Aanneming kan ʼn kind ‘se lewe verander’

Marené Pieterse (31) en haar ma, Debbie Erasmus (59). (Foto: Verskaf)

Aanneming is vir ewig, en nie ʼn besluit wat ligtelik deur voornemende ouers of die geakkrediteerde aannemingsagentskappe geneem moet word nie.

Indien dit reg gedoen word, kan aanneming egter ʼn wesenlike verskil in ʼn kind se lewe en toekoms verseker.

Maroela Media het met Kinderwelsyn Tshwane, aanneemouers en ʼn vrou wat self as kind aangeneem is, oor die proses, uitdagings en vreugde van aanneming gesels.

Die name van die aanneemouers en hul kinders word op versoek nie gepubliseer nie.

Lewensveranderend

ʼn Egpaar van die Oos-Rand in Gauteng sê hulle het nooit gedink dat hulle die voorreg van ouerskap sou beleef nie.

Die vrou en haar man, onderskeidelik 29 en 35 jaar oud, het ses jaar lank probeer om swanger te raak – toe kom die geleentheid om ʼn baba aan te neem oor hul pad.

Hul seuntjie is nou drie jaar oud en woon reeds van geboorte af by hulle.

“Iemand na aan ons het swanger geraak en gesê dat hulle weens omstandighede nie kans sien om ’n baba groot te maak nie,” vertel die kleuter se ma.

Sy sê hulle het die aannemingsproses vandaar met behulp van ’n geregistreerde plek van veiligheid gedoen. Dit het hulle sowat R17 000 gekos – wat die onkoste vir sielkundige en mediese evaluasies ingesluit het.

“Omdat ons die ouers geken het, was hy van geboorte af by ons.

“Ons het al ons mediese toetse, [vereiste] evaluasies en vergaderings gehad voordat hy gebore is.”

Die aanneming is uiteindelik in November 2020 in die hof geregistreer.

“Ons lewe het hand omkeer verander.”

Sy sê dis belangrik dat voornemende ouers op dieselfde bladsy is wat die aanneming betref, en die besluit neem om die betrokke kind soos jou eie lief te hê en te aanvaar.

Vereistes, haakplekke in die proses

Nina de Caires, aannemingsinspekteur by Kinderwelsyn Tshwane, is al langer as 30 jaar by kinderwelsyn betrokke, waarvan sy die afgelope 13 jaar met aanneming werk.

Sy sê hoewel die eindresultaat uiters belowend is, is dit ʼn lang proses wat aan streng keuring en ʼn reeks wetlike en administratiewe vereistes onderworpe is.

Sou ʼn individu of paartjie besluit om ʼn kind aan te neem, sal hulle ʼn volledige en omvattende evaluasie ondergaan alvorens hulle as aanneemouers verklaar kan word.

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Dit sluit ʼn psigologiese, mediese, persoonlike en finansiële evaluasie in.

Dit is ook belangrik om te onthou dat voor ʼn baba vir aanneming in aanmerking kan kom, dié baba eers amptelik aanneembaar verklaar word. Dit neem minstens 60 dae of langer mits die korrekte prosedures gevolg word. Dit kan veral langer neem in die geval van geslote aannemings, waar voornemende aanneemouers nie die biologiese ouers ken nie. Aanneemouers moet dus nie verwag om ná geboorte met die baba by die hospitaal uit te stap nie.

Sy sê die proses kan selfs langer neem weens al die departemente waarmee die kinderwelsyn moet saamwerk – waaronder die departemente van sosiale ontwikkeling en binnelandse sake – asook die tydperk wat dit neem om dokumentasie te bekom.

Boonop het die verskillende howe ook verskillende aannemingsprosedures en vat dit lank om hofdatums te kry.

“Die Covid-19-pandemie het ook ʼn groot impak op die afhandeling van aannemings gehad.

“Hoe dit ook al sy, dit kan ʼn groot verskil in ʼn kind se lewe en toekoms maak en soveel vreugde aan almal betrokke bring.”

De Caires moedig aanneemouers aan om eerlik met hul kinders oor die aanneming te wees.

“Hulle moet dit van jongs af as ʼn positiewe ding sien en weet dat sy of hy van kleins af deur hul ouers uitgesoek is. Dat hulle dalk nie in die betrokke ouer se maag gevorm is nie, maar beslis in hul harte gebore is.”

Weet daar kan uitdagings wees

ʼn Egpaar van Middelburg in Mpumalanga se seuntjie (11) is in 2010 in hul pleegsorg geplaas toe hy ses maande oud was. Hulle het hom in Oktober 2013 wettiglik aangeneem. Die egpaar het ook twee biologiese dogters van nege en 14 jaar oud.

Sy vertel die aannemingsproses was “lank en uitgerek”.

“Sy biologiese pa het hom dadelik afgeteken, maar sy ma – wat 15 jaar oud was toe hy gebore is – wou hom nie dadelik afteken nie. Dus moes ek hom weekliks vat om by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR)-kantoor vir haar te gaan kuier.”

Sy sê dat sy in dié tyd baie tyd by die werk moes afneem en haar seuntjie gereeld uit die kleuterskool moes haal om hof toe te gaan – iets wat vir hom ook nie ʼn maklike proses was nie.

(Foto ter illustrasie: Maroela Media)

Sy sê dat haar seuntjie vandag, meer as ʼn dekade later, steeds die letsels van verwerping dra.

“Hy het in die eerste jaar van sy lewe basies drie ma’s gehad – sy aanneem-ma, biologiese ma en die aanvanklike pleegouer by die plek van veilige bewaring waar hy ná sy geboorte gebly het.

