Aanranding- en moordsaak uiteindelik in hof

Ruan Coen en Jessika Kennedy.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in twee afsonderlike sake persone in die Pretoriase landdroshof ondersteun ná ’n lang stryd om dié twee sake eindelik voor die hof te kry.

Ruan Coen en Jessika Kennedy

Die beskuldigde wat aangekla word op twee klagtes van die moord op Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) het egter nie by die hof opgedaag nie en die polisie gaan nou aansoek doen om ’n lasbrief vir sy arrestasie.

Die beskuldigde in die eersgemelde saak het op 23 Desember 2017 gebots met die motor waarin Coen en Kennedy gery het, en Coen en Kennedy is op slag dood. Die dossier teen die beskuldigde – wat tydens die ongeluk vermoedelik dronk en onder die invloed van dwelms was – het na bewering by die Silverton-polisiestasie verdwyn. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het saam met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak en sersant Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak gewerk om die dossier weer op te bou sodat die beskuldigde vervolg kon word.

Sanette Erasmus

Lizzie Kganyago het vir die tweede keer verskyn op onder meer ’n klag van die aanranding van haar polisiekollega Sanette Erasmus by die Wierdabrug-polisiekantoor. Die saak teen Kganyago is uitgestel vir pleit en verhoor tot 17 Mei 2021.

Kganyago het na bewering vir Erasmus, ’n senior administrasiebeampte van die SAPD, in Oktober 2019 herhaaldelik met die plat hand teen die kop en in die gesig geslaan, rondgestamp en op die grond platgedruk. Dit het gebeur nadat Erasmus vir Kganyago daarop gewys het dat sommige van die dokumente wat Kganyago aan haar oorhandig het om te verwerk, nie na behore in die register opgeneem is nie.

Die beweerde aanranding het plaasgevind in die kantoor van ’n senior polisieoffisier, wat versuim het om tussenbeide te tree. Erasmus het die voorval dadelik by die stasiebevelvoerder aangemeld, waarna hy Erasmus en Kganyago na sy kantoor ontbied het. Na bewering het Kganyago egter in die teenwoordigheid van die stasiebevelvoerder vernederende opmerkings teenoor Erasmus gemaak en haar gevloek. Kganyago word ook van crimen injuria aangekla.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Erasmus gehelp om strafregtelike klagtes teen Kganyago te lê nadat die polisie aanvanklik geweier het dat sy klagtes lê.

Nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangedui het dat hulle Kganyago nie gaan vervolg nie, het die privaatvervolgingseenheid Erasmus in Maart 2020 gehelp om aansoek te doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat om Kganyago privaat te vervolg. Nadat die aansoek ontvang is, het die NVG onverwags aangedui dat die saak nog ondersoek moet word. Die NVG het uiteindelik in Februarie 2021 (meer as twee jaar ná die voorval) aangedui dat hulle Kganyago wel vir die aanranding van Erasmus gaan vervolg.

Die eenheid het Erasmus ook ondersteun om diensklagtes teen Kganyago by die provinsiale polisiekommissaris in te dien, asook teen die stasiebevelvoerder en die senior polisieoffisier wat die beweerde aanranding aanskou het, omdat geen dissiplinêre optrede gevolg het nie. Die dissiplinêre verhoor is egter van die hand gewys, omdat die SAPD beweer dat dit nie ’n dissiplinêre verhoor kan aanhoor terwyl die strafregtelike saak aan die gang is nie. AfriForum is steeds besig om druk op die SAPD te plaas om te verseker dat die dissiplinêre verhoor wél voortgaan.

“Dié twee gevalle bewys weer eens waarom die bestaan van ’n eenheid soos AfriForum se privaatvervolgingseenheid onontbeerlik geword het in die geveg vir geregtigheid,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Sonder die eenheid se ingryping en ondersteuning sou hierdie twee sake eenvoudig verdwyn het en die beskuldigdes sou geen gevolge vir hul dade in die gesig moes staar nie. Ons sal voortgaan om hierdie sake te moniteer en die slagoffers te ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

“Our people” word mos beskerm en niks word gedoen om hulle te laat boet vir hulle dade. Dis die rede hoekom als in die land uitmekaar val. Wette geld net vir blankes

Cd ·

Afriforum is n hulp vir die wat geboelie word.
Dankie vir julle bystand in n onregverdige
Suid Afrika

Jack ·

Ons sal self en moet self. Op die vyand van geregtigheid kan jy nie steun nie. Hou so aan Afriforum.

Ian ·

Dit het nou maar weereens lig gewerp op die etiese gedrag van lede en tot watter vlakke hulle sal gaan om dit toe te smeer. Absolute rassistiese gedrag is nou maar weer blootgestel.

Adri ·

Ek is al so moeg om telkens weer en weer te verneem hoedat sekere mense se onregmatige optrede eenvoudig onder die mat ingevee word, terwyl andere net een verkeerde woord moet uiter en dan op slag in die tronk gegooi word. Iewers, êrens moet geregtigheid begin geld, sowaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.