis ongelooflik.”

Ná die operasie moes ʼn vriendin die verpleegpersoneel oortuig dat die angstige baba op sy pleegma se bors geplaas moet word. “Hulle het ʼn stoel ingestoot en ons het hom, met sy pype en al, op my bors tuisgemaak.”

Ten spyte van sy hartdefekte is Joshua 'n opgewekte, vreugdevolle kind. (Foto: Verskaf)

Ten spyte van sy hartdefekte is Joshua ‘n opgewekte, vreugdevolle kind. (Foto: Verskaf)

Toe dit tyd word vir Joshua om ʼn permanente tuiste te kry, kon Van der Merwe dit nie oor haar hart kry om hom te laat gaan nie. “Siek kinders kry nie maklik plasings nie omdat mense nie ongesonde babas wil aanneem nie. Die maatskaplike werkers het aanbeveel dat hy in ʼn tehuis geplaas word en ek kon dit nie aanvaar nie. Teen daardie tyd was hy al ses maande oud en reeds soos my eie en ek het besluit om hom self groot te maak.”

Dit was eers twee jaar later wat hy vir die tweede operasie moes gaan. “Dit was uiters traumaties, vir hom en vir my. Hulle het ontdek dat sy boonste vena cava nie anatomies korrek ontwikkel het nie. Hy het ook in die hospitaal ʼn derdegraadse brandwond opgedoen, wat hulle later ontken het. Hy is van die een hospitaal na die ander geskuif direk ná sy operasie en dit het hul ure geneem om hom weer te stabiliseer. Hy is in ʼn eenheid geplaas waar ek hom nie kon vashou nie,” vertel sy.

“Uiteindelik is hy uit die waakeenheid geskuif na ʼn isolasiesaal waar ek heeltyd by hom kon wees. Ná twee weke, en baie emosionele en fisieke stres, is hy ontslaan.”

Van der Merwe vertel met die eerste operasie was Joshua uiteraard te klein om te verstaan wat aangaan, maar dat sy met die tweede operasie hom beter kon voorberei. “Ek moes vir hom verduidelik sy hartjie is stukkend en dat ek te lief is vir hom dat hy iets moet oorkom en daarom moet die dokters goed doen wat nie lekker is nie. Hy is só ʼn vasbyter.”

Sy verduidelik die laaste operasie moet nog geskied, maar dat die Oos-Kaap se enigste kardiale kateterisasie-laboratorium, of “cath lab” soos Van der Merwe kortliks daarna verwys, die afgelope drie maande buite werking is en dat die departement van gesondheid geen aanduiding kan gee wanneer dit weer herstel sal word nie. Die splinternuwe laboratorium in Umtata het glo geen personeel nie.

“Die cath lab is waar hulle kateters in die lieste van die hartpasiënt deur ʼn snytjie ryg met ʼn lyntjie wat na die hart toe gaan. Aan die een kant is ʼn kamera en aan die ander kant ʼn toestel wat die drukking meet. Sodoende kyk die kardioloog na die anatomie van die hart en bepaal hoe die pasiënt behandel moet word. Joshua het uiteraard ʼn baie komplekse hart en kan nie net oopgesny word nie – ʼn cath lab is uiters noodsaaklik vir sy behandeling. Daar is babas wat sterf omdat hulle tans geen behandeling kan ontvang nie.”

Joshua is 'n vreugdevolle kind. (Foto: Verskaf)

Joshua is ‘n vreugdevolle kind. (Foto: Verskaf)

Van der Merwe, wat intussen vir Joshua amptelik as haar eie aangeneem het, het vier biologiese kinders, waarvan die oudste 31 en die jongste 20 jaar oud is. Sy het ook tans vier ander kleuters in pleegsorg. “My hele lewe wentel om te verseker dat kinders in ouerhuise en nie in tehuise geplaas word nie. ʼn Baba het ʼn ma nodig.”

Sy vertel dit gaan deesdae goed met Joshua, ten spyte daarvan dat hy nog wag op sy laaste operasie.

“Hy gebruik Disprin om sy bloed dun te hou en bloedklonte te verhoed, maar geen ander medikasie nie. Ná die tweede operasie het hy verskriklike skeidingsangs gehad en wou hy niks weet van skool nie, maar dit het intussen verbeter en gaan hy nou na ʼn speelskooltjie, met ʼn klein klassie van 18 kinders, toe,” sê sy.

“Ek kan hom nog nie in ʼn ‘grootskool’-omgewing plaas nie, want hy is nog vatbaar vir infeksies en sal waarskynlik in die toekoms tuisonderrig moet ontvang, maar ons sal daardie brug oorsteek wanneer ons daar kom.”

Van der Merwe voeg by dat sy in die diepkant ingegooi is met Joshua se gesondheidstryd. “Ek leer maar ook soos ek aangaan. As ek na ander mense se stories luister besef ek watter wonderwerk hy eintlik is. Al is sy toestand kompleks, het hy geen ander skade oorgehou nie, behalwe dat hy effe kleiner is as ander kinders van sy ouderdom. Hy baklei hard om te leef en is ʼn kind vol vreugde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie ·

AMen. So lekker om sulke mooi verhale te lees. Dankie Elmarie vir mense soos jy.
Jou pad is reguit Hemel toe.

Essa ·

Elmarie en Joshua se verhaal is suiwer inspirasie; hy is so mooi en sy is so sterk. Die donker kant hier is die skokkende feite oor gebrekkige mediese dienste, stukkende toerusting wat noodsaaklike behandeling vertraag (Oos-Kaap). Net soos die geval van Antonio (Gauteng) oor wie MM berig het, wat wag vir ‘n operasie, maar toerusting is buite werking. Hierdie skreiende gebreke in die Departement van Gesondheid vra vir ‘n in diepte ondersoek. My beste wense gaan met pragtige Joshua en sy familie.

ANNA ·

?? sjoeee,jys ñ wonderlike mens om soveel om te gee vir jou naaste ?? ek haal my hoed af vir jou ?? BAIE SEËN EN BAIE STERKTE,VIR JULLE

Dorothea Visser ·

Wat n mooi ou seuntjie!! Sterkte aan hom en sy gesin

Elsa ·

Baie dankie Elmarie vir die liefde en die ouerhuis wat jy vir hierdie minderbevoorregte kindertjies gee. Mag Joshua nog lank gespaar bly en ek hoop daar kom so gou as moontlik ‘n oplosing met daardie toerusting wat stukkend is, sodat hy gehelp kan word. Sterkte vir jou en Joshua albei.

Abe ·

Ja, man, dis nou n mooi verhaal. Hoop Elmarie gaan nog baie vreugde en geluk smaak in haar navolging van hierdie wonderlike diens wat sy lewer. Dis liefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.