“Hy het steeds erge gedragsprobleme waarvoor ons nog nie volkome oplossings het nie. Hy ly ook aan aandagafleibaarheid‑hiperaktiwiteitsindroom (AAHS oftewel ADHD).”

Sy sê hulle het al derduisende rande aan doktersbesoeke, medikasie, terapie, kursusse en ander behandeling bestee. Die gesin bid intussen dat hulle die regte oplossings vir sy probleme sal vind.

“Dit is nie altyd maanskyn en rose nie. Soveel vreugde wat dit bring, net soveel hartseer kan dit ook bring. As die kind voorheen trauma beleef het, gaan dit iewers vorentoe uitkom.”

Sy sê ondanks hierdie uitdagings, bly hy steeds hulle kind.

“Ek sê altyd jou biologiese kinders kom uit jou maag, maar jou aangenome kind kom uit jou hart.”

Spesiale behoeftes en aannemingstryd

Nog ’n Oos-Randse vrou (40) het haar twee seuns, onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, al langer as vyf jaar in pleegsorg. Sy en haar man (46) is intussen geskei, maar deel steeds die verantwoordelikheid om die kinders groot te maak.

Sy veg voortdurend ’n opdraande stryd om hulle wettiglik aan te neem. Die biologiese ouers is familie van haar, maar nie in staat om na die kinders te kyk nie.

“Ek vergeet dat hulle nie my biologiese seuns is nie, en kan nie dink om liewer vir ’n kind te wees as vir hulle nie. Om te kan sien hoe hulle gegroei het teenoor waar hulle was, is net ’n wonderwerk. Die aanneming kon al lankal afgehandel gewees het, maar omdat die hof en staat so sloer, was dit nog nie moontlik nie.”

Buiten ’n geskiedenis van dwelm- en alkoholmisbruik, is die kinders ook deur hul biologiese ouers verwaarloos. As gevolg hiervan het albei kinders spesiale behoeftes.

Die ouer seuntjie is nou bykans heeltemal doof omdat hy as baba ’n infeksie opgedoen het wat nooit behandel is nie. Hy het boonop vir ’n tydperk saam met sy biologiese ma op straat gewoon.

“Die pad wat ons met ons seuntjies stap, is glad nie maklik nie. Met die Here se genade het die oudste seuntjie kogleêre inplantings gekry en kan hy vandag 85% hoor, maar ons sukkel met sy spraak.

gelukkige Kinders_stiltetyd.jpg

(Foto ter illustrasie: pixabay)

“Hy moet elke week twee sessies spraak- en arbeidsterapie ontvang. Die jongste seuntjie het AAHS en sukkel vreeslik met selfvertroue en om nuwe mense in sy lewe toe te laat – ook hy moet spraak- en arbeidsterapie ontvang. Hulle is albei in ’n private skool waar die klassies klein is sodat hulle die nodige ekstra aandag vir hul onderrig kan kry.”

Die kinders het ook swak immuunstelsels en word maklik siek.

Sy sê ondanks hul uitdagings is hulle baie liefdevolle kinders – hulle vereis net meer liefde en aandag.

“Ek glo regtig dat ’n mens uitverkies word om ’n pad met aangenome kinders te stap. Dit verg opoffering, motivering en die ondersteuning van familie en vriende.”

’n Onwankelbare band

Marené Pieterse (31) is as baba aangeneem, en sê dat sy haar aanneemma, Debbie Erasmus (59), as haar eie bloed beskou.

“Ons het ʼn pragtige verhouding. Sy is my rots en my rolmodel. Ek dink nie ons sal sonder mekaar kan lewe nie. In my oë is ek haar eie kind.

“Buiten my ma het my familie my 100% as hul eie aanvaar. Ek weet ek is my ouma en oupa se oogappel en ek is ongelooflik lief vir hulle. Dieselfde met my tannie, oom en neefs. Ek is dankbaar vir my biologiese ma dat sy dapper genoeg was om my vir iemand te gee wat graag ’n kind wou hê. Ek dink dit moes ’n groot besluit gewees het.”

Pieterse meen aanneming is ’n groot voorreg vir sowel aanneemouers as kinders.

“Aanneming is net die manier waarop jy jou kind kry, maar daarna is dit die ouer en kind se voorreg om ’n doodgewone lewe te hê. Dit is waar die mooi vir my lê.

“’n Mens dink nie heeldag en aldag dat jy aangeneem is nie. Dis soos om te sê jy’s links of regs. Dis interessant, maar dit maak nie saak nie, want jy kan nog steeds skryf.”

Sy sê aanneming definieer nie die diepte en gehalte van die verhouding tussen ’n ouer en kind nie. “Ek weet ek het ’n baie beter verhouding met my ma as wat baie van die mense om my met hul biologiese ouers het.

“Ek dink die groot geheim was dat ek van kleins af geweet het ek is aangeneem. My ma het my toegelaat om dit op my eie manier te verwerk of te verstaan. Sy het al my vrae beantwoord en nooit iets snaaks daarvan gemaak nie.”

Pieterse is vandag self ’n ma van een, met nog ’n baba op pad. Sy en haar man, Stefan, verhuis binnekort van Pretoria na Robertson in die Wes-Kaap.

Ander maniere om ʼn verskil te maak

De Caires sê daar is verskeie maniere waarop mense ʼn verskil in ʼn kind se lewe kan maak, sonder om aanneming te oorweeg.

“Jy kan ʼn kind borg, of op verskillende maniere by kinderhuise of welsynsorganisasies betrokke raak. Daar is baie moontlikhede. Mense kan ook deur ʼn keuringsproses gaan om kinders in pleegsorg te neem. Dié kinders word gewoonlik vir ʼn tydperk by pleegouers geplaas met die oog daarop om na hul biologiese ouers terug te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.